Klag van seksuele teistering teen DA se Msimanga

Solly Msimanga (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Die DA sê hy neem kennis van die bewerings van seksuele teistering wat teen die tussentydse leier van die DA in Gauteng, Solly Msimanga, gemaak is.

Die bewerings het aan die lig gekom nadat Nkele Molapo, ʼn DA-lid van die Gautengse wetgewer, op 3 Oktober ’n klag van seksuele teistering teen Msimanga ingedien het. Die klag is ingedien vir ʼn voorval wat volgens haar ses jaar gelede plaasgevind het.

Mike Moriarty, provinsiale voorsitter van die DA in Gauteng, sê die klag word tans intern hanteer.

“Aangesien die voorval jare gelede plaasgevind het, laat die tydsberekening van die aanmelding van hierdie voorval vrae ontstaan oor hoe waar die klagte is. Verder moet daarop gelet word dat die klaagster (Molapo) tans aan ʼn ernstige tugverhoor onderwerp word,” sê Moriarty in ʼn verklaring van die DA.

“Ons het vertroue in ons interne prosedures en dat dit kan vasstel wat gebeur het en of die bewerings waar of vals is.”

Moriarty sê die party verwelkom ook die feit dat Msimanga homself onderwerp het aan ʼn volledige ondersoek. Hy het ook ingestem om ’n leuenverklikkertoets te ondergaan waarvan die uitslag aan die publiek beskikbaar gestel sal word.

Msimanga het op sy beurt ʼn klag van crimen injuria teen Molapo ingedien.

Nadat die DA sy verklaring uitgereik het, het Molapo in ʼn afsonderlike verklaring haar misnoeë met die DA se hantering van die klag te kenne gegee. Sy het gesê sy gaan die klag wat sy intern aanhangig gemaak het terugtrek en dan ʼn amptelike saak van seksuele teistering by die polisie aanhangig maak.

“Hoewel ek my vertroue op ons interne prosedures geplaas het, voel ek nie meer dieselfde daaroor nie. Ek het besluit om eerder ʼn saak by die polisie in te dien in die belang van geregtigheid en regverdigheid,” sê Molape in haar verklaring.

“Pleks daarvan om my klag te erken en my te verseker dat hulle ʼn deeglike ondersoek sonder vooroordeel sal doen, het my party verkies om die beskuldigde in kennis te stel daarvan,” sê Molapo.

Molape sê sy het Vrydag aan die partyleierskap geskryf dat sy ongemaklik voel om ʼn byeenkoms van die party, wat die volgende dag sou plaasvind, by te woon weens die moontlikheid dat die beskuldigde (Msimanga) dit ook sou bywoon.

“Die party het vinnig my verskoning om nie die aangeleentheid by te woon nie aanvaar en verkies dat die beskuldigde eerder as ek die geleentheid bywoon.”

Sy sê sy gaan ʼn brief aan die speaker van die Gautengse provinsiale wetgewer rig om haar ongemak te kenne te gee om vergaderings en aangeleenthede van die party saam met Msimanga by te woon.

Sy sê sy sal ook regsadvies inwin en gaan nie enige medianavrae beantwoord nie.

Molape sê sy is ook teleurgesteld oor die DA se verklaring waarin hy die tydsberekening van die klag bevraagteken. Sy is ook ontevrede daarmee dat die DA Msimanga se klag van crimen injuria bekend gemaak het.

“Die minste wat ek verwag het, was dat my party neutraal sou bly en my en Msimanga aan ʼn deeglike en onbevooroordeelde verhoor sou onderwerp. Ek betwyfel nou met goeie rede die billikheid van die verhoor.”

Molapo sê in haar verklaring ook dit is nie ʼn geheim nie dat sy daarvan beskuldig word dat sy vertroulike inligting van die DA aan die EFF-leier Julius Malema uitgelek het. “Ek het myself aan alle interne prosesse onderwerp en gedissiplineerd gebly tydens die twee jaar waarin hierdie saak aan die gang was.”

Moriarty doen ʼn beroep op die publiek om vir die finale bevindings van die ondersoek te wag voordat enige uitsprake of gevolgtrekkings daaroor gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Belinda ·

Polities gedrewe, DA maak maar eers seker, hoekom sal sy na 6 jaar eers uitkom, noudat hy die tussentydse gauteng leier is. Elkeen wil sy pond vleis hê, sy soek easy money, die opposisie soek skandes teen hom. Maak maar net eers seker

Persheks Adri ·

Hoekom 6 jaar wag voor jy ‘n klag in dien? Iets klink af… Klink vir my soos wraak ek kan verkeerd wees

Dries ·

Ja nee. Kruisig my maar as ek ‘onsensitief’ voorkom, maar ek kan nooit verstaan waarom al hierdie tipes klagtes altyd jare, en soms dekades later eers gele word, baie keer op kritieke oomblikke in die beskuldigde se lewe nie.

Daleen ·

Waar EFF betrokke is….. Hoop vir haar part sy word nie gebruik as ‘n pion nie.

Casper ·

Hallo jou slim kind.Toe jy sien jy gaan nie by die DA regkom nie toe trek jy die saak terug want jy weet jy het gelieg.Nou hardloop jy polisie toe want hoedman het mos gese geweld teen vroue…………….Hoekom mag hy nie ‘n saak van crimen injuria teen haar open nie.Ses jaar later.Ag siestog.En jy moet nog vehoor ward.

Andre ·

Nee Wat enige DA kommentaar of opinie is nie eers werd om te lees of skryf nie.Die DA kan maar deure toemaak en ‘n stil dood sterf.Ons sal die DA nie mis nie.

Mariana ·

As jy iemand van iets beskuldig moet daai persoon mos weet daarvan, hoe anders kan saak ondersoek word en as die klag waar is hoekom nie lankal by polisie aangemeld nie. Nee hier is slang in gras………6 jr lang tyd om stil te bly en as sy enigsins iets te doen gehad het met EFF dan sal ek ook maar liewer hierdie saak deeglik ondersoek. Daai slange is nie te vertrou nie.

Dries ·

Karakterlose politici in ons politiek. Beginsels en skaamtelose norms is aan die orde van die dag. Wat verwag ons meer van SA

Sarel ·

Hoekom Interne Ondersoek. Dan gaan julle beskuldig kan word van tiesmeerfery

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.