Klagtes teruggetrek teen ‘onderwêreldbaas’ Modack se ma

Nafiz Modack (Foto: Noor Slamdien/African News Agency/ANA)

Alle klagtes is in die Kaapstadse streekshof teruggetrek teen Ruwaida Modack, die ma van ʼn vermeende sleutelfiguur in die Kaapse onderwêreld.

Ruwaida (61) het tereg gestaan op aanklagte van korrupsie ná daar beweer is dat sy en haar seun, Nafiz Modack, die voormalige stasiebevelvoerder van Kaapstad-Sentraal, brig. Kolin Govender, oor ʼn periode van twee jaar betaal het.

Die saak, uit 2011, is deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se eenheid vir ernstige korrupsie ondersoek.

Modack en sy ma het in Mei 2019 navraag gedoen oor ʼn ondersoek teen hom by die Valke se kantoor in Bellville waarna hulle in hegtenis geneem is, maar die twee is dae later vrygelaat op borgtog van R5 000 elk.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het vroeër gesê Modack en sy ma het na bewering in November 2011 deur hul twee sake-entiteite omkoopgeld aan die senior polisiebeampte betaal om hul persoonlike sakebelange te bevorder.

Nkwalase het bevestig die saak is teruggetrek teen Modack se ma. Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het gesê Leon van der Merwe, ʼn waarnemende prokureur vir Ruwaida, het aangedui dat sy geen magtiging het om elektroniese bankdienste te gebruik nie en sy sou dus nie die betalings kon doen nie. Weens ʼn gebrek aan getuienis teen haar, is alle aanklagte gevolglik teruggetrek.

“Modack en twee regsentiteite, AMG Auto CC en Peuxon Properties (Pty) Ltd, staan steeds tereg op aanklag van korrupsie ter waarde van R146 600 vir die 51 afsonderlike betalings wat oor ʼn periode van byna twee jaar gedoen is deur Modack,” het Ntabazalila gesê. “Die twee genoemde entiteite is gebruik om betalings te maak aan die voormalige stasiebevelvoerder van Kaapstad-Sentraal, brig. Govender.”

Modack moet op 13 Oktober 2020 weer in die hof verskyn.

Dit is nie die eerste keer dat Govender aan die verkeerde kant van die gereg is nie. Hy het in 2012 in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn saam met die voormalige Wes-Kaapse polisiekommisaris Arno Lamoer, voormalige polisiebrigadier Darius van der Ross en sy vrou, brig. Sharon Govender, en sakeman Saleem Dawjee, op aanklag van korrupsie en geldwassery ter waarde van R1,6 miljoen.

Regter Rosheni Allie het Lamoer en Dawjee in Mei 2018 tot ses jaar tronkstraf gevonnis, Van der Ross tot twee jaar en Govender is vier jaar tronkstraf opgelê. Sharon is vrygespreek. Dawjee het erken dat hy tussen 2011 en 2013 sowat R54 000 kontant aan Lamoer gegee het toe hy in ʼn finansiële verknorsing was. Govender het R24 601 van Dawjee, ʼn neef, ontvang, in ruil vir spesiale behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.