Klankkoerant – luistergenot nou reg oor Suid-Afrika

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Klankkoerant, ʼn nuus-en-aktualiteitsprogram wat aanvanklik sy ontstaan by Pretoria FM gehad het, is nou by ʼn netwerk van radiostasies oor die hele Suid-Afrika gevestig.

Willie Spies, besturende direkteur van Pretoria FM, is baie opgewonde oor die moontlikhede wat Klankkoerant vir gemeenskapstasies bied en sien dit ook as ʼn baie belangrike mylpaal in die droom om te verseker dat daar nasionaal ʼn stem en boodskap kan uitgaan.

Dié program is aanvanklik begin uit die behoefte vir ʼn opwindende, geloofwaardige en betroubare alternatief vir wat op die radiogolwe in Suid-Afrika beskikbaar is vir die Afrikaanssprekende gemeenskap.

In die lig van die grootskaalse verengelsing van tradisioneel Afrikaanse kommersiële stasies sowel as die hele polemiek wat hom tans by die SAUK afspeel, was die geleentheid daar om ʼn program die lug te laat sien wat luisteraars inlig en op die hoogte van sake hou van alles wat hulle moet weet.

Die program bestaan uit drie dele, Klankkoerant-oggend (06:00-09:00), -middag (13:00-14:00) en -laatmiddag (16:00-18:30), en saam verseker die drie unieke programme dat jy heeldag op die voorpunt is van wat aangaan. Kenners, beroemdes en berugtes maak ook seker dat die program elke dag ingekleur en interessant bly.

Volgens Hennie Koortzen, stasiebestuurder en aanbieder, is die feit dat daar aandag gegee word aan positiewe gebeure wat lewens verander en ʼn verskil in die gemeenskap maak ʼn groot pluspunt van die program. Die feit dat dit afgewissel word met weer, verkeer, sport en goeie musiek om oud en jonk in te lig asook te vermaak is ʼn verdere trekpleister na die program.

Luisteraars skakel van oor die land in op hul betrokke gemeenskapstasie en vorm deel van ʼn nasionale netwerk wat aan gemeenskapstasies die bedingingsmag gee om te kompeteer vir luisteraars met ander gevestigde stasies. Die bedinging is moontlik aangesien die gehalte van die program se produksie sowel as inhoud op dieselfde vlak, indien nie hoër nie, is as van die grootste radiostasies in die land. En indien jy nie in Klankkoerant se FM-opvangsgebied woon nie, is die goeie nuus dat jy op DSTV-kanaal 887 ook kan inskakel, maak nie saak waar jy bly nie, selfs in Namibië.

So, waarvoor wag jy? Skakel weeksdae op die klankgolwe van Klankkoerant in en vorm deel van die opwindende en insiggewende programme. As iemand jou dan volgende keer vra, Wat’s nuus?, kan jy hom presies vertel!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Landi Slatter ·

Dagsê Jaco,

Dankie vir jou terugvoer. Ons het nuwe grafika by die berig bygevoeg met al die betrokke frekwensies.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Landi Slatter ·

Dagsê Rina

Dankie vir jou terugvoer. Ons het nuwe grafika by die berig bygevoeg met al die betrokke frekwensies.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Riaan ·

Sal graag na julle wil luister in die Paarl tot Kaapstad op pad werk toe en terug.
Het nie dstv (geld-maak storie) nie…

Piet ·

Wens julle wil ‘n uitsending ooreenkoms met Astv aangaan dat daar nuus op die kanaal kan kom. Stel iets voor soos kyknet en dink groot FM

Pietser ·

Is hierdie klankkoerant deel van Pretoria FM se normale, daaglikse radioskedule sodat mens dit per klankstroom op internet kan volg? Sal dit beskikbaar wees vir aflaai as potgooie?

Pietser ·

Eckhardt – Dis deel van Pretoria FM se normale programskedule. Daar is ‘n klankstroom vir internet (jy het flashplayer nodig).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.