Klapmuts-huisbraak: ‘Dit kon baie erger gewees het’

Daniel nadat hy tydens ‘n huisbraak oor die kop geslaan is. Foto: Facebook

“Ek het op die bank aan die slaap geraak. Toe ek vroegoggend kamer toe loop, sien ek die buitedeur van my kamer is oop – en toe is daar skielik iemand agter my.”

Só het Daniel (31), wat verkies dat sy van nie genoem word nie, die gebeure van vroeg Maandagoggend beskryf toe hy met ʼn voorwerp oor die kop geslaan is tydens ʼn huisbraak op ʼn plaas in die Klapmuts-omgewing in die Wes-Kaap.

Volgens Daniel huur hy en vriende ʼn huis op die gesinsplaas. Die plaas is langs die plaas waar Joubert Conradie verlede Dinsdag vermoor is. “Ons het Sondagaand gebraai en ʼn paar mense het by ons oorgeslaap. Ons het later TV gaan kyk en ek het op die bank aan die slaap geraak.”

Daniel is omstreeks 04:00 na sy kamer en het gesien die deur is oop. Hy het agtergekom daar is iemand agter hom waarna hy met ʼn voorwerp oor die kop geslaan is. “Ek het nie onmiddellik die omvang van my besering besef nie en het dadelik in die gang af gehardloop en vir almal geskree om wakker te word aangesien ek bang was daar is nog rowers in die huis, veral ná wat op ons buurplaas gebeur het.”

Volgens Daniel het van die ander mans in die huis die deur na sy kamer toegehou terwyl hulle probeer vasstel het of daar nog rowers in die huis was. Hulp is ontbied en die eienaars van die plaas was vinnig op die toneel. Daniel is na ʼn hospitaal gehaas waar hy steke gekry het. “Die dokter vermoed ek is met ʼn panga geslaan. Ek het baie bloed verloor en het gesukkel om wakker te bly terwyl ons na die hospitaal gery het. Dit kon baie erger gewees het.”

Die rower het deur die badkamervenster toegang tot die huis gekry. Kapt. Nopaya Madyibi, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê die verdagte het met ʼn skootrekenaar, ʼn videospeletjiekonsole en ʼn sonbril gevlug.

Volgens Madyibi is daar ook in ʼn motor buite die huis ingebreek en ʼn navigasietoestel gesteel. “Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.” Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.

Sunmari Milner, wat getroud is met een van die broers wat mede-eienaars van die gesinsplaas is, het aan Maroela Media gesê sy vermoed ʼn sindikaat is in die omgewing bedrywig. “Hulle is daarop uit om te roof, maar hulle is ook baie aggressief. Die plaas is naby die voet van die berg, so hulle gebruik die berg. Daar was die afgelope tyd baie aktiwiteit.”

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn vrou en haar dogters twee dae ná die moord op Conradie op ʼn kleinhoewe in die Klapmuts-omgewing beroof is. Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het Woensdag bevestig daar is nog niemand in hegtenis geneem in verband met enige van die voorvalle nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tanya Kruger ·

Saak van huisroof word ondersoek. Dit is poging tot moord!!!

Nita ·

Indien hulle ooit die krimineel vang, gaan hy ook 16 jaar vir poging tot moord kry. N hele rits oortredings is hier begaan. Stel die lang lys op soos vir die doodskis-saak.

Franci Templeton ·

Die polisie het nodig om meer aanwesig te wees sodat hulle hierdie booswigte kan aankeer, op die trant sal die arme Joubert se moordenaars nooit gevang word nie

Andy ·

Die wat gevang word en skuld erken, moet sommer wegraak of verdwyn. Niemand moet weet wat van hulle geword het nie. Dalk skrik dit die regering af. Die tronke is in elk geval te vol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.