Klapper-slagoffer pak lewe met nuwe handjie aan

Kosie Wessels met sy kunshand. Foto: Verskaf

Kosie Wessels met sy kunshand. Foto: Verskaf

Hoewel Kosie Wessels (7) nog moet leer om die kunshandjie, wat sy hand vervang het wat hy in ʼn fratsongeluk met ʼn bomklapper verloor het, ten volle te gebruik, kan hy al papiertjies optel en ʼn koeldrankbottel vashou.

Kosie, ʼn gr. 1-leerder aan die Laerskool Piet Hugo in Polokwane, Limpopo, se linkerhand moes noodgedwonge geamputeer word nadat hy op 3 September ʼn bomklapper en vuurhoutjies in die hande gekry en dit aan die brand gesteek het. Caroline Strydom, Kosie se enkelma van vyf kinders, was die middag besig om huis skoon te maak en het gedink Kosie speel buite, toe hy in sy tienersuster se kamer ingeglip, op die klapper afgekom en dit aan die brand gesteek het.

Kosie Wessels. Foto: Via Child Medi Organisasion

Kosie Wessels. Foto: Via Child Medi Organisasion

Kosie se fratsongeluk het talle mense se harte aangeraak en met die hulp van die publiek en liefdadigheidsorganisasie, Child Medi Organisation, is genoeg geld ingesamel om vir sy prostese te betaal wat deur Gerhard Swart en sy kollegas van Medical Orthotist & Prosthetist vervaardig is.

Caroline en Kosie was vroeër vandeesmaand vir ʼn week lank in Pretoria terwyl sy prostese gepas en die eindproduk vervaardig is. Die twee is op 13 November terug huis toe, waar hy die volgende dag dapper terug skool toe is met sy nuwe handjie. Terwyl daar gewag is dat Kosie se wonde volkome herstel nadat sy hand geamputeer is, het sommige kinders by die skool hom oor sy stompie gespot en vir hom weggehardloop omdat hulle bang was daarvoor.

Kosie se kunshand. Foto: Via Child Medi Organisasion

Kosie se kunshand. Foto: Via Child Medi Organisasion

“Dit gaan nou baie goed met hom en hy is baie gelukkig. Hy kan die handjie al gebruik, maar nog nie ten volle nie,” het Caroline Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Hy kom mooi reg by die skool. Daar is nog maatjies wat hom spot, maar hy bekommer hom nie meer oor wat hulle sê nie en steur hom nie aan hulle nie.”

Volgens Amor Schoeman, woordvoerder van Child Medi, is dit noodsaaklik dat Kosie ten minste tussen vyf en sewe terapiesessies in sy tuisdorp ondergaan sodat hy kan leer om sy kunshand ten volle te gebruik. Die organisasie het reeds afslag by die terapeut gekry, maar benodig geld om vir die sessies, wat R300 elk beloop, te betaal.

Caroline het gesê buiten die terapie wat voorlê, sal Kosie se prostese aangepas moet word soos wat hy ouer word en groei.

“Die span Medical Orthotist & Prosthetist is wonderlike mense. Hulle het gesê hulle sal die pad saam met ons stap. Hulle is baie vriendelik en hulpvaardig. Hulle het regtig fantastiese werk gedoen en die handjie pas perfek. Hulle het gesê as enigiets fout gaan, is hulle daar om te help.”

Sy het gesê Kosie dra sy prostese permanent en haal dit net af as hy gaan bad, slaap of te warm kry.

“Buiten klein goedjies soos papiertjies wat hy al kan optel, kan hy ʼn koeldrankbotteltjie optel en vashou; verder help ek hom maar met ander goedjies waarmee hy sukkel.”

Strydom het al die rolspelers vir hul hulp bedank, asook die publiek wat hulle bystaan met gebede, ondersteuning en skenkings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marie visser ·

Liewe Kosie, ons weet sommer jy sal jou nuwe hand vinnig bemeester. Ons bid vir jou.

Karen van Zyl ·

Absoluut my ou yster, jy gaan nog baie verrig in die lewe.

wonder net ·

Ontstellend om te lees die kinders spot hom!! Kan die hoof nie maar die kinders opvoed deur hulle te leer om nie vir die, reeds getraumatiseerde kind, te lag en te spot nie. Dit is darem regtig boelie in my oë en ‘n skreiende skande.

Alida ·

Dit is maniere wat kinders by hul huise moet leer, nie by die skool nie. Sy klasjuffrou sou darem seker die klasmaats bietjie ingelig het?

Danie ·

Mense hoe kan ek die vrou in die hande kry asb wil graag help met ń skenking vir van die sessies asb

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.