Klasaksie teen Sibanye ingestel ná talle sterftes

Argieffoto

ʼn Klasaksie-regsgeding is teen Sibanye-Stillwater aanhangig gemaak nadat talle werkers sedert die begin van die jaar by sy myne gesterf het.

Die Amerikaanse regsfirma Bernstein Liebhard het Donderdag die klasaksie-regsgeding teen die maatskappy aanhangig gemaak. Die regsgeding is namens aandeelhouers aanhangig gemaak in ʼn poging om hulle vir hul verliese te vergoed nadat die hoë aantal sterftes by die myn Sibanye se aandeleprys laat tuimel het.

Sibanye-Stillwater het Donderdag gesê hy sal homself “ten sterkste verdedig” teen hierdie regsgeding. “Die maatskappy neem kennis van die mediaberigte oor die saak en indien enige eise teen die maatskappy ingedien word, sal die maatskappy homself ten sterkste verdedig. Ons gaan voort om die verwikkelinge ten nouste te monitor,” het Sibanye in ʼn verklaring gesê.

Net Dinsdag is nog ʼn werker by Sibanye se Khomanani-myn in Driefontein dood nadat hy glo voor ʼn skraper beland het. Vroeër vandeesmaand is vyf mynwerkers dood nadat hulle ʼn verlate werksgebied by Sibanye se Kloof Ikamva-skag naby Westonaria binnegegaan het. Die werkers het vermoedelik weens onvoldoende ventilasie gesterf.

Sibanye-Stillwater het hom die afgelope tyd erge kritiek op die hals gehaal oor die beweerde gebrek aan behoorlike veiligheidsmaatreëls by sy myne. Van die 45 sterftes in die Suid-Afrikaanse mynbedryf vanjaar, het 21 by Sibanye-myne plaasgevind.

Bernstein Liebhardo het in ʼn verklaring gesê die regsgeding sal die “misleidende verklarings” aanspreek wat Sibanye oor hierdie sterftes gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

Hoeveel van die mynaktiwiteite waartydens werkers dood is , was onwetig? Hierdie onwettighede gaan eerder toeneem as afneem.

IK ·

Gesonde verstand sê vir my dat veiligheid meesal te doene het met jou as werker se optrede. Wat is dit wat maak dat jy afgesperde gebied betree, voor ‘n skraper beland ens.? Indien ek 10 mynskagte bedryf en jy 2 dan is dit mos vanselfsprekend dat my kanse op ‘n ongeluk groter sal wees. Om net bloot getalle te vergelyk is sinneloos. Ja, ek was 25 jaar werksaam op ‘n myn en het nogal heelwat opmetingswerk as mynopmeter gedoen en weet waarvan ek praat.

IK ·

Opmetingswerk wat regstreeks te doene het met mynongelukke oor ‘n breë veld.

IK2 ·

Jy is 100% reg. Mense het ‘n “attitude” probleem. Opleiding word gegee maar dood eenvoudig geignoreer in die werksplek.

Pieter ·

Daar word 36 boere vermoor in 6 maande maar dit is niks nie. Myners doen n gevaarlike werk maar om te boer is n groter risiko

Elmarie ·

Ek het as safety officer gewerk op oopgroef myne asook ondergronds. Ek wil graag weet hoekom hierdie myn na die eerste ongelukke nie gesluit is en die myn nie n sect. 54/55 gegee is nie? Hoe kon hulle aanhou werk terwyl daar fatalities was? Of word net sekere myne so streng met die mine health and safety act geslaan….en sekeres kan daarmeë wegkom? Wonder maar net….

IK2 ·

Sect 55 is gegee waar ‘n ongeluk gebeur. Daai area word gesluit en ondersoek. Sect 54 stop ‘n hele myn – Weet jy watse verlies aan inkomste bring dit mee ? In meeste gevalle is dit werkers wat veiligheids meganismes ignoreer – Maar die “Myn” word aanspreeklik gehou. Die bal moet aangestuur word na die regte persoon, maar daai een lê 6 voet onder.

GM ·

Daar sou voldoende ventilasie gewees het as hul nie op ‘n verlate plek gaan rondsluip het nie. En is dit die myn se skuld as jy voor ‘n stootskraper beland? Dis net soos die outjies wat oor die hoofpaaie hardloop en dan deur ‘n motor getref word. Is die motoris verkeerd? Ek kan nie dink dat hul nie vir die bestuurder van die stootskraper opleiding sou gee nie? Vir al wat ons weet het die een nou weer die ander een kwaad gemaak, en toe is daar ‘n ‘ongeluk’.

JDB Prok ·

Mynbou is gevaarlik dit verg tegniese en dikwels spesialis kennis. Sekere oorsake vir ongelukke is komplek en is dit van kardinale belang om dit behoorlik te analiseer.

Baie is deur die jare gedoen om mynogelukke te voorkom.

Dit verg samewerking van alle rolspelers om myne veilig en ongeluksvry te hou. Daar is verskeie redes vir mynongelukke en soms is dit n kombinasie van verskillende faktore deur verskillende rolspelers.

Dit is so dat werknemers dikwels instruksies en standaard operasionele prosedures verontagsaam, dit is ook so dat daar van tyd tot tyd patent gebrekke is of foute in prosedure, of onvoorsiene faktore, of gebrek aan behoorlike toesig en beheer / instruksies.

Elke saak moet op sy eie meriete ondersoek word.

Ek is veral jammer vir elke persoon wie sy lewe in die myn verloor en veral vir die familie en vriende wat agterbly.

Dis jammer dat klasaksie oorweeg word omdat aandeelhouers geld verloor in plaas daarvan dat aandeelhouers klasaksie oorweeg oor lewensverlies.

Mynbou het meer en meer tegniese hulpmiddels nodig om insidente te voorkom / voorspel en dalk kan aandeelhouers sommer bele om myne veiliger (en gesonder) te help maak.

Elke mynongeluk / insident is n jammerte en dit is goed dat daar so deeglik ondersoek ingestel word om die grondoorsake van ongelukke te identifiseer sodat myne veiliger word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.