Klagtes teen Gupta-beskuldigdes laat vaar

Die bruidspaar, Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia Foto: @ReneDelCarme op Twitter

Die bruidspaar, Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia Foto: @ReneDelCarme op Twitter

Die departement van verdediging het Dinsdag bevestig dat alle klagtes teen lt.kol. Stephan van Zyl en lt.kol. Christine Anderson laat vaar is.

“Die departement van verdediging bevestig dat alle klagtes teen die twee beamptes oor hul beweerde betrokkenheid in die landing van ʼn privaatvliegtuig by Waterkloof-lugmagbasis teruggetrek is,” het Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê. “Die departement wag vir ʼn volledige verslag van die direkteur van militêre vervolging vir enige verdere kommentaar.”

Van Zyl en Anderson is vroeër daarvan beskuldig dat hulle betrokke was in die landing van ʼn privaatvliegtuig van die welgestelde Gupta-gesin by die lugmagbasis in Pretoria. Die gesin het glo gereël dat familielede in 2013 daar kon land om ʼn troue by te woon.

Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van Sandu, het vroeër gesê die twee beamptes het aan die vakbond se regspan opdrag gegee om siviele sake teen alle staatsdepartemente in te stel wat hulle geïmpliseer het. Die regspan het vroeër geëis dat Van Zyl dadelik weer in sy amp aangestel moet word.

Intussen het die VF Plus gesê die Guptas moet alle regskostes en verdere siviele eise betaal. “Indien die twee offisiere slaag met siviele eise moet die Guptas ook die koste dra en nie die belastingbetalers nie,” het Pieter Groenewald, die VF Plus se woordvoerder oor verdediging, in ʼn verklaring gesê. “Die terugtrekking is bewys dat die weermag onskuldiges beskuldig het om die regte sondebokke te beskerm en om pres. Zuma se aandeel toe te smeer. Die toesmeerdery was laakbaar en toon dat alles gedoen sal word om Zuma te beskerm van magsmisbruik.”

Groenewald het gesê om die weermag aanspreeklik te hou vir kostes sal beteken dat die belastingbetalers aanspreeklik gehou word. “Dit is onregverdig en daarom moet die Guptas opdok want hulle het Waterkloof gebruik.”

Hy het bygevoeg die Gupta-sage op Waterkloof en die Nkandla-skandaal is voorbeelde waar amptenare “geoffer” word om te betaal vir Zuma se blapse. “Die voormalige hoof van staatsprotokol, Bruce Koloane, is destyds net gedemoveer en later beloon met ʼn ambassadeurspos in België. Dit kom neer op korrupsie,” het hy gesê.

Lees alle vorige berigte oor die Guptas op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lillian ·

Hi nooit! En hoekom is hulle in die eerste plek geskors? Hulle het net opdragte uitgevoer wat Zuma gegee het! O ja, ons het vergeet, hoe dom van my, hulle is mos blanke offisiere! Maklike manier om van die blankes ontslae te wil raak in die staatsdiens en een of ander onbeholpe aan te stel.

Anoniem ·

Niemand is so dom om ‘n siviele vliegtuig op ‘n militêre basis te laat land sonder om ordentlike bewyse van die opdrag veilig te bêre nie… Ek vermoed “iemand bo hulle” het geskrik toe hulle die omvang van hierdie bewyse sien, en die aanklagte toe laat vaar, in die hoop dat die hele ding ‘n stille dood sal sterf.

zahn ·

Uiteindelik. Volgende vraag: Nou dat hulle vrygespreek is, beteken dit dat die ondrsoek na die werklike skuldiges ook van die baan is? Dit lyk so, want ek sien nie dat daar in die berig anders genoem word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.