Klagte oor bunny chow in sooibrand-advertensie verwerp

Die advertensie waaroor die klagte ingedien is.

Die Advertensiebeheerraad (ARB) het ʼn klagte oor die gebruik van die gereg bunny chow in ʼn advertensie vir ʼn sooibrandmiddel, verwerp.

In die Facebook-advertensie vir Eno word ʼn foto van die dis saam met ander kossoorte gebruik.

Ashim Ramasar het die klagte by die ARB aanhangig gemaak en gesê hy neem aanstoot met die uitbeelding van bunny chow daarin. Hy het aangevoer die gereg het sy wortels in die dae van gedwonge arbeid toe dit gebruik is om kos te vervoer sonder dat eetgerei nodig is.

Hy het voorts aangevoer die adverteerder beeld die gereg in ʼn negatiewe lig uit en wys óf ʼn gebrek aan begrip óf ʼn blatante verontagsaming en oneerbiedigheid teenoor alle Indiërs wat voor en tydens die apartheidstyd gely het.

Ramasar het ook gesê bunny chow word nooit met sous en aartappelskyfies bedien nie en dat bunny chow nie noodwendig ʼn ongesonde maaltyd is wat gaan beteken dat mense Eno of ander soortgelyke produkte nodig gaan hê nie.

Die ARB het bevind Eno word gebruik vir die behandeling van sooibrand en spysverteringsprobleme en dat “pikante, hartlike en gebraaide kosse” bekende snellers vir sooibrand is. Dit is ook só in mediese letterkunde opgeneem.

Die raad sê sooibrand en spysverteringsprobleme beteken dat mense soms moet wegbly van sekere kosse wat die kwale kan veroorsaak. “Die advertensie probeer om ʼn voorbeeld van die snellerkosse te gee en dit word weerspieël in die foto van die bunny chow, die gebraaide skyfies, rys en pikante sous,” lui die raad se bevinding.

“Die kos in die advertensie word gereeld deur die meerderheid Suid-Afrikaners geëet, al is dit dalk van verskillende oorsprong, of vorm dit deel van verskillende kulture.”

Die raad sê voorts in sy bevinding hoewel dit jammer is dat die klaer se beskouing van die advertensie negatief is, maak dit op geen manier ʼn bespotting van die stryd teen kolonialisering en die uitwerking daarvan op die Indiese bevolking nie. Die doel van die foto was bloot om sekere kossoorte uit te beeld.

Die raad het bevind Ramasar, as klaer, het ook nie spesifiek aangevoer dat bunny chow nie sooibrand veroorsaak nie.

“Niks in hierdie advertensie verwys na apartheid, gedwonge arbeid of enige ander misbruik van menseregte nie. Dit wys ʼn gereg wat gewild geword het, in verskillende gedaantes, onder Suid-Afrikaners van alle rasgroepe en bied ʼn oplossing aan diegene wat ongemaklik voel nadat hulle pikante kos geëet het.

“Dit ontmoedig mense nie om bunny chow te geniet nie en bied inderwaarheid ʼn oplossing vir diegene wat dit gewoonlik sou vermy omdat dit newe-effekte veroorsaak.”

Die raad het bevind ʼn redelike mens sou nie die oplossing vir moontlike sooibrand wat deur ʼn bunny chow veroorsaak word met die geskiedenis van die gereg verbind nie en die advertensie word gevolglik nie as aanstootlik beskou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Dries ·

Dit is nou tipies van SA. Die oplossing is. VERVANG DIE BUNNY CHOW MET ‘N GARAGE PIE. Dan is almal gelukkig

Jan Nel ·

Neeee! Die garage pie verteenwoordig alle “abused” mans wat deur hul vrouens uit die huis gesluit word. Ek sal aanstoot neem.

Androclus ·

As ek daai bunny chow kyk sooibrand op slag.Dis hoe ek voel want ek leef met sooibrand elke dag.

Sharon ·

Gebruik heuning en kaneel vir dit. Ek het my kroniese sooibrand verwyder met dit. Dis al wat ek gebruik het in swart rooibos tea. Dis al wat ek gedrink het en dit was 2012. 2 tl heuning en 1 tl kandel. Die tee moet nie kokend wees nie, sit vernietig die helende properties vd heuning.

johanf ·

Gaan vir ń kolonoskopie, ek was soos jy…. Pilletjie per dag, 3 jaar laas sooibrand gehad….. Ken dit, hel ou vriend……myne sommer geborrel, koeksoda gebruik, en gebrul soos ń leeu….. Laat kyk asb.

Helen ·

Drink Locit elke dag. Dit kan jou so R250 n maand kos maar die moeite werd

Fedup ·

Oh my flying fig.
Really? Honestly?
Take your bunny chow and fly home.
Must be a garden gnome supporter, that one.

Janine ·

Ons eet minstens een maal per week kerrie. En JA, al die speserye GEE sooibrand! Niks met verdomde Apartheid of rassisme te doen nie. Pateet. Shame, volgende is seker pap met sous…….

johanf ·

Ek eet my KFC, en dit nogal met hulle pap en
sous…. Hahaha…..

Maritha ·

Ag hel, nie geweet daar is verskillende rasse in kos nie! Dit is nou belaglik verby. Ek is wit en love alle kos. Ons eet gereeld putupap en net so gereeld sushi. So wat maak dit my? Sulke twak steek kop uit agv ledigheid.

johanf ·

Daar sal altyd iets wees om oor te kla, wonder of Ramasar my braaivleis, potbrood, bonesop, biltong, ens, sal eet…… Ek koppel nie rassisme, koloniasering, wat ook al daaraan nie…..moes lag, Hahaha…!

Erita ·

Kla kouse sal daar altyd wees, sorg so ook gelukkig vir lekker lag????????????????????

Atta ·

Snaaks dat die EFF nog nie op hierdie bandwagon gespring het nie. Hulle is mos behep met sogenaamde rassistiese advertensies.

Spook ·

Bunny chow is ‘n gewaarborgde sooibrand. Kry sommer sooibrand deur net vir die ding te kyk. Ek moet gelyk gee, hy loop kop aan kop met ‘n garage pie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Word groot Mnr Ramasar. Dis kinderagtige poppetjors.

Mudguard ·

My buurman het probeer selfmoord pleeg deur n boks Rennies met n glas Enos af te sluk. Hulle moes hom 4 Bunny chows en 6 garage pies injaag om hom te stabiliseer.

Danie ·

Ashim Ramasar moet sommer ‘n dubbele hofonkoste rekening kry omdat hy die hof se tyd mors met sulke strooi.

AH ·

Dit is regtig die grootste klomp bog ooit!! Dit is na strooihalms gryp om een of ander punt te bewys!! Ek weet nie presies wat nie! Dit is algemene kennis dat sterk kruie in kos sooibrand en ander spysverteringsprobleme kan veroorsaak. Net so is dit alombekend dat ENO’s vir baie van die probleme help, so waar word dit nou ‘n ding om oor hof toe te gaan? Net in Suid-Afrika….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.