Klasse by Pta skool ontwrig oor kleefbroeke

Hoёrskool Pretoria-Wes. Foto: Facebook

Beamptes van die Gautengse departement van onderwys is Maandag na Hoёrskool Pretoria-Wes ontplooi nadat leerders Vrydag klasse geboikot het omdat hulle eerder noupassende broeke as gewone wyepyp-broeke as deel van hul skooluniform wil dra.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het gesê die herrie rondom die skooluniform het begin nadat twee “oproerige leerders” ná ʼn dissiplinêre verhoor vir sewe dae geskors is omdat hulle die skool se kleredragkode oortree het.

Die twee leerders was Donderdag weer terug by die skool waar hulle ander leerders by die skool oortuig het om klasse te ontwrig in ʼn poging om die skool te dwing om hulle toe te laat om spanbroeke, ook bekend as kleefbroeke of sogenaamde skinny pants, te dra. Die twee leerders het ook ʼn WhatsApp-groep gestig om sodoende ondersteuning vir die saak te werf.

Lede van die leerderraad was aanvanklik nie deel van die WhatsApp-groep nie, maar is ná die departementele beamptes se besoek aan die skool by die groep ingesluit om die gesprekke daarop te monitor.

“Die onderrigbedrywighede by die skool het vandag [Maandag] normaalweg voortgegaan,” het Mabona gesê. “Die skoolbeheerliggaam het besluit om ʼn vergadering met die ouers van die skool te hou om die saak verder te bespreek. Intussen bly die skool se gedragskode van krag.”

Mabona het gesê dit is “bemoedigend” dat graad 12-leerders Vrydag, ondanks die ontwrigting, toegelaat is om hul voorbereidingseksamen te skryf.

“Die departement veroordeel die leerders se gedrag ten sterkste en doen ʼn beroep op leerders om die beskikbare strukture te gebruik om besware of kommerwekkende kwessies aan te raak eerder as om skoolbedrywighede te ontwrig. Ons doen ʼn beroep op leerders om hulle te weerhou van onwettige betogings, aangesien hul toekoms van hul skoolloopbaan afhang,” het hy gesê.

Panayaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het gesê dit is “teleurstellend” dat die departement se tyd en hulpbronne in beslag geneem word deur geringe kwessies wat nie hul prioriteit behoort te wees nie. “Ons fokus is om die gehalte van onderwys te verbeter en ons is nou besig met voorbereidingseksamens en algemene voorbereiding vir matriekeindeksamens.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

49 Kommentare

Skinny ·

Nee die Departement HOU van hierdie stories. Hulle love dit om hulle tyd te mors met oorbelle en hare, en neusringe en skinnypants, volgende is grimering en hoe-hak skoene . Hulle volg niks ernstigs op nie, dit gaan nie meer oor akademie en die opleiding van kinders nie, dit is ‘n chaotiese besigheid, elke leerder wil nou doen wat hulle wil, se wat hulle wil, hulle wil nie gedissiplineer word nie, hulle wil maak wat hulle wil, kinders op skool grootmaak, ‘n moederskamer he waar hulle babas kan voed, dis LEKKER in die nuwe SA.

Kannaland ·

Dan vra hulle waarom die besigheidswereld buitelanders aanstel en eerder besighede in SA toesluit. In ander lande wil kinders nog leer. Sterkte aan daardie kinders om eendag werk te kry.

A ·

Hoe in hierdie lewe gaan ons ooit weer beheer kry oor die kinders wat handuit ruk. Daar moet dissipline wees – en skooldrag is een van die dinge.

Los jou vervlakste kleredrag uit en doen jou skoolwerk.

Kannaland ·

O glo my die kinders in die buiteland het baie meer dissepliene, is slimmer, werk baie meer effektief. Neewat julle kinders, julle gaan kripeer soos wat globale kompetisie in die arbeidsmark oor julle gaan loop.

Nakkie ·

Ag asseblief. Van al die dinge om oor ‘n tantrum te gooi. En dat dit nou nuuswaardig is, en die departement se aandag geniet is redelik belaglik.

A. Mac ·

Weet nie eintlik wat die onderwysers, ouers en departement dink hulle gaan bereik nie. ‘n Kultuur van totale disrespek vir enige dissipline of orde het al so gerysmier in die skole dat leerders voel hulle kan deesdae net maak en breek soos hulle wil.

Petra ·

Die kinders van vandag is te groot vir hulle skoene, hare, broeke en wat alles nog. Ons het nooit die geleentheid gehad om skoolrëels te probeer verander nie. Ons het net ingeval daarby en ons ouers het geweet dis hoe dit moes wees. Skors die ou bloedjies en kry klaar.

