Klasaksie teen Ford op pad

renisha-en-kaveen-jimmy

Foto: ’n Skermskoot uit eNCA se regstreekse uitsending van die mediakonferensie.

Die familie van Reshall Jimmy, die man wat in Desember 2015 in sy Ford Kuga in Wildernis in die Wes-Kaap doodgebrand het, gaan ʼn klasaksie teen Ford SA instel.

Dit kom te midde van berigte dat nog ʼn Ford Kuga vanoggend in Johannesburg in die ry aan die brand geslaan het. Ford SA het gister amptelik die sowat 4 500 Ford Kuga 1,6-liter EcoBoost-sportnutsvoertuie wat tussen Desember 2012 en Februarie 2014 in Spanje gebou is, herroep.

Jimmy se broer en suster, Kaveen en Renisha, en hulle regsverteenwoordiger, Rod Montano, het die media vanoggend in Pretoria tydens ‘n geleentheid van die Nasionale Persklub toegespreek. Die familie, wat ʼn Facebook-groep vir bekommerde Kuga-eienaars gestig het ná hulle broer se dood, het reeds 31 klagte aan die Nasionale Verbruikerskommissie oorhandig. Montano het gesê die uitstaande klagte van die 47 brandvoorvalle wat op die groep gedokumenteer is, sal ook ingevorder word vir die beoogde regsgeding en aan die verbruikerskommissie oorhandig word.

Renisha en Kaveen het nie mooi broodjies gebak oor sekere van die uitsprake wat Ford SA se bestuur gister tydens die herroeping gemaak het nie.

“Ek verstaan nie hoe die herroeping verskil van die veiligheidsinspeksies wat sedert Desember gedoen word nie. Kuga-eienaars het toe ook hul motors vir die nodige herstelwerk ingeneem en brande het steeds in die enjins ontstaan. Die Kuga moet volgens my heeltemal van die pad verwyder word,” het Renisha gesê.

Sy het ook die verbruikerskommissie aangevat omdat dit moeilik is om klagte by die kommissie te lê. “Die kommissie en ombudsman vir die motorbedryf het talle Kuga-eienaars van bakboord na stuurboord gestuur. In sommige gevalle is die bekommerde eienaars terugverwys na Ford wat hulle weer na hulle eie versekering verwys het,” het Renisha gesê.

Tervor Hattingh, woordvoerder van die verbruikerskommissie, het tydens die mediakonferensie verduidelik dat daar seker prosesse is wat gevolg moet word indien ʼn verbruiker ʼn formele klagte by die kommissie wil lê. “Die prosesse is om te verseker dat daar genoegsame bewyse is om die saak na die hof te neem, indien dit moet. Die kommissie het eenvoudig net nie genoeg hulpbronne om elke telefoonoproep en e-pos op te volg nie.”

Hattingh het gesê die verbruikerkommissie sal wel nou ʼn onafhanklike ondersoek van stapel stuur met al die bewyse wat hulle van die publiek en die Jimmy-familie ontvang het. “Kuga-eienaars kan steeds ʼn klagte by die kommissie lê of ʼn siviele saak instel, al is die voertuig herroep,” het hy gesê.

In tussen smag die Jimmy-familie na afsluiting. “Dit sal gebeur wanneer Ford verantwoordelikheid neem vir al die brande en amptelike verskoning aan ons ma vra. Ons as familie moet sedert Reshall se dood die gebeure byna daagliks herleef. Dit is tyd dat Ford besef Suid-Afrikaanse lewens is net so belangrik soos die lewens van Amerikaners. Ons het net soveel Kuga-brande gehad as wat in Louisville in die VSA plaasgevind het en die motor is daar aan die mark onttrek,” het Kaveen gesê.

Shaun Tompson, ʼn Kuga-eienaar van Vanderbijlpark, reken hierdie is beslis nie die einde van Ford SA se probleme nie. “Ford sê die Jimmy-saak is uniek en nie verwant aan die ander brandvoorvalle nie omdat die brand deur ʼn elektriese fout veroorsaak is. My Kuga het in September 2015 weens ʼn elektriese fout op die stelsel wat die sitplek verskuif, vlamgevat en in my motorhuis begin brand.” Tompson se Kuga is egter ʼn 1,5-turbo wat nié deur die herroeping geraak is nie. Hy het gesê hy weet van minstens nog een 1,5-Kuga wat uitgebrand het.

“As ons nie hierdie Facebook-groep begin het nie, sou Ford eenvoudig die hele saak net onder die mat ingevee het. Ford sê daar word dinge van die maatskappy gesê, maar dit is feite. Die hele saak is bitter swak gehanteer veral as ʼn mens in ag neem dat Ford reeds jare weet van verskeie brandvoorvalle oorsee en tog steeds besluit het om die Kuga plaaslik in die mark in te stoot.”

