Klagtes oor rassekwotas in netbal onder die loep

Argieffoto

AfriForum en Solidariteit het vroeër vandeesweek amptelike klagtes teen rassekwotas en politieke inmenging in Suid-Afrikaanse netbal by die Internasionale Netbalfederasie (INF) se hoofkantoor in Manchester, Engeland ingedien.

Dié afvaardiging het ook met lede van die Europese Parlement (EP) in Brussel, België vergader waartydens politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport bespreek is.

Beide liggame is daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse regering polities in Suid-Afrikaanse sport se werksaamhede inmeng, asook op die feit dat ras ’n deurslaggewende rol in spankeuses speel.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, word die onafhanklikheid van Suid-Afrikaanse sportliggame in gedrang geplaas deur toenemende regeringsinvloed.

“AfriForum glo in die onafhanklikheid van sportverenigings. Dié verenigings moet hul eie besluite kan neem sonder die invloed van ’n voorskrywende regering,” het Kriel gesê.

Hierdie week se indiening sal in die komende twee weke opgevolg word met die indiening van soortgelyke klagtes by die Internasionale Krieketraad (IKR), die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se onderskeie hoofkantore.

“By die INF spesifiek word die weg oopgelaat om die internasionale hof vir sportarbitrasie te nader wat die hoogste gesagsliggaam in die internasionale sportarena is. Dié hof is juis daargestel om ’n finale en bindende beslissing oor internasionale sportdispute te lewer,” het Henk Maree, woordvoerder van AfriForum, gesê.

Die publiek word aangemoedig om hul steun te wys en hul naam by die klagtes te voeg wat deur AfriForum ingedien gaan word deur die webtuiste te besoek of hul naam na 45113 te SMS (R1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

jaco ·

raskwotas in sport lei nie tot lyding en dood van mense nie. Pak eerder goed soos regstellende aksie en plaasmoorde.

willie ·

Jaco vergewis jou van wat AfriForum en Solidariteit alles doen voor jy so opmerking maak! Is jy ñ lid van hierdie organisasies of staan jy net op die kantlyn en kritiseer?

Adriaan ·

Raskwotas in sport is dieselfde as regstellende aksie in die werkplek. Beide is diskriminerend op grond van ras.

Rynhardt ·

Afriforum, transformasie moet op elke gebied uitgeleef word, dit sluit sport in.Daar was destyds by Kodesa daarvoor geonderhandel!

Eish ·

Wat jy waar kry? Waar op op die op die ooreenkoms staan dit geskryf? Daar moet mos nou na bykans n kwarteeu van demokrasie n einde aan die goed kom. Meriete moet nou die deurslag begin gee indien ons die flentertjie Afrika wil bou, nie kleur van jou vel nie. Dit het nou ontaard in omgekeerde diskriminasie. Goed gedoen Afriforum en Solidariteit, hang die skandes aan die groot klokke.

Reinhardt ·

Jy verstaan duidelik nie wat transformasie dan is nie. Dit is niks anders as wettige diskriminasie nie. Gelyke wegspringplek, ja, daarmee stem ek en menige ander saam. Maar gelyke kanse by die eindpunt? Nee wat. En dit is wat tans gebeur.

Hendrik ·

Ons sal na indiening van die klagtes by INF, IKR, IOK, en IAAF of hulle deel is van die elite “establishment”. Gaan hulle werklik optree of gaan hulle net so bietjie wegkyk en die kwessie afwater? Net so het Renate Barnard se regstellende aksie verhoor by die Grondwetlike Hof nie geslaag want die Grontwet hof is deel van die elite “establishment”. Kom ons kyk.

DAdels ·

En soos verwag bly die DA tjoepstil oor sake soos regstellende aksie, rassediskriminasie en kwotas want dit is mos maar eintlik hul ongeskrewe beleid. Weet nie hoe kan regdenkende en opgevoede mense enigsins vir hulle kan stem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.