Die militêre hof in Heidelberg het Dinsdag aanklagte van openbare geweld teen soldate wat in Augustus 2009 onwettig na die Uniegebou opgeruk het, laat vaar.
“Die aanklagte van openbare geweld is van die hofrol geskrap,” het brig.genl. Xolani Mabanga gesê.
Die hofsaak van 35 soldate wat daarvan beskuldig word dat hulle sonder toestemming afwesig was, is tot Woensdag uitgestel. “Die direkteur van militêre vervolging is van voorneme om die aanklagtes teen die beskuldigdes terug te trek.” Volgens Mabanga kan die klagtes egter te enige tyd weer ingestel word.
Ongeveer 1 000 soldate het op 26 Augustus 2009 aan ʼn betoging in Pretoria deelgeneem. Die polisie moes ‘n waterkanon, rubberkoeëls en traangas gebruik om hulle te verdryf toe hulle oor heinings by die Uniegebou begin klim het. Die soldate het ‘n salarisverhoging van 30% geëis.