Die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne het Woensdag gesê hy sal ʼn ondersoek van stapel stuur oor bewerings teen Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne.
Die komitee het gesê Zwane het nie by ʼn verhoor opgedaag nie ná ʼn onvolledige vraag-en-antwoordsessie van Oktober verlede jaar.
“Die komitee kan nie verdere uitstel duld nie en het besluit om ʼn ondersoek van stapel te stuur,” het Sahlulele Luzipo, voorsitter van die komitee, gesê. “Lede het nog vrae oorgehad van die oorspronklike vraag-en-antwoordsessie en hulle behou die reg voor om dit nou tydens die ondersoek te vra.”
Zwane word geïmpliseer in ʼn verslag deur die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, wat bevind het dat vriende van oudpres. Jacob Zuma probeer het om onbehoorlik invloed uit te oefen op die staat en staatsbeheerde ondernemings.
Zuma, wat verlede week bedank het onder druk van die ANC, en Zwane het albei skuld ontken.
Die DA het Woensdag gesê Zwane se “ontduiking en verdediging” wys dat hy “baie het om weg te steek”. “Die minister was een van die sleutelfigure wat in staatskapingbeweringe geïmpliseer word en hy moet aanspreeklik gehou word,” het James Lorimer, die DA se skaduminister van minerale hulpbronne, gesê. “Daar is bewyse dat staatskaping baie skade aangerig het aan die geloofwaardigheid van Suid-Afrika se mynbou-jurisdiksie. Om die bedryf te beskerm en die werk wat daardeur geskep word, is dit noodsaaklik dat ons ʼn departement en minister moet hê wat bo verdenking is.”
Dankie Zuma. Dankie ANC
Dis omdat hy n onderwyser was… kom nie uit die myn wese… Onbevoegthied spreek boekdedle ANC….