Klarissa Joubert se liggaam gevind

Klarissa Joubert.

Die soektog na Klarissa Joubert, ʼn 19-jarige student van Orania wat Donderdag in die Oranjerivier verdwyn het, het tragies geëindig toe haar liggaam kort gelede gevind is.

Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, sê Joubert se liggaam is Maandag gevind naby die plek waar die fratsongeluk verlede week gebeur het.

Maroela Media het vroeër berig Joubert en nog vriende het op binnebande in die rivier afgedryf toe die band oënskynlik omgeslaan en Joubert in die water beland het. Haar maats het haar kort daarna uit die oog verloor, maar so gou moontlik hulp ontbied.

ʼn Enorme operasie is daarna van stapel gestuur om Joubert op te spoor. Hommeltuie, vliegtuie en helikopters het die gebied uit die lug gefynkam, snuffelhonde is ingespan en vrywilligers – almal van boere tot inwoners van die gebied – het onophoudelik gewerk om die rivier en omliggende gebied vir enige teken van Joubert te deursoek.

“Orania Veiligheidsdienste, die polisie en amptelike dorpsverteenwoordigers is op die toneel om die reuseoperasie wat oor etlike dae gestrek het, af te handel,” het Strydom gesê.

“Tydens die soektog het Orania se amptelike veiligheidsgroepe, OraniaMED24, die polisie, boere uit die omgewing en honderde vrywilligers dag en nag saamgewerk om Klarissa te vind. Die Orania-gemeenskap, die omliggende boere en amptelike strukture se samewerking is ʼn duidelike bewys van die vermoë wat ontsluit kan word as ʼn gemeenskap saamwerk na ʼn gemeenskaplike doel – selfs in ʼn baie traumatiese tyd.”

Strydom sê tydens die soektog na die jong meisie is ʼn wye ondersteuningsnetwerk gevorm, wat alles van kos en brandstof tot gebede en ondersteuning ingesluit het.

“Die familie het opregte dank aan die gemeenskap van Orania, die vrywilligers, hulle vriende van Ermelo, die polisie en elke helper uitgespreek.”

Hulle het ook gevra dat hul privaatheid in hierdie tyd gerespekteer word.

Honderde boodskappe van medelye het reeds ingestroom nadat die nuus oor Joubert se dood bekend geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Gerd Lourens ·

Sjoe, soooo hartseer.
My innige meegevoel word betuig met haar familie en vriende.
Dankie aan die Orania-gemeenskap wat so saamgestaan het.

Net ek ·

Dis baie hartseer. Baie sterkte aan al haar vriende en familie. Mag die Liefde van Jesus hulle toevou en vertroosting gee in hierdie hartseer tyd.

ameli ·

So so hartverskeurend. Geen woorde kan die hartseer ongedaan maak nie. Mag die familie net Die Vader se liefde en vertroosting ervaar.

Wielspore ·

Die mense wat ek lief het
Kom groei op my soos mos
Daar laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
– Beskut teen die koue –
Die snoesigheid self:
Ek met my moskombersie

Persheks Adri ·

Ai my hart is stukkend! Ek’t so gebid vir die kind. Alle sterkte aan die familie en vriende in die moeilike tye mag God julle dra en sy in vrede rus! Nou tjank ek al weer…

Pieter ·

Bly haar liggaam is gevind na al die dae, dit bring berusting by die familie. Jammer sy het so jong en tragies gesterf nadat hulle pas daar ingetrek het. Mag God julle vertroosting en berusting bring.

Soos met alle ongevalle, mag Orania hieruit leer en onmiddelik hierdie soort ontspanning op die Oranje Rivier aanspreek, veral mbt reddingsbaadjies, tye van ontspanning, geskiktheid van buitebande en risiko van snel vloeiende rivier (spoed, klippe in water, water gehalte en turbiditeit van water). Laat my terugdink aan laasjaar se drama by Nyati Lodge langs die Krokodilrivier by Beestekraal. ‘n Lewe verloor is onvervangbaar.

KlipRSA ·

So jammer om hiervan te hoor. Baie sterkte aan haar geliefdes…

Mickey ·

rus sag by Pappa God se voete. Sterkte aan die familie en vriende

Adrie ·

Innige meegevoel aan die familie en vriende. Ons het gebid dat sy veilig gevind word maar ons berus in God se beskikking. Mag sy in vrede rus. Baie sterkte aan haar familie en vriende.

Sandra ·

Aai tog, dis tragies. So ‘n mooi kind. My innige simpatie aan die ouers.

Casper ·

Ai Klarissa,as die stroom jou maar net kon uitspoel in plaas van insluk kon al hierdie hartseer ons as lesers gespaar gewees het.Aan haar mamma en Pappas en ander familie wat vir haar lief is laat sy in julle harte voortleef en mag Julle troos vind by ONS HEMELSE VADER.Sy is van julle weggeneem nog voor sy haar drome kon najaag.Orania se mense dankie vir julle hulp om Klarissa te vind.Ons het self ‘n baba sentjie aan die dood afgestaan 10 minute na sy geboorte in 1987.Na al hierdie jare het ek nog geen antwoorde op my vrae gekry nie.

Donene ·

Dit is tragies hartseer. My innige meegevoel met haar kosbares. Welgedaan aan elke persoon wat help soek het na Klarissa, ‘n pragtige voorbeeld van saamstaan wat ons almal kan van leer.

Nico ·

My innige meegevoel met die afsterwe van Klarrisa, gee ruimte aan die familie, gee ondersteuning aan die familie. Hoe sal ons ooit waarom dit gebeur het, God die Vader se weë is vir ons onbekend, tog sal Hy vertroosting bied.

Regverdigheid ·

So sad so jonk rus in vrede ..Sterkte aan die familie mag God jul styf vashou en vertroos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.