Klag teen SA regering oor taalregteskending

verenigde-nasiesʼn Groep individue en organisasies het ʼn klag oor ernstige taalregteskending teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekomitee ingedien.

Prof. Hennie Strydom, die groep se woordvoerder, het gesê die klag volg weens die onbeskikbaarheid van nasionale wetgewing in al 11 amptelike tale.

“Die taalregte-aktivis en prokureur Cerneels Lourens, het dié kwessie sonder sukses in die Suid-Afrikaanse howe gevoer, waarna voortgegaan is om ʼn komitee saam te stel om die saak na die VN se Menseregtekomitee te verwys. Die voorvereiste vir sodanige verwysing is dat alle interne staatlike remedies sonder sukses uitgeput moet word, soos wat in hierdie geval gebeur het,” het Strydom in ʼn verklaring gesê.

Strydom, ʼn internasionale regsgeleerde en vroeër ook ondervoorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, is as voorsitter en leier van die span aangewys. Dr. Danny Titus van die ATKV, wat diens by ʼn subkomitee van die VN se Menseregtekomitee gedoen het; Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum; adv. R.J. de Beer van die Sandton-balie; oudregter William de Villiers; taalaktivis Khetihwe Marais; Werner Human van die firma Hurter Spies Ingelyf, prokureur van AfriForum en lid van die VRA-bestuur; en Lourens as klaer het die verwysingsdokument voorberei.

Volgens Strydom was daar teen 31 Januarie vanjaar reeds 166 hoofwette wat nie in Afrikaans beskikbaar is nie. Daarbenewens is daar 65 wette wat sedert 1994 deur ander wysigingswette gewysig is, maar die Afrikaanse tekste is nie daarmee saam gewysig nie. Daar is tans meer as 300 stukke nasionale wetgewing wat nie meer volledig in Afrikaans beskikbaar is nie.

“Dít is bevind deur Kallie Pauw, voormalige sekretaris van die parlement en tans werksaam by Juta, in ’n verslag wat hy aan die komitee beskikbaar gestel het. Hy het pas sy verslag van Maart 2014 tot 31 Januarie 2017 bygewerk, aangesien sy aanvanklike verslag deel van die hofstukke van die gelykheidshofsaak was. Die ander nege inheemse tale word lukraak gebruik om as tweede vertaaltaal vir parlementêre wetgewing aangewend te word.”

Strydom het gesê die VN se Menseregtekomitee moet nou beslis of daar prima facie-meriete in die aangeleentheid is en as dit toeganklik is, moet die Suid-Afrikaanse regering binne ses maande sy antwoord hierop voorlê.

“Sukses met hierdie vertoë sal die staat help om die verpligting kragtens artikel 6(2) van die Grondwet, naamlik om die voorheen gemarginaliseerde tale op te hef, te verwesenlik,” het hy verduidelik.

“Die koste-argument is heeltemal genegativeer deurdat die minister van kuns en kultuur in ʼn antwoord in die parlement aan dr. Pieter Mulder aangedui het wat die koste van ʼn vertaler beloop. Mnr. Pauw het op grond van die regering se deskundige se verslag met betrekking tot die vertalingstyd wat gebruik sou word, bereken dat een vertaler per taal per jaar voldoende sal wees, wat salarisgewys ’n geringe uitgawe sal meebring, maar wel tot werkskepping sal bydra.

“In die klag word remedies voorgestel waaronder die versoek dat alle nuwe Suid-Afrikaanse nasionale wetgewing binne ’n redelike tyd ná aanvaarding van die aanvanklike wetsontwerp in al 11 amptelike tale vertaal word, asook dat die nievertaalde wetgewing geprioritiseer word om dan ook binne ʼn tydperk van vyf jaar vertaal te word.”

Hy het gesê die Suid-Afrikaanse howe is dus nie die laaste uitweg vir Suid-Afrikaners wanneer hulle regte geskend word nie. “Gegewe die onlangse anti-Afrikaanse uitsprake in die howe, sal die regbank waarskynlik meer versigtig moet wees om taalregte nie net vanuit ʼn ‘politieke’ oogpunt te benader nie.”

Sien die volledige verwysingsdokument hier: https://drive.google.com/open?id=0BzTnPjXEazXObGlNdTNPZUQ4MFE

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

André ·

Dankie dat daar nog Vegters is vir AFRIKAANS en Suid Afrikaner Mense in geheel! Mag ons Almagtige Skepper van Hemel en Aarde met Dié Saak wees!
SHALOM! ☝

JC ·

Mooi julle, dankie. Julle is bevonk;)
Dus het ons verdere remedies wat betref die handhawing van onderrig in Afrikaans by staatsuniversiteite. Die howe moet dus nie dink dat hul met hul politiekery gaan wegkom nie. Indien ons nie geregtigheid ontvang nie sal ons die saak na die VN toe neem!!!!!!!
ONS.SAL.NIE.GAAN .LE.NIE.
“spiteful people only spite themselves”

Maya Roon Joubert ·

Dank Vader daar is nog mense wat veg vir regte! Ek staan saam vir Afrikaanse taal geregtigheid!

