Klasaksie oor silikose kry hupstoot in appèlhof

(Foto: GroundUp/ Ben Bezuidenhout/ Wikimedia)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die appèlhof het ʼn aansoek van twee mynmaatskappye, waarin hulle die vroeëre sertifisering van ʼn groepsgeding betwis, van die hand gewys. In die groepsgeding kan die maatskappye moontlik aanspreeklik gehou word vir skadevergoedingseise deur duisende mynwerkers wat silikose opgedoen het.

Benewens die aansoek om die sertifisering ter syde te laat stel, het DRD Gold en East Rand Proprietary Mines ook gevra dat die besluit in die Johannesburgse hooggeregshof, om gemene reg te ontwikkel sodat die families van mynwerkers wat reeds gesterf het (of kan sterf voordat die saak afgehandel is) ook uit ʼn skadevergoedingsbetaling of skikkingsooreenkoms kan baat.

Die appèlhof het albei aansoeke van die hand gewys en die saak van die rol geskrap.

Dit beteken die groepsgeding kan nou voortgaan.

In hierdie stadium maak 69 applikante deel uit van die saak en ʼn proses is aan die gang vir ander mynwerkers om ook deel te word van die hofsaak.

Nadat die sertifisering van die klasaksie aanvanklik gedoen is, het verskeie van die betrokke mynmaatskappye skikkingsooreenkomste aangegaan met die werkers wat in hul diens was.

DRD Gold en East Rand Proprietary Mines het egter ʼn appèlaansoek ingedien.

Regter Christiaan van der Merwe het die afgelope week in sy uitspraak in dié aansoek gesê dit is gemene saak dat duisende ondergrondse mynwerkers in Suid-Afrika silikose of tuberkulose opgedoen het weens die inaseming van groot hoeveelhede silikastof.

Silikose is ʼn pynlike en ongeneeslike siekte en lei dikwels tot die dood.

Die mynwerkers voer aan dat hoewel tuberkulose ʼn behandelbare bakteriële longsiekte is, blootstelling aan uitermatige silikastof die risiko vir mynwerkers verhoog om die siekte op te doen.

Nadat die sertifisering vir die groepsgeding gedoen is, het die hooggeregshof ook ʼn bevel gemaak dat enige eis vir algemene skade, pyn en lyding, of verlies aan lewensgenot, wat vantevore met die dood van die eiser beëindig is, kan voortduur.

Dit beteken hul erfgename of familielede kan steeds by sulke eise baat.

“Die afhandeling van die klasaksie moet versnel word en vir my is dít in die oorwegende belang van geregtigheid,” het die regter bevind.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning deur Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Skitterend,nou kan families wat broodwinners verloor het baat vind by wyse van eise.Baie mense het finansieel swaar gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.