Klag van korrupsie ná polisielede kamer deel

(Argieffoto)

Twee polisiebeamptes is Donderdag in die Middelburg-streekshof in Mpumalanga skuldig bevind op aanklagte van korrupsie. Dit volg nadat hulle saam ʼn kamer gehuur het, maar daarna bedrieglike fakture vir twee kamers ingedien het.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê die beamptes, AO Sello Tseke (38) en konst. Mokomane Tau (36), het in Oktober 2017 twee fakture ingedien nadat hulle ʼn oornagkamer gedeel het. Hulle moes eintlik slegs een faktuur vir die een kamer wat hulle gehuur het, indien.

Die saak is by die Valke aangemeld en die beamptes is in hegtenis geneem. Die beamptes is ʼn R5 000-boete opgelê of alternatiewelik tot 12 maande tronkstraf gevonnis. Hul vyfjaarskorsing by die polisie is tot vier jaar opgeskort.

Genl. Zodwa Mokoena, provinsiale hoof van die Valke in Mpumalanga, het die skuldigbevinding verwelkom en die ondersoekspan geloof vir die goeie werk.

Intussen het ʼn werknemer van die Steve Tshwete-munisipaliteit in Mpumalanga Donderdag ook in die Middelburg-landdroshof verskyn op 40 aanklagte van bedrog. Die werknemer, Sylvia Nyandeni (43), is Woensdag deur die Valke vasgetrek. Dít nadat sy glo derduisende rande van begunstigdes van RDP-huise gesteel het.

Volgens Sekgotodi het Nyandeni na bewering in Oktober 2018 aan die klaers voorgehou dat sy die mag het om gelde vir RDP-huise te ontvang. Die vermeende huise sou in Rockdale by Middelburg gebou word en Nyandeni het die klaers versoek om deposito’s te betaal voordat hulle hul huise kan kry.

“Ongeveer R700 000 is deur klaers in Nyandeni en haar medepligtige se persoonlike bankrekenings inbetaal,” sê Sekgotodi. Die medepligtige kan glo nie in die hof verskyn nie weens sy swak gesondheid.

Sekgotodi sê die bedrog is verlede jaar by die Valke aangemeld, wat tot Nyandeni se inhegtenisneming gelei het.

Nyandeni sal na verwagting weer op 20 Augustus in die hof verskyn.

Die lasbrief vir die medepligtige se inhegtenisneming is vir eers weerhou omdat hy op dieselfde datum as Nyandeni in die hof gaan verskyn.

Die Valke doen ʼn beroep op diegene wat onder Nyandeni se skelmstreke deurgeloop het om sers. Amos Mahlangu by 071 481 3069 te nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Verduidelik asseblief , hoe is dit moontlik dat korrupte polisie beamptes met ‘n kriminele rekord deur ‘n hof geskors word . Hoekom is hulle nie summier afgedank nie ???????????

Danie ·

Die voorskrifte is duidelik dat ‘n polisiebeampte nie ‘n kriminele rekord mag hê nie.
Slegs indien hierdie saak deur iemand soos Afriforum of die DA opgevolg word sal iets gebeur.
Die comrades beskerm mekaar en hierdie manne gaan nie vanself loop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.