Klapper-slagoffer se broer sterf tragies

Abraham (Braam) Strydom. Foto: Verskaf

Kosie Wessels, die sewejarige seun wat verlede jaar sy hand verloor het toe ʼn bomklapper daarin ontplof het, se broer is Woensdag in ʼn fratsongeluk by sy ouerhuis in Polokwane in Limpopo dood.

ʼn Gebroke Caroline Strydom (40), Kosie se ma wat deeltyds by kleuterskole in die dorp uithelp, het Donderdag aan Maroela Media gesê Kosie se ouer broer, Abraham (Braam) Strydom (21), een van ʼn tweeling, was by die huis toe die tragedie omstreeks 15:00 plaasgevind het.

“Braam was op die dak besig om blare van die dak af te vee en die geute skoon te maak. Ek het in die kombuis gestaan en ewe skielik ʼn harde klapgeluid gehoor,” het Strydom gesê.

Sy het na buite gehardloop, “Braam, Braam” geskreeu en toe sy op die dak kyk, het sy gesien hoe haar seun ruk.

“Ek het vir my bure geskree vir hulp. My buurman het vir my gesê om die krag by die kragboks in die huis af te skakel en ek het dit gaan doen. Ons kon hom eers daarna te hulp snel. My 12-jarige dogter kan noodhulp doen en het alles probeer om hom te help, maar hy is met paramedici se aankoms op die dak dood verklaar.”

Braam het vermoedelik op die dak met ʼn stukkende kragkabel in aanraking gekom wat aan die geyser, wat op die dak geleë, verbind is.

Braam (regs) en Pieter Strydom toe hulle kleiner was. Foto: Verskaf

Volgens Strydom was Braam se tweelingbroer, Pieter, tydens die voorval by haar broer waar hy stukwerkies gedoen het.

Sy verduidelik Braam was leergestremd en het stukwerkies by verskillende mense gedoen om ʼn inkomste te verdien.

“Hy was ʼn baie flukse seun. Hy wou net altyd almal help en was baie behulpsaam. Hy het ʼn hart van goud gehad en was altyd vol grappies. Hy wou net heeltyd almal laat lag het,” het Strydom hartseer gesê.

Sy het gesê Kosie huil baie. “Hy het gister se ding baie erg gevat. Hy kon nie verstaan wat die polisie daar soek en waarvoor hulle geel sperstroke moes span nie.”

Maroela Media het vroeër berig Kosie se fratsongeluk in September verlede jaar het talle mense se harte geraak. Hy het ʼn bomklapper en vuurhoutjies in die hande gekry, dit aan die brand gesteek en dit het in sy linkerhand ontplof. Sy hand moes noodgedwonge geamputeer word.

Strydom het nie ʼn mediese fonds nie en is ʼn enkelma. Met die hulp van die publiek en liefdadigheidsorganisasie, Child Medi Organisation, kon daar later genoeg geld ingesamel word om vir hom ʼn prostese te koop wat in November deur Gerhard Swart en sy kollegas van Medical Orthotist & Prosthetist in Pretoria vervaardig is.

Braam was ʼn oudleerder van die Nuwe Horison Skool. Hy laat sy ma, susters, Bianca Wessels (12) en Annabelle Strydom (18) en broers, Kosie en Pieter agter. Caroline het gesê hulle word deur ʼn plaaslike kerk bygestaan. Begrafnisreëlings moet nog getref word.

Die Polokwane-polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Kosie en sy ma, Caroline Strydom. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

andries visagie ·

Ek ken nie die mense persoonlik nie – ek het verlede jaar vir kosie ysies en koeldrank gevat toe hy sy handjie verloor het – Ek kan nie glo dat so n ongeluk die familie weer kon tref nie, dis baie hartseer – my innige simpatie met die familie

Lee ·

Ai dis so hartseer. Sterkte vir die familie. Dink aan julle en bid vir julle in die verskriklike hartseer tyd! xx

Elize ·

Ai mense dit is baie hartseer! Ek bid vir die Mamma en haar kinders en dat Jesus hulle sal troos in die hartseer tyd! Baie sterkte aan die familie! Mag God berusting bring en julle omvou met Sy liefde! ????

My vraag ·

My vraag: Behoort daardie geyser nie ‘n aardlek te hê soos deur die wet vereis? Indien hier ‘kortpad’ gevat is is iemand skuldig aan ‘n misdryf?
Dis hierdie hartseer wat dit moeilik maak om te verstaan “waarom?”
Sterkte aan die familie.

Jackie ·

Jy is 100% reg, indien die geyser voor 1976 geinstalleer is en geen werk die afgelope 41 jaar (wat ek beteyfel) op die geyser gedoen is nie is dit aanvaarbaar, maar volgens regulasies indien dit vervang of repirasie werk gedoen was moes dit ongetwyfeld ñ aardlek gehad het. My innige meegevoel aan die familie, ek dink daar is niks erger om jou eie kind aan die dood af te staan nie. Sterkte vir die familie

Gesiggie ·

Dit ruk my Hart… en ek vra Hoekom moet die Ma soveel hartseer ervaar.. hoe werk die lewe dan? Caroline my Innige meegevoel aan jou as Ma, mag Jesus jul styf vashou en aan jul vertroosting gee in die tyd van Hartseer. Ek is so jammer vir al jou seer. Alle sterke .

Jean ·

Ai hoe tragies. So jammer vir julle ontsettende groot verlies. Mag God julle vertroosting gee. Rus in Vrede ou seun.

Theresa ·

Baie innerlike krag word hierdie gesin toegewens. ASB laat die kragdraad wat moontlik bloot lê of foutief is onmiddellik nagaan en herstel word. So iets is lewensgevaarlik en ‘n volgende mens kan ook daar iets oorkom heel onbewus van die gevaar of selfs ‘n onverwagte brand kan ontstaan? Indien finansies kort om die herstelwerk te doen, vra die gemeente om ook daarmee te help. Baie sterkte om hierdie tragedie te verwerk.

Jammer ·

Dit moet vreeslik moeilik wees om 5 kinders te versorg, alleen! Hoe sorg mens dat almal kos kry, dat hul hul huiswerk doen, dat elkeen se spesiale behoeftes bevredig word…. Daar is sin daarin om minder kinders te kry. Dan kan mens hul beter versorg. As mens 5 kinders moet grootmaak en jy moet werk om kos op almal se borde te sit, dan eindig jy op om die klein kinders onder die sorg van die groter kinders te plaas en groot kinders is nie opgewasse om hul klein sibbe veilig te hou nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.