Klagtes van verkragting teen polisiebevelvoerder ontken

(Foto: SA Polisie)

Die bestuur van die polisie in Mpumalanga het sy verbasing uitgespreek oor ʼn berig in die Mail & Guardian dat ses vroue glo berading ontvang het vir seksuele misdade deur die waarnemende stasiebevelvoerder van Witbank.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê die Mail & Guardian het verlede week berig dat hy ʼn dossier gesien het oor dié bewerings van seksuele aanranding teen brig. Sifiso Cele. Twee vroue het glo ʼn onderhoud met die koerant van die hand gewys, maar die inhoud van die dossier bevestig.

Verdere bewerings word gemaak dat lt.kol. Anya Chrissopoulos, die provinsiale hoof van sielkundige dienste in Mpumalanga, berading vir die ses vroue aangebied het.

“Die bestuur van die SAPD wil dit duidelik stel dat daar geen dossier van dié aard onder die aandag van die bestuur gebring is nie. Lt.kol. Chrissopoulos was ook geskok om te hoor dat haar naam by die saak betrek word. Sy het aan die bestuur gesê sy is hoegenaamd nie bewus van sulke bewerings teen brig. Cele nie,” het Hlathi bygevoeg. “Dit kan slegs as ʼn smeerveldtog teen die betrokke beampte beskou word.”

Hlathi sê die polisie wil die gemeenskap daaraan herinner dat seksuele misdade in ʼn baie ernstige lig beskou word. “Daar is gevolglik geen manier dat die beampte nie in hegtenis geneem sou word indien hy vroue verkrag of seksueel aangerand het nie. As daar enige bewerings van dié aard teen brig. Cele aanhangig gemaak is, sou beamptes hom dadelik in hegtenis geneem het.”

Die provinsiale polisie doen ʼn beroep op die verslaggewer van die Mail & Guardian om sy feite te verifieer voor enige storie gepubliseer word, het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie J ·

Nou wonder ek maar net of daar waarheid is in die gesegde “waar n rokie trek brand n vuurtjie”

PH ·

En as dit nie waar is nie, hoekom word die verslaggewer nie gedagvaar vir naamskending of vals nuus nie?

Michael ·

Want verslaggewers is mos ontasbaar. Hulle en die media regeer mos deesdae die wereld.

ronel ·

Die feit dat ” daar geen dosier bestaan waarvan hy weet” is nou maar ongelukkig ‘n stelling sonder veel gewig of waarde, dit is algemene kennis dat die polisie hul eie sal beskerm as hul krimineel of korrup optree, as goeie polisie manne nou ‘n negatiewe naam kry as gevolg van die kriminele element wat toe gelaat word binne hul midde moet hulle maar die blaam voor hul eie deur plaas. Weermag en Polisie is meer bekend vir wreedheid, korruptheid en onderduimse optrede as vir hulle diens en beveiliging van die publiek, so sorry maar ne?

Persheks Adri ·

Hulle is juis nie ons gunsteling mense nie en Vrydag het dit WEER bewys met rooi petters wat kan maak en sê wat hulle wil en kom weg met als terwyl hulle daar is! Uiters pateties verby en ‘n GROOT teleurstelling vir ons.

Sarel ·

Dit kan ‘n toesmeerdery wees ons weet en hulle weet dossiere kry voete. Maar watter het die Joernalis dan gesien.
Kan ook vendetta wees vir iets wat hy gedoen of nie gedoen het nie.

Michael ·

““Daar is gevolglik geen manier dat die beampte nie in hegtenis geneem sou word indien hy vroue verkrag of seksueel aangerand het nie. As daar enige bewerings van dié aard teen brig. Cele aanhangig gemaak is, sou beamptes hom dadelik in hegtenis geneem het.””

Hahaha

Jannie van Niekerk ·

As hulle hoeddraende minsiter so kan lieg dat hy homself glo, kan die bestuur van Mpumalanga polisie seker ook maar so lieg dat hulle hulleself glo. Indsien dit ‘n blanke Brigadier met ‘n Afrikaanse van was, was hy al lankal agter tralies. Sonder borg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.