Klante by Centurion-eetplek beroof, verdagte doodgeskiet

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Verdagte is Dinsdagaand by ʼn gewilde restaurant in Eldoraigne in Centurion doodgeskiet toe hy en vier medepligtiges daarop toegeslaan en klante beroof het.

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 20:00 by Enzo’s Pizzeria & Italian Cafe by die Eldoraigne Village-winkelsentrum plaasgevind.

“Die eienaar sê hy was besig om met klante te praat, toe ʼn onbekende man kom vra het om ʼn bier te koop,” het Huma gesê.

“Hy het die man meegedeel hy kan nie drank verkoop nie, waarna die verdagte geantwoord het hy gaan nou sy ‘besigheid’ doen.”

Vier gewapende verdagtes het daarna ingestorm en almal beveel om plat te lê. Hulle het almal in die restaurant deursoek en hul persoonlike besittings, asook ʼn onbekende bedrag geld uit die kasregister gevat.

“Toe hulle uit die restaurant hardloop het een van die klante opgestaan en hulle gevolg.”

Huma het gesê vier van die vyf verdagtes het met hul buit in twee wegkomvoertuie geklim.

“Die vyfde verdagte het omgedraai en lukraak op die restaurant en die man wat hulle gevolg het, losgebrand. Die klant het teruggeskiet en die verdagte noodlottig gewond.”

Maroela Media het by ʼn bron op die toneel verneem twee polisiebeamptes, wat nie aan diens was nie, het tydens die voorval daar geëet en een van hulle het glo die verdagte geskiet. Huma kon dit egter nie dadelik bevestig nie.

Die verdagtes het in ʼn swart BMW en wit Hyundai i20 van die toneel gevlug. Die voertuie se registrasienommers is onbekend.

Die polisie het beslag gelê op ʼn pistool, wat in die verdagte wat geskiet is, se besit gevind is. Die pistool het geen patrone ingehad nie. Verskeie gebruikte patroondoppies is op die toneel gevind.

Die polisie ondersoek ʼn saak van sakeroof en doen ʼn geregtelike ondersoek. Die soektog na die ander verdagtes duur voort.

Die is die tweede aanval in ʼn week waarin klante by ʼn restaurant in Gauteng beroof is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn man is Donderdagaand geskiet tydens ʼn rooftog by ʼn Spur-restaurant in Midrand. Sowat 12 gewapende mans het omstreeks 21:00 die restaurant in Halfway Gardens binnegestorm, kort voordat dit sou toemaak. Daar was nog sowat 30 klante in die restaurant. Die rowers het die klante en personeel se persoonlike besittings, waaronder selfone en beursies, gesteel en in drie voertuie van die toneel gevlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Justice ·

Indien jy gaan skiet maak seker dat jy geoefen het om wel raak te kan skiet sonder om die publiek in gevaar te stel – welgedaan aan die parate en wakker polisiebeampte.

wer ·

Dit was ‘n klant wat geskiet het, die polisie was nie naby nie..

Justice ·

Dankie Wer – indien so welgedaan aan die parate en wakker klant. Dit is juis waarom `n vuurwapen gedra word.

Ken ·

Dit was ‘n polisiebeampte wat van diens af was wat geskiet het. Ek was op die toneel.

Ken ·

Ek was vanoggend by die misdaadtoneel verby en met die restaurant eienaar gesels. Daai polisiebeampte het uitstekend gedoen en is BAIE bekwaam wanneer mens sien hoe hy in die donker die booswig wat agter ‘n motor geskuil het raakgeskiet het. Well done Meneer, ek salueer jou!!

Great ·

Wel TERUGSKIET is al wat ons nou kan doen want die REGERING het ‘n saak met sy BURGERS se veiligheid .. hulle skryf dit alles toe aan ROOF of dat mense “swaarkry” en moet steel .. .wel as jy in ‘n BMW ry, glo ek nie moet jy STEEL vir kos nie . moet jy?

Boerseun ·

‘n Swart BMW was Vrydag 3 Feb ook opgemerk deur die sekuriteitswagte by Peperchair toe my seun se Nissan 1400 bakkie onder hul neuse daar gesteel is. Peperchair is net om die draai van Enzo’s

Theresa ·

Wonderlik vir die man wat die booswig raak geskiet het! Dis ‘n nagmerrie dat groepies nou al restaurante teiken om die mense daar ook te gaan verpes en te besteel. Elke restaurant sal voorsorg moet begin tref om klante veiliger te laat voel. Dinge verander nogal met rasseskrede.

Magda ·

Dit was n polisie man wat geskiet het – HY WAS van Diens af – wer – Welgedaan

Wer ·

Apologie, ek het weer soos my gaai gelees. Ter verdediging – hy was daar as ‘n klant :-)

Alida ·

Genade tog !! Dit lyk asof die restaurante nou veiligheidshekke sal moet opsit en slegs mense op besprekiing inneem. Die persoon wat bespreek moet sommer sy ID no ook gee by bespreking. Die land word ‘n vieslike plek om in te bly.

Morne ·

n Vuurwapen is soos valskerm, jy gaan hom net een dag nodig he in jou lewe. Bewapen jouself en as jy n vuurwapen het maak seker jy dra hom by jou. Mens is nie eers meer veilig in restaurante nie.

GES ·

Knap gedaan SAPD. Suid-Afrika is ‘n beter plek sonder hierdie kriminele elemente.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.