Vivienne Jordaan, ʼn Kapenaar wie se Kuga binne ʼn halfuur in November 2016 op die R300 uitgebrand het, het gesê sy het reeds haar dokumentasie en bewyse vir die regsgeding aan Montano oorhandig. “Dit gaan beslis nie oor geld nie, my versekering het reeds uitbetaal en ek het reeds ʼn ander motor. Ek ondersteun die Jimmy-familie ten volle in hierdie regsgeding. Die Kuga moet eenvoudig van die pad afgekry word om te verhoed dat nog iemand in die toekoms doodbrand.”

  • Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die Ford Kuga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Jaco ·

Nee dis die term wat gebruik word wanneer n klomp mense saam n regsaksie teen n ander maak. In die geval al die Ford Kuga eienaars teen Ford.

Jaco ·

Motorfirmas het nodig om na hulle klante om te sien. Hulle is baie daaraan skuldig om die verbruiker te boelie. 15 jaar gelede was die eerste voorbeeld met GM en Isuzu toe die Isuzu n onderontwerpte onderstel gehad het. Nou is dit Ford wat blykbaar ook hul foute ontken. Groot boelies! Hoop motorfirma’s sal eendag uuteindelik ophou om boelies te wees teen onskuldige verbruikers.

KP ·

Dagvaar hulle. Dit is hoogtyd dat hulle verantwoordelikheid aanvaar.

Piet ·

Die eienaars van ander Ford modelle is nou so stil mens kan ‘n speld hoor val. Hulle het ons Toyota manne noudie dag lekker gas gegee omdat ons Toyotas so maklik omslaan. Ek weet meganiese betroubaarheid is nie al waaraan karre gemeet word nie, maar is dit nie maar die belangrikste nie? My 2L Toyota Hilux het 360’000Km geloop en is steeds die bakkie wat ek elke dag ry.

Peet Schabort ·

Ja Piet, my 1994 Toyota dieselbakkie het nou 374000 km waarvan ek geen enjinmoeilikheid gehad het maar wel koppelaar wat te wagte is. Ek kan dit egter nie sê van my 2008 Corolla Exclusive (koopprys R223000) wat na 95000 km begin het met aansitprobleme. Regmaak het my R15572-40c gekos. Ek is diep ongelukkig hieroor en Toyota gaan van my hoor. My ander voertuig is ‘n eenvoudige 1300 Ford Ikon met 142000 km gedoen wat nie eens ‘n kattebaklig het. Die het my nuut R85000 gekos. Vergeleke met die Corolla kon ek bykans 3 van hierdie Ikons gekoop het en weggegooi het soos ek die een na die ander kaf gery het.

Gerhard ·

Ek ry twee Ford’s en tevrede met beide. Het voorheen al baie ander voertuie gery insluitende Toyota Hilux. Hierdie probleem is n uitsondering nie die reel nie.

Grens ·

Nee wat Piet, Hilux is defnitief nie die beste nie, ek ry ‘n 2013 model Hilux D/cab en my uitgawes tot dusver staan kort by die R28 000 (dienste uitgesluit) aan koppelaar en “flyweel” probleme, asook die “nok sensor” wat losgeskud het en my al twee maal langs die pad laat staan het.

juhan ·

Ek het vannoggend my kar ingeneem ford toe, daar was vir my gese hulle het alreeds november my regstellings gemaak ,hulle moet net weer inspekteer en hulle stelsel opdateer so as my kar brand dan gan dit help om my yttebetaal ? Daar is geen oplosing nie assook geen antwoorde , Die Ford handelaars kan geen informasie gee nie assof hulle nie ingelig is wat aangan nie ,Die Diens en houding wat ek ontvang het is pateties.

GES ·

Ford kon groot drama afgeweer het as hulle vroeg reeds herken het daar is ʼn moontlike probleem. Hulle het ongelukkig die minder eerbare roete gevolg en gehoop die probleem sal self weggaan. Hierdie saak gaan hulle baie baie geld kos ….

Oosie ·

Hulle noem dit ‘Dumping’. (Wanneer probleme of gemors van oorsee hier ge-dump word)

Vra net? ·

Ek verneem van x2 mense die week dat hulle Ecosport ook “gecheck” word??? Hoekom dien Ford dit skelm????? Ek dog dis net die Kuga’s wat asn die brand slaan?

E ·

Was hul net in Spanje gebou en hier aanmekaar gesit?
Het Spanje die engins gedoen?
Die vraag is watter maatskappy het watter dele gemaak en watter maatskappy het aanmekaar gesit. Meer as net Ford SA wat in die sop is.

Rupert Ashford ·

Hoekom hoor mens nie van soortgelyke gevalle oorsee nie? Is hierdie spesifieke enjinmodel slegs in RSA beskikbaar?

