Klagtes by bankombud: Hoe vaar jou bank?

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Die ombudsman vir bankdienste (OBS) sê die meeste uitsprake (73%) wat dié kantoor verlede jaar hanteer het, is in die guns van banke beslis. Dit beteken dat die OBS in 5 846 (72,7%) van gevalle bevind het dat daar geen regs- of regverdige gronde was om ʼn klagte teen die bank te handhaaf nie.

Bankombud Reana Steyn het verbruikers wat deur hul banke verontreg is, wat verliese gely het of ernstige nood of ongerief weens ʼn bank se wanadministrasie gely het, egter steeds gevra om haar kantoor te kontak om met die dispuutoplossingsproses te help.

Die OBS het klante wat wél grondige eise gehad het, verlede jaar gehelp om eindelik ʼn gesamentlike R19 miljoen van banke terug te kry.

In 15,9% van gevalle (1 276 sake) is die bank aanspreeklik gehou vir die volle eis, terwyl banke in 4,5% van sake (363 gevalle) gedeeltelik aanspreeklik was. In 1 639 van gevalle wat verlede jaar hanteer is (20,4%), het die OBS bevind daar was ʼn mate van oortreding.

“In die sake wat ten gunste van klaers besleg is, is meer as R19 400 000 toegeken en aangebied weens die OBS se regstreekse ingryping,” sê Steyn.

In 530 sake (6,6%) wat verlede jaar hanteer is, is geen toekenning aan klaers gemaak nie. Steyn sê die OBS kon egter vir dié klaers die redes vir die uitslag verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig verlede jaar is ook gekenmerk deur ʼn noemenswaardige styging in sake.

Absa was een van die banke waar heelwat meer klagtes aangemeld is. Terwyl die bank in 2020 ʼn afname (36% jaar op jaar) ondervind het, het dié neiging verlede jaar omgeswaai.

Daar was ook ʼn menigte klagtes oor Capitec en Standard Bank, wat albei stygings van meer as 30% in die getal klagtes by die OBS ondervind het.

Groot daling by FNB

Slegs FNB het verlede jaar ʼn beduidende daling in die getal sake wat aanhangig gemaak is, ondervind.

Steyn skryf die afname in klagtes oor FNB toe aan die bank se inisiatiewe wat op uitvoerende vlak oor die spektrum van alle afdelings ingestel is, maar veral aan die dispuutbeslegtingspan wat in werking gestel is. Die doel hiervan was om die bank in lyn te bring met die beginsels om klante billik te behandel, asook om aan die Wet op die Gedrag van Finansiële Instelling te voldoen.

“Die bank het ʼn daadwerklike poging aangewend om verby die letter van die wet te kyk na die meriete van ʼn klagte en om oorwegings van regverdigheid en redelikheid toe te pas in gevalle waar die feite van ʼn betrokke saak vir sodanige oorwegings voorsiening gemaak het,” sê Steyn.

Die bank het spesiale aandag gegee aan die kwesbaarheid van sekere klante en skikkings is dikwels op grond hiervan aangegaan.

“Die benadering het beslis vrugte afgewerp vir die bank en dit het gelei tot die aansienlik laer aantal klagtes wat by ons kantoor ingedien is,” sê Steyn.

Steyn maan egter dat die aantal sake wat teen ʼn bank aanhangig gemaak word, nie beskou moet word as ʼn aanduiding van die instelling se algehele prestasie of die manier waarop hulle klagtes hanteer nie.

“Daar moet altyd in gedagte gehou word dat banke verskil in grootte, kliënteprofiel en die kombinasie van produkte wat hulle bied. In die geval van bedrog, het ons byvoorbeeld oor die jare gesien dat bedrieërs van bank na bank beweeg en ʼn spesifieke groep verbruikers teiken deur bedrieglike e-posse, oproepe en so meer.

“Al hierdie faktore beïnvloed die aantal klagtes wat teen die bank gemaak word.”

Só vaar banke

  • Klagtes oor FNB daal van 2 197 in 2020 na 1 452 klagtes in 2021 (-34%).
  • Standard Bank ondervind ʼn toename, van 1 572 klagtes in 2020 tot 2 070 in 2021 (+31,6%).
  • Klagtes oor Capitec Bank styg van 1 259 sake in 2020 tot 1 651 in 2021 (+31,1%).
  • Klagtes teen Absa styg van 943 sake in 2020 tot 1 068 sake in 2021 (+13,3%).
  • Nedbank is verantwoordelik vir 1 273 van die sake wat geopen is (+4,3%).
  • TymeBank het verlede jaar ʼn 870,8%-toename in klagtes ervaar. Die klagtes spruit uit ʼn lae basis van net 24 klagtes in 2020 tot 233 klagtes verlede jaar.
  • Klagtes omtrent Discovery Bank neem af met 26,7%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Dis kommerwekkend dat daar so baie sake by die banke is wat veronderstel is om hil kliënte se geld te beskerm.

Harley Davidson

Ek was al by Absa, Standard en Nedbank maar Capitec bly tops

Jannie van Niekerk

10 uit 10 vir FNB, Nul uit 10 vir ABSA/Volkskas, minus 100miljard uit 10 vir Standard Bank.

Herman L

Daar is ‘n groot verskil in die aantal rekeninge van die banke. Dit is dus sinloos om die aantal klagtes weer te gee sonder om die aantal rekeninge by elke bank weer te gee. Dit sou veel meer sin maak om die aantal klagtes per 1000 rekeninge weer te gee. Dan sal die prentjie waarskynlik baie anders daar uitsien.

JohanR

Hoe het Standard Bank beweeg van nie ‘n slegte bank tot seker die slegste? Moenie eers dink om eintlik jou voete BINNE in SB sit nie. Capitec is nog daar vir KLIENTE.