Ada ·

Dit maak ons saak net sterker want nou kan hulle sien met wat ons hier sit as president.

Japie ·

Eks bevrees al wat hulle sal regkry (as daar iets van sal kom) is dat Engels tot die enigste amptelike taal verklaar sal word.

Arno ·

Ons moet aanhou veg vir ons reg wat ons as suis afrikaners het meer en meer mense moet saamstaan dan sal dit beter gaan met die ontwikkeling van n beter suid afrika dankie vir die kleinhandie wat reeds omgee en iets doen en se elke woord en goeie daad moet versprie word dankie

lw ·

Gaan jul die grondonteieningsaak en plaasmoorde ook VN toe neem?
Dankie Afriforum! Saam raak ons sterker.

jaco ·

al hierdie afrikaanse mense wat so kla oor die miskenning van Afrikaans en vervanging van alles met Engels, laat my dink hulle is dom en kan nie Engels verstaan nie. Lag eerder in julle mou dat Afrikaans, ‘n soganaamde koloniale onderdrukkerstaal, maar net met Engels, ‘n ander sogenaamde koloniale onderdrukkerstaal vervang is. En wees bly die algemene taal in SA word Engels. WAT sou julle gemaak het as dit Zulu en Tswana was? Daars in elk geval groter goed om oor te kla by die VN en ander plekke: PLAASMOORDE se gevolge is veel meer tragies as om Afrikaans vir Engels te verruil. Om bloot gedwing te word om nie meer jou eie taal te praat nie, laat jou nie vermink of dood agter nie.

Kwaaikie ·

Dankie tog. Ek dog ek is al een wat so voel? Daar is veel erger dinge in hierdie land aan die gang as ‘n paar wette wat net in Engels beskikbaar is. Maak dit regtig saak? Solank ons Afrikaans praat, sal dit voortbestaan. Spandeer eerder julle energie op waardige sake.

Cherokee ·

Ek sien name soos diê van Cerneels Lourens wat vir Afrikaans veg. Dankie Cerneels en komitee, baie dankie. Julle is besig met groot dinge!
Voor ek die name gesien het, het ek gedink dit is Helen Zille wat Afrikaans verdedig by die Verenigde Nasies.

Janneman ·

Ek wonder of die VN sal belangstel dat onmin in Suid Afrika tussen mense opgestook word deur ‘n private ‘PR’ maatskappy in die V. K. Belangrike brekende nuus – sien ” Campaign to name and shame Bell Pottinger exectutives grows “. En sien bietjie wie betaal vir dit als.

Carla ·

Dankie vir jul harde werk en mag jul deursettingsvermoeë in die stryd lei tot oorwinning.

Dan ·

Mors van tyd, daar sal niks hiervan kom nie die VN voel vere vir ons. En van hierdie manne wat op die komitee is, het anderstalige werkers by hulle in diens. Hoe werk dit? Practice what you preach!

angeline ·

Ek kan ook nie lekker verstaan nie,waarom vat hulle nie al hierdie energie,tyd en geld wat dit nou gekos het,al die ewige papierwerk vlieg kaartjies ens so…gebruik dit dan vir plaasmoorde na die vn,later as ons dan op die bene is,of ooit dan werk ons aan die taal…ich

Alana ·

Beste Angeline en ander negatiewe kommentaarlewers, geen vliegkaartjies is betrokke nie, die klag word elektronies ingedien. En sedert 2009 doen AfriForum gereeld voorleggings aan die VN oor plaasmoorde. Ek het dit verskeie kere al persoonlik gedoen. Die een hoef regtig nie die ander uit te sluit nie. Ook Solidariteit het jare lank kanale gevolg om internasionaal oor die onregverdige toepassing van regstellende aksie te kla en ons begin die positiewe gevolge daarvan sien. Sukses met een kwessie help met sukses van die ander want dit inderstreep ons regering se disfunksionaliteit verder in die buiteland. Probeer gerus jou maatskappy registreer, ‘n belastingdispuut uitsorteer, of ‘n kind aanneem met wetgewing wat slegs in Engels beskikbaar is. Afrikaanse wetgewing skep ook werk vir Afrikaanse regslui. Ongelukkig besef die meeste mense eers die belang van taal as hulle nie meer hulle eie taal kan/mag praat nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.