Klasaksiegeding kom ná sterftes van psigiatriese pasiënte

Sandra de Villiers, 'n familielid van een van die slagoffers. Foto: Reint Dykema

Sandra de Villiers, ‘n familielid van een van die slagoffers. Foto: Reint Dykema

Solidariteit Helpende Hand gaan ’n klasaksiegeding teen die departement van gesondheid van stapel stuur ná die tragiese dood van minstens 94 gestremde pasiënte.

Helpende Hand is van mening dat die pasiënte in die sorg van nieregeringsorganisasies oorgeplaas is sonder dat die departement van gesondheid genoegsame voorbereiding getref het vir die oorplasings wat deur die departement gemagtig is.

Die klasaksiegeding eis dat geregtigheid moet geskied: Weens die growwe nalatigheid van die departement het die naasbestaandes van die oorledenes onnodige pyn en lyding deurgemaak.

Die aksie sal deel uitmaak van ’n drieledige strategie om aandag te gee aan die Life Esidemeni-kwessie: Helpende Hand wil aansoek doen vir ’n strukturele interdik om die departement te dwing om binne 90 dae op ’n gestruktureerde basis onder die howe se toesig planne aan die hof voor te lê om te verseker dat so ʼn situasie nie weer sal voorkom nie.

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Voorts sal die voorgestelde interdik ook versoek dat die staat binne 90 dae ná die eerste verskyning weer aan die hof ʼn verslag moet voorlê hoe die planne geïmplementeer is.

Laastens wil Helpende Hand die hof versoek om die saak te verwys na die klagtes wat ingedien is by Direktoraat vir Openbare Vervolging (DOV).

Volgens dr. Dirk Hermann, voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand, is die verval van die staat aan die wortel van hierdie tragedie en sal dié organisasie nie meer toekyk hoe onskuldige Suid-Afrikaners weens onbekwaamheid en ondeurdagte besluite ly nie.

Familie van die slagoffers, Sandra de Villiers en Miriam Monyane saam met Dirk Hermann.  Foto: Reint Dykema

Familie van die slagoffers, Sandra de Villiers en Miriam Monyane saam met Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

“Ons wil ’n stem aan hierdie 94 slagoffers gee. Hul sterftes het ’n baken geword van ’n staat wat sy pligte versuim. Helpende Hand besef dat hierdie geding nie die lewens van die afgestorwenes kan terugbring nie, maar ons kan ook nie toelaat dat hulle in stilte sterf nie. Die departement van gesondheid se versuim om op die talle hulpkrete en waarskuwings te reageer, getuig van flagrante arrogansie. Die departement moet verantwoordelik gehou word,” het Hermann gesê.

Helpende Hand was vir maande lank met die Gautengse departement van gesondheid in ’n hofgeding betrokke oor die versorging van gestremde pasiënte by die Cullinan Care and Rehabilitation Centre.

Dié organisasie se regsverteenwoordigers het reeds op 9 Julie 2016, namens hul kliënt, die Siyabadinga-nieregeringsorganisasie, ’n dringende aansoek voor die Noord-Gautengse hooggeregshof gebring. Aansoek is gedoen vir die aanstel van ’n kurator om beweerde growwe nalatigheid en mishandeling van pasiënte deur werkers van die departement van gesondheid te ondersoek.

Hoewel die aansoek op ’n dringende basis voor die hof gebring is, het daar ’n tydperk van drie weke verloop waartydens die saak nie minder nie as drie keer van regter na regter oorgeplaas is.

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Op 5 Augustus 2016 is die saak wéér uitgestel. Regter Mabuse het uiteindelik op 9 Augustus 2016 uitspraak gelewer waarin hy die saak met koste en sonder redes van die hand gewys het. Die gebrek aan redes vir die uitspraak staan vierkantig in die pad van Helpende Hand se regsverteenwoordigers om appèl aan te teken. Ná verskeie versoeke van Helpende Hand se regsverteenwoordigers het regter Mabuse steeds versuim om redes vir sy onverklaarbare uitspraak te gee.

“Ons was geen ander keuse gelaat nie as om op 30 Augustus 2016 ’n versoek aan die adjunk-regter-president AP Ledwaba te rig ten einde regter Mabuse te dwing om redes vir sy uitspraak te lewer. In ’n skrywe gedateer 2 September 2016 het regter Ledwaba onderneem om per instruksie regter Mabuse te maan om redes vir sy uitspraak te lewer,” het Hermann gesê.

Volgens Riaan du Plooy, hoof van nasionale strukture by Helpende Hand, het die organisasie ’n lang pad met die pasiënte en hul families gestap. “Ons moes ook inspring en help om nog ’n tehuis toe te rus om van die pasiënte te kon akkommodeer wie se families ons versoek het om dit te doen. Ons Mpumalanga-streek is nóú hierby betrokke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dereck Le Roux ·

Sal interesant wees om toe te sien dat kriminele en strafregtelike aksies teen die skuldiges geneem word en nie herontplooing na ander posisies of departemente nie.

w ·

Hukom was regter Mabuse so lamsakkig. Was seke bang vi Gesondheids dept se narre

KOOS ·

ek het ook n kind in cullinan care gehad waarvan ek bewyse het van beserings (fotos) en ek het niks bereik nie ons loop teen n muur vas

HOPE ·

Ja Koos ongelukkig het ek ook al te veel gehoor van mense wat in ouetehuise en in tehuise vir gestremdes en geestelik gestremdes verniel en vermink en vermoor word en daar absoluut NIKS van kom nie. Soms dank hulle een SUSTER af, maak van haar die culprit en gaan voort met hulle bose planne. Dit gaan oor VERWAARLOSING en die HARDHANDIGE hantering van pasiente. Dit kom ook eers uit as iemand ‘n privaat kamera installeer en dophou wat daar aangaan. Die departement sal ook nooit ingryp nie .. wonder altyd of hulle nie van die goed weet, maar net nie OMGEE nie? Toe die eerste pasient gesterf het moes jy mos al ondersoek ingestel het .. jy word wakker na 94?????? RIV en baie simpatie aan die naasbestaandes.!!

EM ·

Goed so

Hoe vorder die klasaksie van Trans/Spoornet pensioenarisse? Hulle sterf een-een verarm, soos Transnet juis hoop hulle doen totdat geeneen van hulle meer oor is nie.

piper ·

kyk mooi. daar gaan niks van kom nie. die rede daar is nie geld betrokke soos by marikana nie, daar is niemaand anders as die staat om van te eis nie. die ngo partye is tien teen een kader besighede wat hulle pond gemaak het terwyl mense sterf. ek dink daar gaan nog baie gevalle na vore kom.

Alida ·

Vir wat dit werd is moet Helpende hand die MRK nader. Ek dink hulle eet ook uit Zuma se hand.

cjm ·

Ek is nie so seker dat hier nie ‘n moordklag skuil nie. Daar is gewaarsku dat die verskuiwing tot sommige pasiënte se dood kan lei. Miskien is die kousale ketting meer problematies maar dolus eventualis is daar wel. As die staat nie wil vervolg nie, is hier ‘n ideale geleentheid om Gerrie ‘n kans te gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.