Klastyd dalk vir ekstra opleiding gebruik

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum is bekommerd dat talle leerders in Suid-Afrikaanse skole vanjaar dalk op Maandae sonder onderwysers sal wees. Dít volg na die aankondiging dat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, dit goed gedink het om graad 8 en 9 wiskunde-onderwysers 23 weke lank op Maandae in skooltyd vir bykomende opleiding te stuur.

Carien Bloem, hoof van AfriForum se onderwysveldtogte, sê dit moet in ag geneem word dat onderwysers reeds sukkel om deur die jaarlikse kurrikulum te werk.

“Onderwysers sal nou verskeie klasperiodes per week verloor. Alle graad 8 en 9 onderwysers bied ook nie net wiskunde aan nie, wat beteken dat ander vakgebiede ook gaan skade ly as gevolg van die besluit,” het Bloem gesê.

Die Personeel Administrasie Maatreëls (PAM) bepaal dat ’n onderwyser 1800 ure per jaar diens aan die skool moet lewer. Dit bepaal ook dat onderwysers nie minder as 7 ure per dag by die skool mag wees nie. “Met die destydse CAPS-opleiding moes onderwysers hulle naweke en vakansies opoffer vir die opleiding. Indien wiskunde-onderwysers bykomende opleiding benodig, kan dié reëling eerder weer toegepas word,” het Bloem bygevoeg.

AfriForum meen dat minister Motshekga die besluit moet herbesin, maar verwelkom terselfdertyd dat die gehalte van wiskunde-onderrig in skole prioriteit geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

scalla ·

dit is mos n bewys van onbevoegde aanstellings/kwalifikasies ens, dit gaan met al die ander staatsdepartemente ook so, kan hulle dit nie of wil hul dit nie besef nie, viva

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.