Klankdeskundige getuig in Oscar Pistorius-verhoor

Oscar Pistorius tydens sy hofverskyning Maandag. Foto: Ihsaan Haffejee/EPA/Pool

Oscar Pistorius tydens sy hofverskyning Maandag. Foto: Ihsaan Haffejee/EPA/Pool

‘n Klankdeskundige het Maandag vir die verdediging getuig oor die gille wat die aand gehoor is toe Oscar Pistorius sy vriendin Reeva Steenkamp doodgeskiet het.

“Teen 177m weg, en indien die gil vanuit ‘n toilet gekom het, is dit hoogs onwaarskynlik dat iemand dit sal kon hoor, wat nog te sê dit akkuraat interpreteer,” het Lin getuig. Hy is deur Barry Roux, Pistorius se regsverteenwoordiger, ondervra.

Hy sê om te luister is subjektief en dat die hof sal moet bepaal of ‘n persoon emosie in ‘n gil kan onderskei. “Die doel van die verslag is om op ‘n wetenskaplike basis, en volgens my ondervinding, te demonstreer tot watter mate ‘n gil hoorbaar of verstaanbaar kan wees. ‘n Luisteraar se interpretasie kan moontlik nie betroubaar wees nie, soos uiteengesit in my opsomming.”

Lin se getuienis het ten doel om vroeëre getuienis deur Pistorius se bure in twyfel te trek. Michelle Burger, wie se huis sowat 177m van die moordhuis is, het in Maart getuig dat sy die aand van Steenkamp se dood bloedstollende gille gehoor het gevolg deur vier geweerskote.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het aangedui dat hy Lin Dinsdag onder kruisverhoor sal neem nadat hy sy verslag bestudeer het.

Dr. Gerald Versfeld, Pistorius se ortopeed, het vroeër getuig dat Pistorius onstabiel is sonder sy prostese en dat sy mobiliteit aansienlik ingekort word. Hy sê wanneer Pistorius op sy stompies is moet hy behoorlik kan sien ten einde rond te kan beweeg. Wanneer dit donker is moet Pistorius aan iets vashou om te beweeg.

Nel het egter vir Versfeld gevra om te verduidelik hoe Pistorius rondbeweeg het voor en na hy Steenkamp geskiet het sonder om te val. “Jy sê hy val dikwels. Weet jy dat hy op die spesifieke aand nooit geval het nie? Het jy nie vir hom gevra wat die aand gebeur het nie?”

“Die fantastiesste ding is dat hy van sy slaapkamer tot by die badkamer geloop het met ‘n geweer in sy hand. Hy het vier skote afgevuur en hy was op sy stompies en dit was alles in die donker.”

Versfeld het getuig dat Pistorius nooit aan hom verduidelik het wat die aand gebeur het nie. Hy sê Pistorius het aan hom gesê dat hy dikwels val en dat ‘n hond hom ook al laat val het. Versfeld sê dit is onwaarskynlik dat Pistorius die badkamerdeur met ‘n krieketkolf geslaan het terwyl hy op sy stompies was. Hy sê Pistorius sal nie genoeg balans hê om dit te doen nie.

Die saak duur voort.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Canned Phantom ·

‘n Gegryp na strooihalms. In die nag trek klank baie vêr. Ek het lank in Sunnyside gebly en dit was glad nie vreemd om van die diere in die dieretuin te hoor in die nag nie. Dis meer as ‘n kilometer weg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.