Klasse verder opgeskort by TUT weens betogings

'n Bus het op 9 September 2014 by TUT uitgebrand tydens studentebetogings oor NSFAS Foto aan Maroela Media verskaf

‘n Bus het op 9 September 2014 by TUT uitgebrand tydens studentebetogings oor NSFAS Foto aan Maroela Media verskaf

Die Tshwane Universiteit van Tegnologie het gesê betogings Dinsdag by twee van sy kampusse was onwettig en alle klasse is ook vir Woensdag opgeskort.

“Die universiteit veroordeel ten sterkste die gewelddadige en onwettige betogings,” het Willa de Ruyter, woordvoerder vir TUT, in ʼn verklaring gesê. Die betogings het Dinsdagoggend by die Pretoria- en Ga-Rankuwa-kampusse plaasgevind. “Die leierskap het nie die ooreengekome protokol gevolg wat vereis word voordat betogings plaasvind nie. Die studente se deelname aan die betoging is boonop in stryd met ʼn interdik wat die universiteit vroeër vanjaar bekom het.”

TUT het vroeër vanjaar ʼn hofbevel bekom wat onwettige betogings by die universiteit verhoed.

“Alle akademiese aktiwiteit is vir Dinsdag en Woensdag opgeskort om die veiligheid van studente en personeellede te verseker,” het De Ruyter bygevoeg. “Daar is gerugte dat die betoging verband hou met ʼn tekort aan studentefinansiering, maar die universiteit kan slegs fondse, wat deur die departement van hoër onderwys beskikbaar gestel word, versprei. Altesaam R644 miljoen van NSFAS-fondse is vanjaar aan studente by TUT beskikbaar gestel.” Sy het gesê die universiteit het 4 359 eerstejaarstudente en 13 550 terugkerende studente met NSFAS-fondse gehelp.

De Ruyter sê dit is kommerwekkend dat ʼn klein aantal studente die akademiese belange van nagenoeg 50 000 ander studente kan ontwrig. “Die universiteit vra om verskoning aan studente en die ouers van studente wat negatief geraak word deur die betogings.”

Lees ook:
Foto’s: Klasse by TUT opgeskort weens betogings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Drieks ·

‘n hof bevel in ons land beteken niks. Die zumas het ons mos mooi geleer.

Manna Pieters ·

Stuur hulle huis toe en gee die wat wil leer ‘n kans.

Martie ·

Dit maak my warm onder die kraag om te dink dat baie kinders nie Universiteit toe kon gaan omdat hul ouers nie die geld gahad het om hulle te stuur nie, vandag is dit “give me, give me”. Hierdie studente moet maar ‘n werkie kry en vir hul eie studies betaal soos dit nog altyd was voor alles net oorgegee is. Hulle bly vra maar intussen vernietig hulle alles om hulle, sluit die skole en Universiteite sodat hulle barbare bly en die wat wil leer, slegs hulle word toegelaat!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.