Johan ·

Net een dom vraag as almal geweet het soos hulle nou voorgee dat dit in die verlede gebeur het en en en wonder ek net hoekom hulle die motor sou koop ek het al van baie ander motors gehoor wat gevaarliker fabrieks voute gehad het

Theo ·

Ford het ‘n manier om weg te kom van probleme af, self ‘n stel afgetrap met my BT50 wat nie wou aanskakel nie, blykbaar toe’n solenoid op die diesel pomp wat vervang moes word.

Kom die middag terug by |Ford en vra waar is my bakkie, geen teken nie… kry toe op die ou ent my bakkie by ‘n backyard mechanic waar die diesel pomp sommer in die grond staan waar hy die solenoid sommer met ‘n hamer afgekap het.

Dit is die tipe diens wat Ford/Mazda lewer… wees versigtig… die bakkie het toe maar net 85000 km opgehad en die herstel was onder waarborg maar defnitief nie by ‘n ordentlike plek nie.

FouteOralenReperasiesDaagliksBrandende ·

Johan ford was nog nooit ‘n ryding gewees nie. Koop vir jou liewer ‘n ou Beetle, hy is beter as enige frot.

Wilma ·

Ek ry self ‘n Kuga 2l Diesel. Ek is baie tevrede met my kar. Ongelukkig word al die modelle nou onder dieselfde kam geskeer. Maar ja, needless to say, ‘n mens is maar skrikkerig en versigtig en enige vreemde reuk laat mens maar wonder.

Aubrey Vermaak ·

Nadat ek alle feite en nuus berigte gelees het en foto’s en videos van die Kugas gesien het is daar iets wat nie lekker klink nie. As mens die video van Jimmy se kuga sien wat brand dan sien jy dat hy terwyl dit brand die motor in trurat dit. Hoekom?? Vraag is hoekom het hy nie uitgeklim nie ??? Alle ander drywers van kugas wat aan die brand geraak het het uitgeklim. En dit is volgens my die rede hoekom Ford nie verantwoordelik vir sy dood aanvaar nie. Ek ry al 37 jaar Fords. Het al alle modelle gehad. Het huidiglik n Ranger Wildtrak en Focus ST. Niemand gaan my oortuig om n ander maak kar te koop nie. Ek het al probleme gehad maar dis nog altyd opgelos. Dis maar net my een sent bydrae.

Griet ·

“Het julle geweet alle bakkies word in een fabriek gebou? Almal wat van die produksielyn af kom, word buite in ‘n ry geparkeer.

Die volgende oggend word hulle gestart en elkeen kry ‘n badge. Die een wat nie wil start nie, kry ‘n Nissan Badge. Die een wat eerste begin warm word, kry ‘n Isuzu badge. Die een met die oliekol kry ‘n ‘n Ford Badge, die een met die GROOT oliekol, kry ‘n Land Rover badge. Die een wat staan en melk lek, kry ‘n Amarok badge. Toyota kry nie ‘n badge nie, want hy’s in die nag gesteel! ” LOL :-)

Kon nog nie uit”figure” wat het van die Mazda geword nie. . . . ;-) ! !

Herman ·

Ek het in my lewe 4 Fords gery. RS2000, MK1, MK2, en nou ‘n Fiesta. Ek het nog nooit enige geld uitgegee op een van hulle nie, behalwe petrol en tyres en dienste. Elke fabrikaat het erens maar ‘n probleem. Hierdie is maar net ‘n fabrieks fout so om Ford daarvoor af te kraak is onsinnig.

Lynette ·

Ek het jare gelede dieselfde probleem met Ford gehad wat geen verantwoordelikheid neem vir fabrieksfoute nie. Ek het n splinternuwe Ford Laser Dash gekoop en moes kort-kort kar terugneem en het band n paar keer moes vervang. Hulle het elke keer aan die kar gewerk en ek moes net opdok. Een wiel balansering na die ander.Toe ek weer die kar terug by hulle gehad en betaal het, lees ek op die faktuur die plek wat balansering gedoen het, skryf iets van “out of round”. Die werkswinkel bestuurder het met n ander klient gesels en toe ek vra wat out of round beteken, kyk die klient na die faktuur en se dat dit n fabrieksfout is. Ek het onmiddellik my tjek gekansselleer en my vorige uitgawes terug geeis maar hulle het net verskonings gehad dat bande nie gedek word onder die waarborg nie. Niks van die feit dat die bande afgeloop het agv n fabrieksfout nie. Ook nie die feit dat hulle bewus was van die fabrieksfout en niks gese het nie en maar elke keer kastig iets gedoen en ek moes maar net betaal. Ek het die kar verkoop en n tweedehandse Hyundai Elantra gekoop wat my jare se goeie ry ondervinding besorg het. EK SAL NOOIT OOIT WEER N FORD KOOP NIE!!!!! Net oor die slegte naverkope diens van Ford agente.

Uiltjie ·

GRIET! GRIET! GRIET! Jy’t my dag gemaak! Baie lekker gelag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.