Klagtes teen Malema word al meer

julius-malema

Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Nog ʼn aanklag is teen Julius Malema, leier van die EFF, ingedien in verband met die omstrede uitlatings wat hy die afgelope naweek tydens die EFF se verjaarsdagviering in Durban, KwaZulu-Natal, gemaak het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het bevestig ʼn klag van crimen injuria is Dinsdag teen Malema by die Mountain Rise-polisiestasie in Pietermaritzburg aanhangig gemaak. Die klag is deur die SA Minority Rights Equality Movement (Samrem) ingedien.

Malema het die afgelope naweek teen die Indiër-gemeenskap uitgevaar en onder meer gesê Indiërs is “erger as Afrikaners”. Hy het verwys na Indiërs wat volgens hom strategiese tenders en sakeaktiwiteite monopoliseer sodat slegs ʼn enkele paar families daarby baat vind, asook die “uitbuitende werksomstandighede” van swart mense in winkels wat deur Indiërs besit word. Hy het ook gesê dat baie strategiese tenders op plaaslike regeringsvlak deur Indiër-families in Durban oorheers word.

Daleep Lutchman, voorsitter van Samrem, het aan Maroela Media gesê Malema se uitsprake kan haat en verdeeldheid tussen verskillende gemeenskappe saai. “Sy uitsprake is geneig om rasse-onverdraagsaamheid aan te hits,” het Lutchman gesê.

Hy het gesê daar is geen bewyse vir die bewerings wat Malema maak nie en sy uitsprake kan die indruk by sy ondersteuners wek dat Indiërs uitbuiters, bedrieërs en oneerlike buitelanders is.

Die EFF-leier Julius Malema en ander lede van die EFF-leierskap tydens die party se verjaarsdagvieringe in Durban (Julie 2017). Foto: ANA

“Dit is teen die wet om rassebelaaide bewerings wat tot xenofobiese geweld kan lei te maak. In teenstelling met Malema maak Samrem nie staat op populisme nie,” het Lutchman gesê. “Malema en sy brigade van rooi barette is mal daaroor om in die kollig te wees, maar om al die verkeerde redes. Hulle enigste doelwit is om gewildheid onder die grootliks ongeskoolde massas te werf.”

Die klagtes teen Malema volg nadat die burgerregte-organisasie AfriForum ook Dinsdag strafregtelike klagtes van aanhitsing tot betreding teen Malema by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion ingedien het. Dit volg nadat Malema die naweek ook sy ondersteuners aangemoedig het om vir hulle ʼn stuk grond te identifiseer en te vat net waar hulle wil. “As julle nie luister nie, sal julle die hele land verloor. Wit grondeienaars moet hulle grond deel,” het hy gesê.

Malema staan tans tereg op ʼn aanklag van die oortreding van artikel 1(1) van die Wet op Betreding nadat hy in Junie verlede jaar sy ondersteuners in Newcastle aangemoedig het om grond onwettig te beset. Hy moet op 1 September weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Penellope Jones ·

Al is daar talle klagtes teen hom, gaan dit niks verander nie, want sy boodskap is uit.

Diegene wat aan sy kant is, wat aan sy party behoort, wat die verjaarsdagviering bygewoon het ens., hulle het die boodskap hard en duidelik ontvang wat om te gaan doen . . . . . . . . .

Kobus ·

Daar sal niks van die kom nie.hy gaan so lank aan met dit en niks het al gebeur nie.maar dat ek dit se van ander rasse dan slaap ek dadelik in die tronk

TDW ·

Hoekom sou hy sê xenofobie? Indiërs is al vir generasies Suid-Afrikaners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.