Klagte ingedien oor bloed in rivier

Die foto wys hoe bloed van die abattoir af in die rivier in vloei. Foto: FAcebook

Strafregtelike klagte is ingedien teen die munisipale bestuurders van die Waterberg-distriksmunisipaliteit en die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit nadat bloed in die Nylrivier beland het.

Die Nylrivier vloei verby Modimolle (Nylstroom) en Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo. Die klagte spruit voort uit ʼn situasie waar ʼn abattoir, wat die distriksmunisipaliteit van die plaaslike munisipaliteit huur vir afvalverwerking, onder meer bloed in die Nylrivier gestort het, volgens Marcelle Maritz, leier van die VF Plus in Limpopo.

Die VF Plus het strafregtelike klagte teen die distriksmunisipaliteit, die plaaslike munisipaliteit en die bestuurder van die munisipale abattoir ingedien.

Die foto wys hoe bloed van die abattoir af in die rivier in vloei. Foto: FAcebook

Foto’s en video’s word wyd op sosiale media versprei wat wys hoe bloed in die rivier vloei. “Dit is ʼn walglike situasie en totaal onaanvaarbaar. Dit skep ʼn skrikwekkende gesondheidsrisiko vir mens en dier en is ʼn blatante oortreding van die Nasionale Waterwet en verskeie ander omgewingswette,” sê Maritz.

Die VF Plus sal ook die minister van water en sanitasie, Gugile Nkwinti, versoek om dadelik in te gryp en strafmaatreëls in te stel om die situasie te beredder.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het intussen gesê sy sal met distriksmunisipaliteit en die bestuur van die abattoir in gesprek wees aangesien daar gereeld rioolblokkasies is naby die fasiliteit.

‘n Werker van die plaaslike munisipaliteit. Foto: Facebook

“Die abattoir is in die nywerheidsgebied geleë en word besit en bedryf deur die distriksmunisipaliteit.” Van Staden het intussen gereël dat die verstopping in die rioolpype opgeklaar word.

Volgens Van Staden moet daar nuwe filters by die abattoir geïnstalleer word vir die normale vloei van riool deur die stelsel. Sy glo die installasie van die filters en gereelde skoonmaak daarvan sal toekomstige blokkasies en lekkasies verhoed.

Die munisipaliteit se rioolstelsel kan nie “vreemde voorwerpe” hanteer nie en die hoofoorsaak van die blokkasies moet aangespreek word, het Van Staden gesê.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit word deur ʼn DA-koalisie bestuur. Dié munisipaliteit is verlede jaar onder administrasie geplaas weens finansiële probleme.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Wat wou... ·

Hoekom pla dit enige iemand? Chaos en wan orde is mos die nuwe normaal – anything goes in SA!

ZAR ·

Is dit die eerste van die 10 plae? Die Nylrivier wat in bloed verander.
Dis asof dit net te toevallig is om werklik toevallig te wees.

Rioolgat ·

En wat van yslike gat (dam) wat deur die munisipaliteit ‘n skamele 80 meter van die huise en slegs 10 km van die klein Nyl gegrawe is in Nylstroom? Rou riool vloei daarin omdat die rioolnetwerke vir alle praktiese doeleindes nie meer bestaan nie. En die beste van alles is dat die gat nou al vol is, op die punt van oorloop! Die stank is onuithoudbaar. Terloops, dit is nie eens omhein nie. Wanneer gaan ‘n kind daarin val en verdrink?

Rioolgat ·

Jammer, korreksie. Die gat is 10 METER van die klein Nyl af, nie kilometer nie.

IK ·

Politieke partye in plaaslike regering is ‘vinkel en koljander . . . ‘

jakes ·

Roep die weermag in, hulle kan mos alles regmaak. Moenie vergeet dat SA sedert 1994 n derdewereld land is waar hierdie tipe gemors eerder die reel as die uitsondering is.

toy ·

Mens moet nooit gewoond raak aan so iets nie, want dan se jy eintlik dit is aanvaarbaar. Dit is TOTAAL onaanvaarbaar.

Stuiwer ·

Ek weet dis ‘n ernstige saak, maar ek kon nie help om ‘n tikkie humor hierin te sien nie.
Dit het my laat dink aan die 10 plae (in die Bybel) waar die NYLRIVIER se water in bloed verander het.

Natascha ·

Besef die mense dat ons net soos Kaapstad ook n water tekort in die gesig staar. Mense hou die plekke waar jul bly en die riviere skoon, ons almal is afhanklik van die water.
A nee a, ons almal is mos verantwoordelik om ons plekke skoon en netjies te hou en dit laat soos ons dit graag wil he.
Maar daar is geen trots, want als word mos verniet bekom, hoekom dan omgee om dit op te pas.

zoom zoom ·

Ek besoek gereeld die dorp vir besigheid en elke keer kan ek sien hoe die dorp verder agteruit gaan weens swak bestuur en korrupsie.

Breekpunt ·

Dit is verskriklik om al die verval, agteruitgang en vernietiging te sien wat soos pes oor SA hang. Alles weens onnoselheid, korrupsie en onbevoegdheid. Niks verbaas meer nie, nie eers riviere van rommel en bloed nie.

Mimi ·

Dit is n absolute tragiese stand van sake. N vriendin van my se man moet in Suid Afrika werk, maar sy sê sy kan nie wag om terug te gaan na hul oorsese tuiste, waar alles werk nie !’!

Rudolph van Wyk ·

Die foto het vir my weer bevestig wat die wetenskaplikes al jare gelede bewys het naamlik dat die produksie van vleis en suiwel een van die grootste oorsake is van oop- en grondwater besoedeling. Die bloed op die foto is ‘n druppel in die emmer gegewe die duisende tonne hormone en antibiotikas wat onsigbaar is. Die bedrywe is op een na die grootste bron van metaan gas wat ‘n bydraer is tot aardverwarming en gevolglike klimaatverandering wat aanleiding gee tot onder andere droogtes. Dit is teen die tyd ook welbekend dat vleis en suiwel onnodig is vir ‘n gesonde dieët aangesien alle voedingstowwe wat mense nodig het is beskikbaar in plante. Dit is terloops waarvan olifante, beeste, skape, varke, hoenders ensovoorts leef

Zelizabeth ·

Stem saam met jou Rudolph. Mense besef nie wat wat die vleisbedryf aan die omgewing en jou liggaam doen nie. Al daardie gemors en hormone wat gebruik word vergif mens en natuur. Dit is tyd om meer gesonde plantbaseerde eetgewoontes aan te kweek…vir ons planeet en gesondheid. Gelukkig het ek al lank terug vleis uit my dieet gesny en was nog nooit so gesond nie. Doen navorsing oor vleislose disse, dit is makliker en smaakliker as wat jul dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.