De Villiers ·

Hierdie is net ‘n simptoom van die stelsel wat die ANC self geskep het. Werkers het meer sê en regte as hul werkgewers, skoolkinders kan vir onderwysers voorsê, die polisie moet kriminele met wattehandjies vroetel ens. Klaas is nou baas, en gesaghebbers moenie durf waag om daarteen op te tree nie. Dié stelsel het ‘n klomp rebelle gekweek.

Joe fool ·

…en die uiteindelike gevolg van die verval van morele en geestelike waardes is…totale sefvernietiging…

Nou praat jy ·

Daarom sal dit net net van kwaad na erger gaan, want “Ek het my reg!” Elkeen het “sy reg…”, daarom vlieg hulle mekaar in die hare. En alles eindig in verwoesting – presies die teenoorgestelde van opvoeding.

Karen ·

Dit is teleurtellend dat die LUR vir Onderwys nie sulke onbehoorlike gedrag vasvat nie

Arsène Lupin ·

Die probleme het begin toe hulle die L.O. (voorheen Liggaamlike Oefening) verander het na Lewens Orienteering. Dis die grootste lot bollie waaraan jy kan dink. Kinders het geen respek vir hul ouers, vir hul skole, skool regulasies, of ons land se wette nie. Hulle doen net wat hulle wil. Hoe lank gaan dit nie vat voor al hierdie “demands” oorwaai na ander skole. Bring pakslae terug, dan sal dit baie beter gaan met almal!

Suzette ·

Stem met jou saam Arsène, buiten dit alles waarvoor die kinders geen respek het nie het hulle sowaar ook nie een druppel SELFRESPEK nie. Niks hoegenaamd. Hoeveel spektakels gaan daar nie rondloop op die skoolterrein nie? Van wanneer af tel skoolreëls en skooldrag nie meer nie. O Ja ek het vergeet…. vandat hulle nie meer gedissiplineer mag word nie want as jy net bietjie hard praat word jy vir “aanranding” aangekla. Skors die hele spul en laat hulle by die naaste gym gaan kyk of hulle geleerdheid kan kry. Die verval is pateties verby

Char-Landre Buchling ·

Waar is al die mense wat gese het dis net n haarstyl ensovoorts en hulle tegemoet gekom het….laat die stert die hond swaai. Lyk my dis hoe dit nou is. Mense vergeet die is kinders en dat hulle nie volwasse genoeg is om sekere besluite te maak nie.

LizB ·

Ek weet waarlik nie wat van die samelewing gaan word nie. Hulle gaan maar sukkel as hulle die grootmenswereld betree en elke dag aan ‘n werkgewer gehoor moet gee. Ons word glad nie toegelaat om eers op ‘n Vrydag denims werk toe te dra nie, want dit is eenvoudig die maatskappy se beleid. Mens kan dissipliner vervolg word as jy nie die gedragkode van jou werk nakom nie. Daardie kinders het nog baie om te leer!! Hou jou by jou skoolwerk en bou ‘n toekoms vir jouself, niemand gaan dit vir jou doen nie dit alles hang van jouself af.

christa ·

Dissepline begin by die huis. As die ouers dit toepas sal dit nie by skole handuit ruk nie. Ouers is die sondebokke.

SP ·

Skole het ook n aandeel in hierdie gemors. Hulle laat toe dat kinders bv Vrydae siviele klere kan aantrek teen betaling,hoe belaglik,hou by die reels,alle partye.

Francois le Cochon ·

Presies. Volgens die SA Skolewet Artikel 8: “Behoudens enige toepaslike provinsiale wet moet ‘n beheerliggaam van ‘n openbare skool ‘n gedragskode vir leerders aanvaar ná oorleg met die leerders, ouers en opvoeders van die skool”. Dus, die leerders, ouers, sowel as die skool se opvoeders, moet ten gunste wees van spanbroeke. Die leerders kan dit nie net “demand” nie.

Karma ·

Die grootste probleem hier is dat toe kinderregte by die voordeur ingewaai het, het dissipline en gehoorsaamheid by die agterdeur uitgewaai. Jy mag nie meer jou hande vir een van die bloedjies lig nie, maar hulle mag jou bespoeg, aanrand en beledig. Maar – aan die anderkant – gaan kyk ook in wátter skole vind dié soort gedrag plaas. Beslis nie in die meer gegoede buurte se meer gegoede skole nie. Ek noem hierdie tipe gedrag die 30%-slaagsyfer-sindroom.

