Klagtes teen Boswell-sirkusbase teruggetrek

'n Skermskoot uit die video wat op Carte Blanche uitgesaai is.

‘n Skermskoot uit die video wat op Carte Blanche uitgesaai is.

Die aanklagte teen twee eienaars en ʼn werknemer van die bekende Brian Boswell-sirkus is Dinsdag in die Port Elizabeth-landdroshof teruggetrek.

Jane Boswell, haar dogter Georgina en David Marais, ʼn olifanthanteerder, het elk op drie aanklagte wat met die Dierebeskermingswet verband hou, tereggestaan. Die aanklagte teen hulle is egter Dinsdag teruggetrek weens ʼn gebrek aan bewyse.

Die drie is daarvan beskuldig dat hulle na bewering olifante tussen Desember 2012 en Januarie 2013 vasgemaak, geslaan, ingehok en nie van genoegsame water en skadu voorsien het nie.

“Daar moet ʼn soort skuld wees. Die eienaars moet daarvan weet, dit veroordeel of versuim om op te tree nadat hulle van ʼn voorval in kennis gestel is. Daar is nie voldoende bewyse in hierdie geval nie,” het adv. Chris de Klerk, adjunkdirekteur van openbare vervolging, gesê.

Die nasionale raad van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het in 2013 die aanklagte teen die sirkus aanhangig gemaak nadat hulle die beweerde mishandeling van die olifante gesien het toe die sirkus by die Walmer West Primary School in Port Elizabeth was. Die skool het later sy toestemming dat die sirkus die terrein mag gebruik, teruggetrek.

Videobeeldmateriaal wat in 2013 op Carte Blanche uitgesaai is, het gewys hoe olifante vasgeketting word, vir ure aan die hitte blootgestel word en met stokke geslaan word. ʼn Bron ná aan die ondersoek het gesê vier van die olifanthanteerders wat in die video gesien kan word, is glo afgedank en het intussen verdwyn.

Isabel Wentzel, bestuurder van die DBV se wildbeskermingseenheid, het gesê dit is teleurstellend dat die klagtes teruggetrek is. “Die saak kom al sedert 2013 en is keer op keer uitgestel. Ons wil skriftelik van die direkteur van openbare vervolgings redes kry en dan sal ons dit van daar af vat. Die twee hanteerders in die beeldmateriaal het glo verdwyn en daar is nie ID-nommers vir hulle beskikbaar nie, so niemand weet waar hulle is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veritas ·

Ai die ‘Bambi-junkies’ darem. Plaas julle eerder die verwaarloosde en mishandelde diere, in die informele nedersettings, gaan red. Nou mors julle tyd en geld op ‘n handjievol sirkusdiere wat beter behandel word as baie mense. Kry julle prioriteite reg man.

LTVW ·

Veritas, jy mag dalk die DBV “Bambie Junkies” noem, maar ten minste DOEN hulle iets teen die MISHANDELING met OPSET. Die eienaars van die diere in die informele nedersettings is n kwessie van OPVOEDING. Ek gaan nie polities raak nie, dis nie die crux van die berig nie.

Justa ·

Wilde diere behoort in elk geval nie in sirkusse nie. Dit is n skreiende skande wat hierdie diere moet deurgaan om toertjies te doen. Wat van Opal wat ook aan hierdie lot behoort? Die dieremishaneling wat in hierdie land aangaan is skrikwekkend. Daar behoort baie strenger wetgewing te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.