Klapper-slagoffer spog eersdaags met nuwe hand

Kosie Wessels (7). Foto: Verskaf

Kosie Wessels (7). Foto: Verskaf

Kosie Wessels (7), die seun van Limpopo wat sy linkerhand in ʼn fratsongeluk met ʼn bomklapper verloor het, kry volgende week sy “nuwe hand” in Pretoria.

“Hy is baie opgewonde en vertel vir almal hy kan nie wag vir sy nuwe handjie nie. Hy behoort teen volgende Saterdag ʼn vleeskleurige hand te hê waarvan die vingers kan beweeg,” het Caroline Strydom (38), Kosie se ma, Vrydag  aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het vroeër berig Kosie, ʼn gr.1-leerder aan die Laerskool Piet Hugo in Polokwane, se linkerhand moes noodgedwonge geamputeer word nadat hy op 3 September ʼn groot klapper en vuurhoutjies in die hande gekry en dit aan die brand gesteek het. Strydom, ʼn enkelma van vyf kinders, was die middag besig om huis skoon te maak en het gedink Kosie speel buite, toe hy in sy tienersuster se kamer ingeglip, op die klapper afgekom en dit aan die brand gesteek het.

Kosie se fratsongeluk het talle mense se harte aangeraak en met die hulp van die publiek en liefdadigheidsorganisasie, Child Medi Organisation, is genoeg geld ingesamel om vir sy prostese te betaal.

Kosie en sy ma, Caroline Strydom. Foto: Verskaf

Kosie en sy ma, Caroline Strydom. Foto: Verskaf

“Kosie en sy ma vertrek Sondag na Pretoria waar sy eerste passing gaan wees. Ons wil net vir Gerhard Swart van Medical Orthotist & Prosthetist, wat sy prostese maak, baie dankie sê vir die pad wat hy saam met ons gestap het,” het Amor Schoeman, woordvoerder van Child Medi, gesê. Kosie se prostese sal aangepas moet word soos wat hy groei.

Strydom het gesê sy is baie dankbaar vir al die rolspelers en skenking en bystand van die publiek.

“Hoewel sy regte handjie vir altyd weg is, sal dinge bietjie meer na normaal terugkeer. Hy is terug by die skool, maar dit is vir hom moeilik. Van sy skoolmaats spot hom en is bang vir hom. Hulle hardloop vir hom weg as hulle sy arm sien.”

Strydom het gesê Kosie se wond het intussen mooi genees en is nog net ʼn bietjie rooi. “Hy het darem nie meer pyn nie, maar kry nog nagmerries.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Raymond Bastone ·

Baie mooi dit is nou goeie nuus. Sterkte ons bid vir julle dat dit goed sal gaan

charlene ·

Dis `n ongelooflike paar mooi fotos wat julle hier het. As mens kyk na die vorige fotos waar hy so hartseer is en so bang is – en hier waar hy so mooi lag. Dis net amazing!
Ek is bly daar is `n lig aan die einde van die tonnel! Ek vir die ander mamma’s in daai skool vind asb uit as julle kind nie deel is van die wat spot nie, dis los litsels op `n kind, maak seker jou kind vertaan wat gebeur het en hulle is nie bang nie en hulle spot nie vir Kosie nie. My kind van 5 is nie bang daarvoor nie. Sy weet Jesus het hulle anders gemaak want ons almal moet nie dieselfde lyk nie en Jesus is baie lief vir hulle net soos hulle is. Sy verstaan ook mense met rolstoele – hulle bene en voete is net moeg en wil nie meer werk nie.
Kinders wat spot (veral gr 1 maikies) vertaan nog nie so mooi hoe seer hulle woorde maak nie. Kosie jy is `n pragtige seuntjie en al ken jy nie die tannie nie, het jy `n sagte plekkie in haar hart. (en bly uit ou-sus se kamer, ek is ook die jongste en was ook nog altyd lief vir loer in ou-sus se kamer).

Griet ·

Kan die onderwysers in die skool nie asb ook net mooi met die kinders praat en verduidelik wat gebeur het en hoe dit voel om verstoot te word ens nie. Asb beskerm die kind en maak hom nou groot vir die toekoms waar hy ‘n positiewe rol kan speel.

Geen simpatie ·

Juffrou moet liewer vir hulle sê dis wat gebeur as mens se ouers hulle agter ente afvee aan die wet. Party mense volg nie reëls as hulle nie nie kan sien wat die rede daarvoor is nie. Wel, hierdie is een van die redes hoekom klappers onwettig is, maar spyt kom altyd bietjie laat ne Pa en Ma??

Janine ·

Absolute waarheid! Ek voel jammer vir die seuntjie, maar blameer ook sy ma. Ek verwens elke varknek wat klappers skiet oor die algemeen. Dis ‘n verdomde verpesting.

Feit bly staan; nie EEN van haar kinders moes klappers in hul besit gehad het nie.

Hmm ·

Dit was nie ‘n fratsongeluk nie, eerder iets wat voorkom kon word.

Sus ·

Wonder wat het van die dogtertjie geword wat so ongeveer 40jaar gelede albei haar hande in ‘n plaas impliment (stroper of hamermeul?) op haar oupa se plaas verloor het. As ek nie mis het nie was dit in Vereeniging-omgewing. Weet iemand dalk?

Bertus ·

Dit en baie ander ongelukke kan verhoed word…verban alle klappers vir privaat gebruik. Dit is net n mors van geld, en aan die einde ly mens en dier…

Wenner ·

Sus, ek wonder saam met jou! Ek onthou daardie tragedie netso goed! En vir diegene wat so tekere gaan oor die klappers: ek voel PRESIES dieselfde soos julle, maar hou op om die ma te oordeel! Sy kon dit mos nie keer nie! Hoe op aarde moet n enkelma van VYF kinders, elke liewe dekselse ding ondersoek wat die kinders die huis inbring? Haar las is swaar genoeg! Hou op klippe gooi!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.