Willem Grobler ·

“Gegoede skole” seg jy ou Karma? My ma-hulle was brandarm maar daar was dissipline, maniere en higiëne in ons huis en by ons skool. En by laasgenoemde het ons soggens met gebed en die sing van Die Stem begin…

Wonder maar net ·

Nou wat nou mnr Lesufí….? Toe sussie ‘n Affro wou dra toe is daar gesê sy moet die geleentheid gegun word om haar “culture” uit te leef….maar nou moet die departement se tyd nie gemors word deur sulke onbenullighede soos skinny jeans nie! Die beheerliggaam moet nou “besluit”…maar toe hulle NEE sê vir sussie se Affro toe is die hel los!

Veritas ·

Ek merk my kommentaar het weer verdwyn . Dit verander nog nie my standpunt nie. Kinders moet respek en dissipline by die huis geleer word.

Gavin ·

Dis belaglik, nee wag, dis eksamen tyd en hulle is nie voorberei vir die eksamen. Dis pateties se gedrag. Ek glo die beheerligaam mors nog sy tyd met hierdie snert nie

Onnie ·

Soos my skuilnaam lui is ek self n onnie. Kinders maak deesdae wraggies nt wt hulle wil en kom niks oor ni want hulle is minderjarig, maw te jonk om verantwoordelik gehou te word vi hulle dade. Dus is hulle mos ook minderjarig en onverantwoordelik genoeg om ni wette te kan maak of breek ni, veral ni skoolwette wt al jare nt di beste in kinders voortbring ni. Gaan kyk maar na di respek, dissipline, uitslae en prestasies va skole wt di reëls nog streng toepas. Ongelukkig is ek ni so bevoreg om by een va dai skole te wesi, daarom ken ek di anderkant so goed- ons gedragskode en skoolreëls bestaan nt op papier?

Binx ·

Die probleem het begin toe onnies nie meer mag pakngee nie. ‘N goeie pak slae het nog nooit enige kind skade aangerig nie. Ek verstaan dat sommige onnies dalk die hoender geruk het met lyfstraf maar dit het in my tyd kinders geleer wat reg en verkeerd is.

Staal burger ·

Ek gaan dan maar my dogter met n hotpants en ń bikini top skool toe stuur die somer.

Suzette ·

Ag nee wat Staal burger hier kom nog meer drama. Het jy nou gedink wat gaan die gevolg wees. “Almal diskrimineer teen my en lag agter my rug. Hulle aanvaar my nie, o is rassisties, kry die Departement in” He he het julle al gesien hoe lyk twee speen varkies wat stoei vir asem in ‘n streepsak? Wat dink jy gaan gebeur as daar ‘n paar seuns en meisies is wat vir die spektakels gaan lag. “Face it” regtig dis nie elke meise of vrou wat ‘n kleefbroeke kan dra nie hoor. Soms sien mens op straat maar ‘n paar sleg gestoptes wat dink dis die “in ding” en dit dra asof hulle maar mag , kan of wil ten spyte van ……. Hier kom nog vet pret.

Johanna Botha ·

Die deur is oopgemaak toe lasufi die hare ding toegelaat het en hulle toe aamgeprys was ….wel lasifi jy het nou die bed gemaak so slaap nou daarin …hier kom nog baie meer ontwrigting kyk maar mooi ! Kry SO lekker want hulle dink tog hulle is SO slim en kyk nou

Tessa ·

Jy is in die kol Johanna. En die grootste ontwrigting gaan voor die eksamens plaasvind. Hulle het gesien wat op die Kampusse gebeur, nou begin hulle daarmee in die skole.

Boer ·

En so swaai die stert die hond rond. Hulle moet kom kyk by my huis wat is dissipline. Kry gereeld komplimente oor my Kinders se maniere en respek vir ander mense. Dissipline begin by die ouer huis

Schalk ·

Los die arme kinders uit, more is hulle in elk geval swanger en bly by die huis. Ek moet erken, dit is absoluut wonderlik hoe volwasse mense kinders respekteer, jare terug was dit net anders om.

Leahim ·

Kom ek stel dit dan so by watter skole kom hierdie probleem die meeste voor en gaan dit net vererger?

Se maar net ·

O O, my culture is kaalgat loop. So bly somer is om di draai dan kan ek my kinders kaalgat skool toe stuur.

Peet ·

Ek sal se laat die dogters GEEN lang broeke dra nie!!! Broeke is vir seuns. Dan is daar mos geen probleem nie. As hulle nou wil kla kom ons kyk wat gebeur as dit weer winter is en rok moet dra.

