Klasse weer by UKZN opgeskort

Die Howard-kollege van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN). Foto: http://law.ukzn.ac.za/

Die Howard-kollege van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN). Foto: http://law.ukzn.ac.za/

Lesings op al vyf kampusse van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) is Maandag weereens opgeskort.

Lesiba Seshoka, woordvoerder van die universiteit, het Maandagoggend in ʼn kort verklaring gesê die universiteitbestuur het besluit om alle akademiese bedrywighede vir die dag op te skort. “Die besluit is geneem ná ʼn gesprek met die studenteraad en is in die beste belang van die universiteit,” het Seshoka gesê.

Lesings sal na verwagting Dinsdag weer hervat word.

Lesings by UKZN is verlede week Donderdag en Vrydag opgeskort nadat betogings op die universiteit se Pietermaritzburg- en Westville-kampusse gewelddadig geraak het. Studente dring aan op geen verhoging in studiefooie vir 2017 nie. Hoewel betogings slegs op die twee kampusse plaasgevind het, is klasse op al die kampusse gestaak.

Polisiebeamptes moes verlede week rubberkoeëls afvuur om betogende studente in bedwang te bring en twee studente is op die Pietermaritzburg-kampus in hegtenis geneem.

Studente het ook ʼn protesaksie oor lewensomstandighede in Yusuf Dadoostraat in sentrale Durban gehou en die straat tydens spitsverkeer afgesper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boela ·

Hier gaan ons alweer! Enigiemand wat gedink het dat verlede jaar se kampusmoleste ‘n eenmalig gebeurtenis was, is duidelik naïef (en dit sluit ons onagbare president in). Die realiteit is dat gratis hoër onderwys eenvoudig nie in Suid-Afrika moontlik is nie, en hoe gouer iemand dit vir die stiksienige regering en die rampokker-studente sê, hoe beter.

Armando ·

Dit is moeilik, baie moeilik, om te glo dat hierdie rampokkers, so te kere sal gaan sodat hulle klasse kan bywoon en dat hulle studies ongestoord sal voortgaan. Ek, vir een, glo dit nie. Ek dink, omdat dit helder duidelik is vir enige een wat kan sien, dat dit oor ‘n heenkome is vir ‘n jaar of drie, vier, vyf. As hulle dan nog in koshuise ook uitgeplaas word, so veel te beter! Wat wil jy beter hê? Of dink u regtig hulle sal baklei vir die voorreg om te studeer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.