Klagte by MRK teen minister ná kind in puttoilet sterf

(Foto: Shutterstock)

Die DA het ʼn klag teen die minister van basiese onderwys en haar departement by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien ná die dood van die driejarige Unecebo Mboteni in ʼn puttoilet.

Unecebo het by die Little Champions-dagsorgsentrum in Mdantsane in Oos-Londen in die puttoilet geval.

Baxolile Nodada, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, sê die onnodige sterfte het gebeur weens die regering se traak-my-nie-agtige houding jeens die verwydering van hierdie toilette. Die klagte by die MRK is ʼn poging om ʼn bevel te verkry dat min. Angie Motshekga en die departement die mees basiese menseregte van burgers skend.

Die Grondwet verskans die reg op lewe en waardigheid en beskerm die regte van alle kinders. Dit sluit die lewering van basiese dienste in, sê Nodada.

“Ongelukkig was klein Unecebo ʼn slagoffer van die totale mislukking van die departement om hierdie regte te handhaaf,” sê Nodada.

Hy meen die voorval kon voorkom gewees het as die regering puttoilette verwyder het.

Nodada sê ook die departement was deurlopend oneerlik oor planne vir die verwydering van puttoilette in provinsies soos KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Limpopo. Motshekga het verlede jaar in antwoord op ʼn parlementêre vraag deurlopend die teikens aangepas en was op die agtervoet toe sy hieroor gevra is.

Die DA het verlede jaar ook met regstappe teen die minister gedreig ná die dood van die driejarige Langalam Viki, ook in die Oos-Kaap. Langalam het ook in ʼn puttoilet verdrink. Haar dood het tot op hede nog geen optrede tot gevolg gehad nie.

“Die onlangse sterfte is nog ʼn strak bevestiging dat die ANC-regering eenvoudig nie omgee nie en beklemtoon sy manipulasie van mag vir politieke gewin,” sê Nodada.

Die DA beplan intussen ʼn oorsigbesoek na die sentrum.

“Geregtigheid vir hierdie afgryslike en voorkombare voorvalle is nie onderhandelbaar nie,” sê Nodada.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Casper ·

Motshekga het haar plig versuim en is direk verantwoordelik vir hierdie sterftes.Is daar ‘n minister wat sy of haar werk toegewyd uitvoer inbelang van SuidAfrikaners.Hulle voel vere want hulle het net die beste in hulle huise.Wat sou gebeur het as dit een van hulle se kinders was of ‘n kleinkind.

domheks ·

Motshekga het haar plig versuim net soos ALLE KADERS! Sit die stoel lekker warm want die ‘pay’ kom mos die end van die maand.

Jannie ·

Natuurlik sal die regering dit nie verwyder nie, want solank as wat hul stemmers onder haglike omstandighede woon, kan hul staatmaak op hul stemme deur ‘beloftes van ‘n beter lewe onder die ANC”.
Gee kos en gee blyplek, kry jy ‘n tevrede burger wat dalk sal rondkyk na wie om voor te stem.
Ons is gedoem om die siklus te herhaal en te herhaal.

Amelia ·

Ek kan nie verstaan sulke goed gebeur maar steeds stem mense vir die anc

Grassie ·

Die skuld lê nie by die minister nie maar by die ouers of toesighouers van die kind. In plattelandse gebiede is dit die enigste toilet wat werk. Die peoples kan nie ‘n openbare spoeltoilet in stand hou nie. Hulle gooi goed daar in wat dit laat verstop met smerige gevolge.

Ek het op my plaas ‘n longdrop gehad so entjie van die huis af onder ‘n koelteboom. Ek het dit verkies bo die spoeltoilette in die huis. Dit moet net netjies en skoon en higiënies gehou word. My enigste probleem was my ander helfte. Wanneer sy reken dat ek nou rustig verkeer het sy ‘n klip op die dak gegooi.

Di ·

Na 30 jaar is die meerderheid NOG SLEGTER af maar trek steeds die kruisie vir die ANC. Grants is die enigste manier om hulle stemme te hou en verder word NIKS verander aan hulle omstandighede. APARTHEID word steeds blameer na 30 JAAR waar die korrupte ANC die land regeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.