Klagte teruggetrek ná vroue-optog: ‘Polisie moet jammer sê’

Foto: Twitter via @WomenProtestSA.

Die strafregtelike aanklagte wat teen die organiseerders van die #TheTotalShutdown-optogte aanhangig gemaak is ná die optogte op 1 Augustus, is laat vaar.

Maroela Media het vroeër berig derduisende vroue het in al nege provinsies in Suid-Afrika en buite die landsgrense in Lesotho en Namibië opgeruk om deel te neem aan dié optogte teen geslagsgebaseerde geweld teen vroue en kinders.

Die optogte, met die slagspreuk, “My body, not your crime scene”, het volgens organiseerders ten doel gehad om ʼn einde te bring aan geslagsgebaseerde geweld teen vroue, kinders en die LGBTQIA-gemeenskap (lesbies, gay, biseksueel, transseksueel, queer, interseksueel en aseksueel).

Sedertdien is daar aanklagte teen die organiseerders ingedien in verband met die optog wat gehou is na die Uniegebou in Pretoria en is hulle luidens ʼn verklaring gevra om hulself aan die polisie oor te gee.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van genl. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het in ʼn verklaring gesê Sitole het die saak wat teen die vroue aanhangig gemaak is in ʼn baie ernstige lig beskou.

“In geen stadium is die polisiebestuur ingelig dat die betogers op enige manier die wet oortree het tydens of ná die optog nie. Dus vind die polisiebestuur dit verrassend dat ʼn saak van so ʼn aard aanhangig gemaak sou word. In die lig hiervan is ʼn besluit geneem om die dossier te sluit aangesien dit ongegrond is.”

Naidoo het ook laat hoor dat die minstens vier klagte wat teen die polisie aanhangig gemaak is ná betogers beweer het polisiebeamptes het tydens die betoging hul regte geskend, word ook in ʼn ernstige lig beskou en sal prioriteit geniet.

Die organiseerders van die optog het op Twitter gesê hulle meen die polisie moet hulle om verskoning vra en voorsien van die “jongste inligting wat beskikbaar is oor die sake waar ‘womxn’ by die Uniegebou deur beamptes geïntimideer en aangerand is”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

As hulle nie toestemming gehad het nie , is dit nie ongegrond nie. Die hof moet toestemming verleen , nie die polisie nie .

LV ·

Enige saak wat by die SAPD aangemeld word,behoort deeglik ondersoek word,voordat daar besluit kan word om dit as ongegrond af te sluit.Net omdat polisiebestuur nie ingelig is nie,maak dit nie n ongegronde saak nie.

Knapie ·

Verskoon my onkunde; LGBT verstaan ek, maar wat is QIA? Die afrikaanse beskrywings in die berig werp nie eers vir my lig op die onderwerp nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.