Klagte teen SAID-hoës laat vaar

Argieffoto

Die nasionale direkteur van openbare vervolging het besluit om die klagte teen Ivan Pillay, Andries Janse van Rensburg en Johan van Loggerenberg, wat onder verdenking gebring is in die sogenaamde geheime eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), terug te trek.

Die drie is aanvanklik daarvan beskuldig dat hulle in 2007 meeluisterapparaat in die hoofkantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Silverton, Pretoria, geplant het.

Die mans is ook aangekla van oortredings van die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie, beter bekend as Rica-wetgewing, asook korrupsie.

Pillay, Van Loggerenberg en Janse van Rensburg het vroeër die Pretoriase hooggeregshof genader vir ʼn bevel om die strafsaak teen hulle te laat vaar. Hul regsverteenwoordiger, Bernard Hortz, het in Oktober aangevoer die mans word geviktimiseer omdat hulle staatskaping probeer stuit het.

Nou het die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, wel besluit om die saak te laat vaar.

“Nadat die verdediging ʼn versoek gerig het dat die besluit om te vervolg hersien word, het die nasionale direkteur van openbare vervolging ʼn paneel aangestel om die saak te oorweeg en aanbevelings te doen,” sê die NVG in ʼn verklaring.

“Ná ʼn versigtige oorweging van al die bewyse en ander relevante inligting, het alle lede van die paneel saamgestem dat daar geen redelike kans is op suksesvolle vervolging wat een van die aanklagte betref nie,” sê die NVG. “Daarom beveel die paneel aan dat alle klagte teen die beskuldigdes laat vaar word.”

Die paneel het dié aanbevelings in ʼn verslag aan Batohi oorhandig, wat dit oorweeg het en gesprekke met die paneel daaroor gevoer het. “Die nasionale direkteur van openbare vervolging stem saam met die paneel dat daar geen kans op suksesvolle vervolging van die saak bestaan nie. Gevolglik word alle klagte teen die beskuldigdes teruggetrek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kerneels

Hoeveel miljoene se staatsgeld is vermors oor die afgelope 13 jr met hierdie onnodige heksejag? Om nie eers te praat van kaderontplooing van Abrham, Tom en Jafet (by wyse van spreke), om korrupsie toe te smeer nie.

Cherokee

Dit maak vir my sin dat die betrokke klag laat vaar is en eintlik nooit begin moes wees nie. Dit laat die vraag oop of die Zondo-kommissie enige doel dien.

Naas

Mooi. Nou kan die regte krimminele aangekla en vervolg word.