Klag teen polisie ná voorval by Hennie’s-kuierplek

Die eienaar van Hennie’s-restaurant het die klagte aanhangig gemaak nadat van die drankvoorraad glo voete gekry het. (Foto: Facebook)

Die eienaar van Hennie’s Restaurant het Woensdag ʼn klagte by die Garsfontein-polisie in Pretoria ingedien nadat drank van die kuierplek waarop die polisie beslag gelê het, glo verdwyn het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn klant het in Januarie in die restaurant in Moreletapark ingekom en die kroegman gevra om vir hom ʼn alkoholiese drankie te bedien. Ingevolge die afsonderingsregulasies was restaurante in daardie stadium verbied om alkohol te bedien.

Die kroegman het dit duidelik gestel dat die restaurant nie drank verkoop nie, waarna die klant ʼn nie-alkoholiese jenewer bestel en aangedring het dat die kroegman dit vir hom moet “lekker” maak. Die kroegman het vir die klant ’n nie-alkoholiese drankie ingegooi en bedien.

Twee polisiebeamptes in siviele drag het daarna ingestorm en aangevoer Atrayo Nolte, die restaurantbestuurder, het ʼn alkoholiese drankie aan die klant te bedien.

Ten spyte van Nolte se versekering dat dit nie die geval is nie – en selfs nadat hy fakture voorgelê het wat wys die drankies bevat geen alkohol nie – het die beamptes geweier om dit te aanvaar.

Die burgerregtegroep AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Werner Pretorius, eienaar van die kuierplek, nou gehelp om klagtes van bedrog en diefstal teen die beamptes aanhangig te maak.

Die klagte is by die Garsfontein-polisie in Pretoria ingedien. (Foto: AfriForum)

Die eenheid sê die beamptes het ná die voorval “onregmatig en irrasioneel” beslag gelê op alkohol ter waarde van duisende rande. Nolte is na bewering ook onregmatig in hegtenis geneem op die bewering dat hy tydens die drankverbod steeds alkohol verkoop het.

Die restaurant se alkoholvoorraad is dae lank deur die Garsfontein-polisiestasie in bewaring gehou, selfs nadat die Nasionale Vervolgingsgesag alle klagtes teen Nolte laat vaar het.

AfriForum sê die voorraad is ná Pretorius se eerste konsultasie met die privaatvervolgingseenheid terugbesorg.

Sommige bottels drank se inhoud is boonop glo met tee vervang.

Rikus de Beer, beter bekend as Jonathan van Radio Raps en franchise-eienaar van die Hennie’s-restaurante, sê ʼn klant het vroeër vir hom ʼn direkte boodskap op sosiale media gestuur en gesê “die brandewyn en Coke proe soos tee”.

Die bestuurder by die betrokke restaurant het ook van die drankie geproe – en daar was beslis fout, sê De Beer.

Hy sê ook Pretorius het sy volle steun in die saak.

De Beer sê by die Hennie’s-restaurant in Krugersdorp het polisielede ook kort nadat die laaste drankverbod aangekondig is, by die kuierplek opgedaag. Hy het die eienaar kort tevore aangeraai om die drank na ʼn veilige plek te skuif om daar gestoor te word, toe die polisie aankom en beweer hulle het ʼn “wenk” gekry dat die restaurant drank strydig met die bepalings verkoop.

“Ek dink regtig daar is ernstiger dinge om oor bekommerd te wees as om te kyk of iemand sy eie drank veilig toesluit.”

Rikus de Beer, oftewel Jonathan van Radio Raps (Foto: Verskaf)

De Beer sê sommige klante het tydens die drankverbod wél kanse gevat en gevra vir alkoholiese drankies. Hennie’s se restaurant-eienaars het dit egter duidelik gemaak dat hulle nié drank bedien nie.

“Ons is ʼn lekker handelsmerk vir mense en ons kan nie bekostig om ons dranklisensies te verloor nie. Die ouens vat kanse en vra vir iets ‘lekker’, maar ons gaan nie vir jou brandewyn in ʼn teekoppie gooi nie. Ons hou by die reëls.

“En hierdie ouens het reël nommer een gebreek,” het hy oor die polisieoptrede gesê met verwysing na een van Radio Raps se bekende grappies.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, sê dit is die soveelste geval van polisiemagsmisbruik waarby die eenheid betrek word.

“Verskeie slagoffers het ons nou al genader om hulp nadat hulle onregverdig en onbillik deur die polisie behandel is. Wat uiters skokkend is, is dat dit nie lyk of daar enige gevolge is vir polisiebeamptes wat hulle skuldig maak aan kriminele optrede nie.

“Dit kan nie geduld word nie.”

Die eenheid sê hy gaan die polisie se hantering van die saak fyn dophou om te verseker daar word teen enige skuldiges opgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Gaan GROOT Gerrie hierdie klomp dink mos hulle is so slim en magsbehep gggmmmfff! Lekker al die drank uit gedrink, want dis waar hulle in lockdown drank vir mahala kan kry!

Kom hoed wat het jy te sê van jou en jou mense?

Misky ·

Hoe dom kan jy wees om te dink jy gaan wegkom met tee in die drankbottels????

JohanR ·

Soe die polisie en die “klant” het ‘n plan saam gemaak?

Sêmanet ·

Te toevallig dat die Polisie instorm net nadat die klant gevra het vir iets lekker.

Alp ·

Hoed, kan ons jou kommentaar kry asb. Dit klink vir my van jou manne is ‘n bietjie dors.

jzjz05 ·

Ek het ook al gehoor waar polisie en verkeers mense wat wit mense dreig met ons gaan van jou n voorbeeld maak

Adri ·

Wanneer jy drank met tee vervang, moet jy tog die prop se seël breek. Het die ouens dit nie gesien nie?

Vernon ·

Dit gebeur omdat dit n wit eienaar is. Dis tyd dat ons wittes begin wakker word. Niemand gaan aangekla word of afgedank word nie.

Regverdigheid ·

Polisie is deesdae net so korup … hul maak dat die goeie polisie se naam deur modder gesleep word… tree op maak van hulle n voorbeeld hul wil doen wat hul wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.