Klant tydens rooftog by Pta-drankwinkel geskiet

Castle Walk-winkelsentrum. Foto: Google Street View

Castle Walk-winkelsentrum. Foto: Google Street View

ʼn 32-jarige inwoner van Pretoria-Oos is dood nadat hy Saterdagaand tydens ʼn mislukte rooftog in ʼn drankwinkel geskiet is.

Kapt. Ilze Jones, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê vier gewapende mans het Saterdag omstreeks 19:40 op die Liqour City by die Castle Walk-winkelsentrum in Erasmuskloof toegeslaan.

“Die rowers het ʼn vuurwapen op die veiligheidswag gerig, waarna hulle probeer het om die drankkabinet, waarin die duurder drank toegesluit is, se glas stukkend te slaan,” het Jones gesê.

“Die 31-jarige bestuurder van die winkel het die geraas gehoor en gaan ondersoek instel, waarna die rowers hul vuurwapens op hom ook gerig het.”

Jones het gesê die bestuurder het ʼn wapen aan hom gehad en op die rowers begin skiet. “Die rowers het teruggeskiet en ʼn oor-en-weer-skietery het uitgebreek, waartydens die klant in sy bolyf getref is.”

Die rowers het op vlug geslaan sonder om iets te vat. Een van die rowers is vermoedelik gewond aangesien daar ʼn bloedspoor buite die winkel was.

Die man is in ʼn kritieke toestand deur paramedici van Netcare 911 na die Unitas-hospitaal in Centurion gehaas, waar hy om 23:02 aan sy beserings beswyk het.

Jones het gesê die man se naam kan nog nie bekend gemaak word nie, aangesien dit nie duidelik is of sy naasbestaandes al van sy dood in kennis gestel is nie. Hy het glo in die omgewing gebly en was volgens die bestuurder ʼn gereelde klant.

Die Brooklyn-polisie ondersoek ʼn saak van moord en poging tot sakeroof.

Nie een van die rowers is tot dusver in hegtenis geneem nie, maar die soektog na hulle duur voort.

Jones het gesê die bestuurder is volgens standaardprosedure ná die voorval ingeneem vir ondervraging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Francois le Cochon ·

Simpatie met die klant se familie. ‘n Mens skiet as jou lewe in gevaar is, nie om jou duur Whiskey te red nie! Rowers is baie gespanne as hulle roof, daarom moet hulle nie gekonfronteer word nie.

Sandra ·

OOOoo jy is slim lees mooi! Hulle het hul vuurwapens op hom gerig. Gaan jy jouself nie eens probeer beskerm??? vra net. sterkte aan die oorledene se familie.

Cherokee ·

Francois, net soos Sandra dit aan jou verduidelik, lees en moet nie net prenties kyk nie.

HS ·

Francois, ń bitter ondeurdagte en gevoellose stelling. Paddas wat stil sit in potte kook dood my vriend.

MM ·

Het jy gelees waar hulle se hy het die wag met ‘n vuurwapen aangehou?

WL ·

Ek dink julle moet almal mooi lees.

Die 31-jarige bestuurder het op die rowers geskiet, waartydens ‘n 32-jarige KLANT in die bors geskiet is.

het mooi gelees ·

Ja die eienaar het op die rowers geskiet… want hulle het die sekuriteits wag EERSTE GESKIET. Dalk moet jy ook mooi gaan lees WL

KarenG ·

Ek weet hulle het wapen.op die sekuriteitswag gerig, daar is nie in die berig genoem dat hy geskiet is nie.

Nads ·

Daar staan nêrens dat die sekuriteitswag geskiet is nie, maar wel dat hul ñ wapen op hom gerig het…

KP ·

Daar het n oor en weer skietery tussen rowers en eienaar plaas gevind en klant het in spervuur beland en is geskiet.

Spokie van Wyk ·

Ai, waaroor baklei almal tog so? Die BESTUURDER het geskiet. Hy wou dalk sy klante veilig hou en nie duur whisky nie ( ek glo daai whisky is verseker). En ek het Innige Simpatie met die klient wat oorlede is se familie. Maar een ding moet almal onthou. GOD is steeds in beheer. Dit was dalk net die klient se tyd om te gaan. Net jammer op so wrede wyse. Glo my, hy is beter af as ons wat nog lewe. Want ons leef elke dag in vrees vir wanneer een van ons ‘n slagoffer is……….

Erika ·

Elkeen reageer anders in sulke omstandighede. Dis net dat as jy verkeerde tyd op die verkeerde plek is….dit noodlottig kant wees. Sterkte

Alida ·

Hoekom Unitas toe ry met die man, Dit Kloof hospitaal is binne loopafstand van die sentrum af!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Wonder ook ·

Presies Alida. Ek wonder ook hoe word daar besluit na watter hospitaal om te gaan. Hierdie arme man moes na ‘n ER gegaan het, PTA Oos en Kloof is net daar!!!. Hoekom anderkant toe ry met ‘n persoon wat dadelik hulp nodig het????

Ou Krimpvarkietjie ·

Ek onthou ons moes baie, baie jare gelede op skool gereeld BEGRIPSTOETSE doen. Dan word jy getoets of jy die geskrewe stuk in Afrikaanse reg kon INTERPRETEER, met ander woorde, wat presies die betekenis is wat in die stuk opgesluit lê. In my senior jare waardeer ek my afgetrede Afrikaanse onderwysers soveel te meer wanneer ek al die kommentare lees.

Hoeveel skoolverlaters en hul ouers ken die 12 X 12-tafel uit die kop? Ek sal hulle enige dag uitdaag vir ‘n spoedtoets. Baie van hulle sal seker eers die antwoorde op die Internet moet gaan opsoek. Ha-ha-ha. Geniet 2017 en wees eerbaar opbouend!

Alida ·

Die man kon dalk geleef het as hy Kloof toe geneem is. Wie se dom besluit was die verste hospitaal. Sal graag wil weet.

sarie van heerden ·

Stem saam Alida, ook omdat selfs die Kloofhospitaal-hekwagte uiters behulpsaam is wanneer jy daar aankom met iemand in nood. Ek moes my motor sommer voor die ingang na die hospitaal los terwyl ek met my man in is na die sorgeenheid. Uitstekende diens by Kloof wanneer hulp dringend benodig word.

Tes ·

Met alle respek mense..Wie kan klippe gooi? Net die persone betrokke sal ooit werklik weet wat daar aangegaan het. Sover my kennis strek is die sentrum gereeld in die verlede geroof. Dan sou ek beslis ook ‘n vuurwapen by my wou hê. As ‘n eienaar/bestuurder sy vuurwapen uithaal en skiet het hy nie net sy eie maar ook die lewens van sy mede werkers en kliënte in gedagte gehad.
Niemand staan in die oggend op en dink dit sal vandag my dag wees om ‘n ander mens te skiet.
My ondersteuning is beslis by die eienaar/bestuurder van die winkel.
My simpatie met die kliënt en sy familie ook natuurlik.
Alle sterkte vir die aangeklaagde en sy familie en my innige simpatie met die slagoffer en sy familie. Onthou tog dat hy als gedoen het om almal in sy winkel veilig te hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.