Klankspoed op Mars stadiger as op aarde

Die Perseverance-verkenningsvoertuig verken Mars, ‘n bykans tjoepstil planeet waar net die geluid van die wind af en toe gehoor kan word. (Foto: NASA/AFP)

Die eerste klankopnames op Mars het ʼn stil planeet onthul met sporadiese wind waar klank boonop teen twee verskillende snelhede beweeg – iets wat ʼn vreemde uitwerking op mense se gehoor sal hê.

Nasa se Perseverance-verkenningstuig het in Februarie verlede jaar op Mars aangeland, waarna sy twee mikrofone opnames begin doen het. Dit het navorsers in staat gestel om vir die heel eerste keer te hoor hoe die Rooi Planeet klink.

In ʼn studie wat Vrydag in Nature gepubliseer is, gee wetenskaplikes hul eerste ontleding van die vyf uur lange klank wat Perseverance se mikrofone opgetel het. Die opname het vantevore onbekende turbulensie op Mars onthul, sê Sylvestre Maurice, hoofskrywer.

Die internasionale span het ook geluister na vlugte van die klein Ingenuity-helikopter, ʼn sustertuig van die Perseverance en het gehoor hoe die voertuig se laser klippe uitmekaar laat spat om hul chemiese samestelling te bepaal. Dit het ʼn “klak-klak”‑geluid gemaak.

Die studie het vir die eerste keer bevestig dat die spoed van klank stadiger is op Mars as dit waaraan mense-ore op aarde gewoond is. Op die planeet trek klank teen 340 meter per sekonde, in teenstelling met die 240 meter per sekonde op Mars.

Die bevinding was te wagte, omdat Mars se atmosfeer uit 95% koolstofdioksied bestaan – op aarde is dit 0,04% – en naastenby ʼn honderd keer dunner is. Dit maak klank 20 desibels swakker.

Paniek oor klank

Die wetenskaplikes was egter verras toe die geluid van die laser teen 250 meter per sekonde getrek het – 10 meter vinniger as die verwagting.

“Ek was ʼn bietjie paniekerig. Ek het vir myself gesê een van die twee lesings is verkeerd, want op aarde is daar net een klankspoed,” sê Maurice.

Op Mars is daar egter twee. Een vir hoë toonhoogtes soos die laser wat iets tref, en ʼn ander een vir frekwensies soos die draai van die helikopterlem.

Dit beteken mense-ore sal die hoër klank effens vinniger hoor.

“Op aarde bereik die klank van ʼn orkes jou teen dieselfde snelheid, of dit nou hoog of laag is. Verbeel jou op Mars, wanneer jy ʼn entjie van die verhoog af is, is daar ʼn groot vertraging.

“Al hierdie faktore sal dit moeilik maak vir mense om ʼn gesprek vyf meter van mekaar te hê.”

Wetenskaplike dobbelspel

Dit is andersins so stil op Mars dat wetenskaplikes herhaaldelik gevrees het dat iets verkeerd was, het die Franse CNRS-navorsingsinstituut gesê. In 1999 en 2008 is daar tydens vorige pogings onsuksesvol probeer om klank op die planeet op te neem.

“Daar is weinig natuurlike bronne van klank, met die uitsondering van die wind,” het die navorsers in ʼn verklaring oor hul studie gesê.

Die mikrofone het wel geluide opgetel soos dié van die verkenningstuig se wiele wanneer dit oor die klippe rol.

Maurice sê die wetenskaplike kans wat hulle gewaag het om mikrofone na Mars te neem, was uiteindelik ʼn sukses.

Deur te luister na turbulensie op die planeet, sal wetenskaplikes ook ʼn beter begrip kry van vertikale wind, wat bekend staan as konveksiestrome en dit sal hulle in staat tel om beter numeriese modelle vir die voorspelling van klimaat en weersomstandighede te maak.

Toekomstige sendings na Venus of Saturnus se maan, bekend as Titan, sal moontlik nou ook met mikrofone toegerus word.

Perseverance is ook nog lank nie klaar met sy meeluisterwerk nie. Die sending duur net meer as twee jaar, maar kan veel langer operasioneel gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietertjie ·

Hoe sê? ;)
Ons trae regering sal dan goed aard op Mars: hier op aarde val byna alles op dowe ore.

Mariette ·

Hoe sal mense kan oorleef met al die koolstofdioksied? Dink nie die mense sal meer wil gaan nie.

Hendrik ·

So as die man terugpraat met sy vrou het sy kans om al die tweede ding te sê voor sy haar man se eerste reply gehoor het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.