Klag van tronkmarteling by MRK ingedien

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Klag teen die departement van korrektiewe dienste se noodveiligheidspan (EST) is by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien nadat gevangenes by die St Albans-korrektiewe sentrum in Port Elizabeth glo geskok, aangerand en gemartel is.

“Die EST het glo op 2 en 3 Maart 200 gevangenes deursoek vir gesmokkelde items,” het Isaac Mangena, woordvoerder vir die MRK, Donderdag gesê. “Tydens die soektog is ʼn hele aantal gevangenes na bewering met skokstokke geskok, aangerand en gemartel.”

ʼn Klag is ook in 2005 teen die sentrum by die Verenigde Nasies se menseregtekomitee (UNHRC) ingedien nadat plaaslike pogings oor aanspreeklikheid misluk het.

“Die klag het staatsbeamptes van growwe menseregteskendings beskuldig,” het Mangena bygevoeg. Suid-Afrika het vyf versoeke deur die UNHRC ignoreer om op die bewerings ag te slaan en is gevolglik skuldig bevind aan menseregteskendings.

“Die amptelike ondersoek deur die Suid-Afrikaanse owerhede oor die voorval in 2005 is nog steeds nie afgehandel nie,” het Mangena gesê. “Die MRK veroordeel hierdie tipe optrede, veral nadat die Wet op die Voorkoming van Martel goedgekeur is en ná die skuldigbevinding van die UNHRC teen Suid-Afrika.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.