Klagte kom teen Noordwes-departement oor ambulansbasis

Suurstof word onder meer in ‘n stoorkamer gebêre. (Foto: DA)

Die DA in Noordwes gaan strafregtelike klagte teen talle hooggeplaastes in die provinsiale departement aanhangig maak weens die beweerde versuim om bedryfspermitte vir ambulanse by die JB Mark-ambulansbasis in Potchefstroom te bekom.

Geen ambulanse of reaksievoertuie by dié basis het tans ʼn operasionele permit nie.

Gavin Edwards, die DA-woordvoerder oor gesondheid in Noordwes, asook ʼn lid van die provinsiale wetgewer, sê die party gaan die klagte aanhangig maak teen die departement se administrateur, Jeanette Hurter, LUR Madoda Sambatha, die departementshoof, Obakeng Mogale, asook die stasiebestuurder, Solly Klaassen.

Die gebrek aan permitte het tydens ʼn oorsigbesoek van die provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee oor gesondheid aan die lig gekom.

Edwards sê die gebrek aan permitte is ʼn oortreding van wetgewing wat bepaal dat “ʼn persoon, organisasie of staatsorgaan nie sonder die nodige lisensie die dienste van ʼn nooddiens mag vestig, beheer, verander, hernoem, tydelik of permanent hervestig of verander nie”.

Edwards sê die basis het verlede jaar nie sy inspeksie geslaag nie en tot dusver is geen poging aangewend om die situasie om te keer nie.

Volgens die party word daar ook nie behoorlik van gevaarlike afval ontslae geraak nie. (Foto: DA)

“Gevaarlike afval word nie korrek weggegooi nie, wat beteken dat die ambulansbasis ook nie voldoen aan die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur en Afvalbeheer nie,” sê hy.

“Die norme en standaarde om suurstof in ʼn geïsoleerde gebied te dekanteer, is ook buite rekening gelaat, aangesien dit in die liasseringskamer gedekanteer word. Suurstof is uiters vlambaar, wat in die geval van brand alle lêers kan vernietig en die lewe van werknemers kan bedreig.”

Edwards sê die DA het al telkemale sy kommer uitgespreek oor die verontagsaming van ambulans- en nooddiensregulasies in Noordwes. Dit is onder meer by die LUR en die administrateur aangemeld.

“Die versuim van die departement om die nakoming van regulasies te verseker word as ʼn strafregtelike oortreding beskou en is by skuldigbevinding strafbaar met ʼn boete van hoogstens R500 000 of gevangenisstraf van tot vyf jaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Gaan nie die Papier werd wees wasrop gedkryf is nie dn dir Dept weet dit.

Kokerboom ·

Liewe vader mense HOEKOM laat ons die totale verval toe?????

Anoniem ·

Nou waar Gehasie het jy gesien dat daar ooit op wetgewing ag geslaan word. Ag nee man, al die reëls en wette is mos net op die Rassite van toepassing. Landswette/ Grondwet word mos herskryf net soos dit hul pas. Dissipline betaan mos nie meer nie. So What as die voorraad verkeerd gestoor word, die Ambulans basisse vuil is, dit is mos nie hul probleem nie. Daar sal mos weer ‘n rassistiese organisasie op die been gebring word om die aangeleentheid aan te spreek en alles in orde te kry. Sien alles word mos ontvang, ons ken nie van omgee vir ons medemens nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.