Klasse by UP nie opgeskort; Tuks-student vas vir ‘verkragting’

Studente Dinsdag by die waak op kampus. (Foto: Twitter/UP)

Die bestuur van die Universiteit van Pretoria (UP) sal later vandag vergader om die nodige veiligheidsmaatreëls vir personeel en studente op sy kampusse te hersien en aan te pas indien nodig.

Dít volg te midde van wydverspreide geweld die afgelope week – nie net in die Jakarandastad nie maar ook die res van die land.

Rikus Delport, woordvoerder van die universiteit, het aan Maroela Media gesê daar heers vandeesweek ʼn atmosfeer van lewendige debat op kampus rakende geweld.

ʼn Waak is Dinsdag by ʼn stampvol amfiteater op die universiteit se Hatfield-kampus gehou uit solidariteit met die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld, veral studente.

Dit ná die onlangse moord van die Ikeys-student Uyinene Mrwetyana. Sy is by ʼn poskantoor in Claremont verkrag en vermoor.

“Die ontydige dood van ʼn student in Kaapstad en die onlangse aanvalle op buitelandse burgers [in die Pretoriase middestad] weerspieël die uiterste en onaanvaarbare vlakke van geweld wat in ons samelewing deurdring. Ons veroordeel alle vorme van geweld in die algemeen en geslagsgebaseerde en xenofobiese geweld ten sterkste,” het prof. Tawana Kupe, die UP se visekanselier en rektor, in ʼn verklaring gesê.

Dié verklaring volg ʼn dag nadat ʼn nagraadse student aan die UP vir die beweerde verkragting van ʼn medestudent in Hatfield in hegtenis geneem is.

Studente Dinsdag by die waak op kampus. (Foto: Twitter/UP)

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn groep studente het Maandagaand in dié studentevoorstad betoog in aandrang daarop dat ʼn beweerde verkragter (22) in hegtenis geneem word.

Volgens Weilbach is twiets vroeër onder studente versprei waarin die verdagte se blyplek bekend gemaak is.

ʼn Student (19) het na vore gekom en ʼn saak van verkragting by die Brooklyn-polisiestasie aanhangig gemaak waarin sy beweer dat sy in September verlede jaar deur die nagraadse student in die woonstelblok waar hy woon, verkrag is. Sy het ten tyde van die voorval by haar vriendin gekuier wat ook in die woonstelbok woon. Die verdagte is intussen in hegtenis geneem.

Maandag se betoging het nie op kampus plaasgevind nie. Delport het dus gerugte dat klasse weens betogings op die Hatfield-kampus opgeskort is in die kiem gesmoor.

“Klasse by die UP gaan in dié stadium voort hangende die uitkoms van vandag se bestuursvergadering.”

Hy verduidelik dat sekere fakulteite wel individuele reëlings met studente getref het rakende semestertoetse wat vandeesweek geskryf sou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Moet eerlik sê, as ek so na daai foto van die studente kyk is ek bitter bly ek was in die laat 90’s ‘n student by Tukkies. Snaaks ons het daai jare geen probleme met geweld, misdaad of wanorde op kampus gehad nie. Ook nie in Hatfield nie. Studente was daar om te swot en tussen-in goeie studente-pret te hê. Ek wonder wat het verander…

Deon ·

Ek was op Tuks van 1977 tot 1980. Toe het dit baie anders gelyk.

Suid-Afrikaner ·

Nou skielik verkragting klagte? Kan seker waar wees en weens vrees ens nie aangemeld. Maar laat my wonder nou dat klimaat reg is vir so iets. Maak geen fout ek het volle empatie met verkragtingslagoffers maar alles moet altyd in perspektief gesien en benader word.

aj ·

Daar is altyd een of ander grief wat opduik soos wat die eksamen naderkom!

Dan “kook die WOEDE oor” … bande word gebrand en geboue gevandaliseer.

Sodat die eksamen ontwrig word … en ‘n “pass one pass all” ge”demand” word.

O ja … iewers sal ‘Apartheid privilege’ geskreeu word ” asook “white monopoly capital” en ‘colonialism’.

Kom gradeplegtigheid dan is almal daar!

B ·

Jy weet nie waarvan jy praat. By Tuks verloop alles glad die afgelope ~twee jaar.
Dogter het juis die week nog semestertoetse geskryf en alles is vreedsaam, eintlik heers daar goeie harmonie op die kampus.

Marius ·

Ek het afgestudeer 1987 – B.Sc[Ed]-Honneurs. Daar was geen probleme ooit gewees op kampus nie. Ek woon en werk sedert 2003 in Australie en was 2014 in Suid-Afrika op besoek en het van my sitplek amper afgeval om te gesien het hoe het Hatfield, die kampus self totaal verander het. Ek’t my huurmotor geparkeer en deur die kampus geloop vanaf Admin, biblioteek, die nuwe geboue voor Landbou, ens en geeindig by die grasperk oorkant Geografie voor die Aula. Die veranderinge is goed, geen probleem daarmee nie, maar politiek/ geweld/ intimidasie op kampus moet en behoort geensins geduld te word nie. Voorgraadse studente moet studeer en hul tyd verantwoordelik geniet, na-graadse studente moet navors en eintlik as mentors dien en P.HD-studente is altyd die hoofpunt van gradeplegtighede, want dit vat jare se werk om daar te kom. Groete!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.