WILLEM ·

Party van die dogters se skoolrompies is reeds so kort dat dit lyk of daar een of ander special op uitverkoping is deesdae! Ek dink n langbroek is dalk maar n veiliger opsie. Let wel n gewone skool langbroek…

Eddie de Jager ·

“Uit die mond van die suigeling”

Die voorbeeld wat vir kinders gestel word sal gevolg word of dit nou so is of nie. Onderbewustelik leer mens die gedrag aan wat vir jou opgedis word. Met soveel alternatiewe leefstyle vandag vind ek dit moeilik om te glo dat dissipline en nog meer, respek en selfrespek, gehandhaaf kan word. Hierdiekinders dink nie nou aan die gevolge van hulle aksies nie. Met ouderdom leer jy. Ek hoop die kinders kan die beginsel van reels insien in plaas van die onmiddelike bevrediging van ‘n modegier.

Uitkyk ·

Vir ‘n onderwyser is die spelling en taalgebruik van Onnie ook kommerwekkend. Ons jeug volg net voorbeelde soos onsself gedoen het. Ongelukkig gaan dit hulle inhaal maar ons hier op ‘n Christelike blad kan positief bly want die situasie betrek ons in hierdie land.

My 5 sent ·

Die probleem lê nie net by dissipline bybdie skole nie… dit is dissipline oral! As jou kind “bang/versigtig” genoeg vir jou as ouer en weet jy sal sy bas velle aftrek. Sal hy in die eerste plek nie waag om ‘n boilot whats app groep te stig nie. Kinders het dit reg gekry om gehoorsame ouers te hê wat eerder teen ‘n onnie sal uitvaar oor ‘n saak as wat hy sy kind ‘n ordentlike pakslae sal gee!

Rupert Ashford ·

Lesufi het self hierdie goedjies begin toe hy die eerste van hierdie tipe insidente eerder as rasse sirkusse hanteer het en die kinders toegelaat het om skoolreels te verontagsaam onder die voorwendsel dat daar teen hulle gediskrimineer is. Nou wil almal kyk waarmee hulle kan wegkom.

Marinda ·

Hierdie kinders is besig om vir die LUR ore aan te sit. Kry maar vir julle. Dis wat gebeur as jy die wette wat saak maak weg vat.

WILLEM ·

Die kinders sien wat in die land aangaan en ongelukkig dink hulle dis reg. Ek meen waar in jou lewe het jy gesien n skool se KINDERS betoog oor kleredrag. Wa is die dae van haar inspeksies? As die dogters se skoolrompe te kort was is dai soom net daar losgeruk. Nee wat daar is GEEN dissipline meer nie. Ek voel rerig bitter jammer vir die kinders in vandag se samelewing. Ek sidder om te dink wat van hule toekoms gaan word wat van SA gaan word met jeug wat nou al oor sulke twak betoog.

jos ·

Daar het jy dit mnr. Lesufi. Die disipline wat by die huis geleer word is om te betoog, plunder, afbrand en ander rondpluk en aanrand as jy nie jou sin kry nie en as die REGTE waardes en disipline toegepas word by skole tree leerders op soos hulle voorbeelde tuis. As daar gebuig word onder die druk en mnr. Lesufi meng in met die reels is dit ‘n resep vir chaos soos onlangs by Kemtonparkse skool plaasgevind het.

BANG JAN SE VROU ·

Ek sien dis ‘n skool in Pretoria-Wes. Meerderheid van daardie kinders kom uit minder gegoede huise en vir al wat ons weet gaan dit nie net oor die “skinny tights” nie, maar ook dat dit dalk AL broekies het om te kan dra. Dit is wel bewys dat deel van ‘n goeie dissipline is dat kinders eenvormige kleredrag dra maar as jy dit nie het nie het jy dit eenvoudig nie!

KONSTABEL ABEL ·

IS ALMAL EN ALLES DAN DEESDAE TEEN DISSIPLINE !! DIT IS SKOOLREELS EN MOET GEHOORSAAM WORD . FINISH EN KLAAR. EK AL VIR BYNA 30 JAAR N POLISIEBEAMPTE , HOE SAL DIT LYK AS ONS LEDE OOK NOU BEGIN AANDRING OM LANG HARE TE DRA EN WELIGE BAARDE MET N PAAR OORBELLE BY DIE UNIFORM. DIE UNIFORM SOMMER OOK VERVANG MET SKINNY PANTS EN “HELP MY STERK LYK VESSIES ” VERRUIL SOMMER DIE SKOENE VIR N PAAR CROCKS. ALMAL WIL TE VEEL REGTE HE EN NIEMAND WIL HUL MEER STEUR AAN DISSIPLINE WAT RESPEK TOT GEVOLG HET NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.