Klankgolf: Nóg ʼn suksesvolle Afrikaanse gemeenskapsradiostasieseminaar

Die seminaargangers saam met van die Maroela-spanlede in Pretoria op 12 September 2014

Die seminaargangers saam met van die Maroela-spanlede in Pretoria op 12 September 2014

Altesaam 16 gemeenskapsradiostasies van dwarsoor die land het Maroela Media se derde jaarlikse Afrikaanse gemeenskapsradiostasieseminaar, Klankgolf, bygewoon.

Omroepers en platejoggies van radiostasies soos onder andere Groot FM, Landbou Radio, Radio Tygerberg en Bok Radio het die seminaar verlede week in Pretoria en Kaapstad bygewoon. Die seminaar is tegelyk in Gauteng en die Wes-Kaap aangebied met behulp van die nuutste tegnologie.

Maroela Media het voor die seminaar deur sy radioproduksiehuis, Draadloos, ʼn kompetisie uitgeloof om ʼn naam te kry vir die jaarlikse instelling. Sarina Frauenstein van Radio Pretoria het met die prys weggestap vir haar inskrywing, “Klankgolf”. Seminaargangers het deurgaans hul foto’s en kommentaar op sosiale media gedeel deur van die huts-sleutel #klankgolf gebruik te maak.

Draadloos bied ook daagliks ʼn tydskrifprogram, Allegaartjie, gratis aan 17 gemeenskapsradiostasies.

“Gemeenskapsradiostasies doen ongelooflike werk om Afrikaans in hul grootliks plattelandse gemeenskappe te laat floreer,” het Esté Meyer Jansen, Draadloos se radioprogrambestuurder gesê. “Dis hierdie tipe inisiatiewe wat uiteindelik sal verseker dat Afrikaans oorleef.”

Lindie Strydom van Groot FM het tydens die seminaar gesels oor gemeenskapsprojekte by die verskillende stasies en Suna Venter van RSG het verduidelik hoe die stasies ʼn nuus- en aktualiteitsprogram kan saamstel. Lance Rothschild van MTN Radio Awards het verduidelik hoe die stasies hul musiekindeling kan skeduleer en die seminaargangers het vasgenael gesit en luister toe Cobie van Jaarsveld die advertensie- en radiolandskap bespreek het.

Die gewilde Jannie Putter, motiveringspreker en voormalige mentor van die Bulle-rugbyspan, het almal inspireer met sy boodskap.

Evert Snyman, wat veral bekend is vir sy Slaaptydstories op RSG, het op die tweede dag die seminaargangers touwys gemaak oor stemoefeninge en programhantering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.