Klagtes gelê ná byna R500 000 vir waghuisie by skool

Promosa Secondary School (Foto: Promosa Secondary School/Facebook)

Die Demokratiese Alliansie het ʼn klag teen die departement van onderwys in Noordwes aanhangig gemaak vir die betaling van R486 000 vir ʼn waghuisie by Promosa Secondary School in Potchefstroom.

Gavin Edwards, die DA se provinsiale woordvoerder oor onderwys, het gesê die party het ook geskrewe vrae aan die provinsiale LUR vir onderwys, Wendy Matsemela, gerig om besonderhede te verskaf oor ʼn waghuisie, wat vir minder as R200 000 gebou kon word, watter proses gevolg is en waarom dié yslike bedrag betaal is.

“Die skool het ʼn ernstige tekort aan klaskamers – tot só mate dat leerders in ‘skofte’ onderrig word om die kurrikulum te dek. Ouers by die skool is ontstoke dat die departement gekies het om ʼn waghuisie te bou, terwyl daar van die kinders verwag word om in ʼn baie onveilige omgewing skool te gaan.”

Die DA het tydens ʼn oorsigtelike inspeksie by die skool gehoor dat leerders in klaskamers ingedruk word. “Tydens die finale eksamens in 2020 moes graad 11 en 12-leerders eksamen in die skoolsaal skryf wat nie behoorlike beligting het nie. ʼn Deel van die plafon het op die kinders geval terwyl hulle eksamen geskryf het,” het Edwards bygevoeg.

Die DA het in Augustus 2020 versoek dat die LUR die kwessie van asbesklaskamers op die skoolperseel sal takel. “Nou, meer as ses maande later, is daar nog geen vordering gemaak om die onveilige geboue af te breek of oplossings te vind vir die oorvol klaskamers nie. In plaas daarvan, het die departement die yslike bedrag van R486 000 op ʼn 12 m²-waghuisie betaal – sonder ʼn veiligheidswag wat aangestel is. Die koste van die struktuur het baie vrae laat ontstaan, insluitend hoe die departement ʼn bestelling op 21 Desember 2020 kon indien, hoe die bouperseel op 12 Januarie 2021 oorhandig is en die struktuur twee weke later, aan die begin van Februarie, afgehandel kon wees.”

Edwards sê dit is duidelik dat die departement nie die korrekte aanskaffingsproses gevolg het nie. “Die verantwoordelike beamptes vir dié verkwistende uitgawe moet vervolg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Debbie ·

Goeie genade, daai wag huisie kos soveel soos n klein huis met 2 slaapkamers, kombuis, badkamer en sitkamer. Wil graag sien hoe lyk die ding

SomeOne ·

r40 500 per vierkante meter, nie eers goue items sal daardie prys haal nie, wat nog gepraat van r16 666 per vierkante meter
kan my konstruksie maatskappy die tender kry

Lorette ·

Grote Griet, wat de ongeluk dink die Buitelanders van so n regering wat hul eie sakke kan volstop! Ons in Kimberley het al vir 3 dae nie water nie en dan word ‘n waghuis vir so ‘n bedrag gebou! Intussen het ons dors en kan niemand eers ‘n bad neem nie! Daarby begin die skole Maandag en het talle nog nie eens toelating tot skole nie!

Sarel ·

DA kan maar vrae vra niemand gaan die geld terug gee.
Die ANC lag vir die lekker geldmask storie. Vergeet Armes
Of kinders

Sê-mar-net ·

Ok, so wat is nuut????? Die storie van die nuwe SA. Ek is al so keelvol vir al die korrupsie! Walg my tot in my skoene!

Cecilia ·

Dis n luukse waghuisie. Met goue toilet en wasbak seker.
Dis weer n korrupte spulletjie. 1 of ander ANC TJOMIE se B BBEE pal wat d “tender” gekry het maar nog nooit in sy lewe 2 bakstene op mekaar gepak het nie. Toe huur hy n ander ongekwalifiseerde bouer. Betaal hom R25000 en druk d res in sy sak.
Wat my verstand te bowe gaan(eks seker onnosel).
Hoe betaal d Dept eers so belaglike bedrag uit sonder om 1 vraag te vra.

Hannes ·

Hierdie mense gebruik die Covid-storie om belasting geld en nood fondse te plunder. Die kamtige “nood toestand” sal bly verleng tot die belasting geld klaar is en niemand meer geld vir hulle wil leen nie.

Jakes ·

Dan word die publiek veroordeel dat hulle rassiste is wanneer hulle die ANC as kriminele uitkryt. Die spul moet tronk toe maar ons sal waarskynlik nie een sien wat gevonnis word nie.

Nico ·

‘n Wendy guard house 3m by 4m gaan vir R24,500.00 daar kon R475,500 gespaar gewees het.

fs ·

so hoe lyk die duur waghuisie? waar is fotos van die duur gedoente?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.