Klante by Paarlse nagklub aangehou, beroof

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

Ses vermeende gewapende rowers is Dinsdag in hegtenis geneem ná ʼn rooftog by ʼn nagklub in die Paarl, het die Wes-Kaapse polisie gesê.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die rooftog het omstreeks 02:00 Dinsdag by ʼn klub in Lady Greystraat plaasgevind. Die verdagtes het glo mense in die klub met ʼn vuurwapen gedreig voordat ʼn skoot afgevuur en die mense beroof is.

Traut het gesê die verdagtes het die mense van persoonlike items soos kontant en selfone beroof. Twee mense is met ʼn vuurwapen geslaan en het geringe beserings opgedoen. Die verdagtes het glo ook kontant uit ʼn kluis en dobbelmasjiene gesteel voordat hulle op die vlug geslaan het.
Volgens Traut het polisiebeamptes die verdagtes agternagesit nadat hulle van die toneel gevlug het. “Die jaagtog het in Pleinstraat tot ʼn einde gekom waar lede van die Paarl-polisie die verdagtes vasgekeer en in hegtenis geneem het.”

Volgens Traut het die polisie op drie vuurwapens, kontant en elektroniese toerusting beslag gelê. Hy het gesê die verdagtes, vyf mans en ʼn vrou, almal in hul laat 20’s, sal binnekort in die Paarl-landdroshof verskyn op aanklag van gewapende roof, poging tot moord en die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.