Klawer: Beskuldigde wag nog op bed in Valkenberg

Daniel Smit (Foto verskaf deur die NVG)

Die man van Klawer wat beskuldig word van die moord op die 13-jarige Jerobejin van Wyk, wag steeds op ’n bed in die Valkenberg- psigiatriese hospitaal.

Daniel Smit (56) het Maandag vir die vierde keer in die plaaslike landdroshof verskyn voordat die saak weer met sowat ’n maand uitgestel is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Smit sal nou weer op 21 Junie in die hof moet verskyn. Intussen wag hy op ’n bed by die Valkenberg- psigiatriese hospitaal waarheen hy tydens sy vorige verskyning vir 30 dae-waarneming verwys is.

Die verdediging het sowat ’n maand gelede aansoek gedoen dat Smit na die hospitaal verwys moet word ná ʼn verslag van ʼn sielkundige. “Die sielkundige het verskeie punte uitgelig wat deur ʼn psigiater ondersoek moet word,” het die verdediging toe verduidelik.

Die staat het nie die aansoek teengestaan nie.

Jerobejin het in Februarie vanjaar verdwyn nadat hy glo vrugte by Smit se huis in Klawer naby Vredendal gesteel het. Smit het die tiener daarna glo agternagesit en hy is nie weer gesien nie. Smit is in hegtenis geneem nadat menslike oorskot in ʼn rioolpyp op sy erf gevind is.

Volgens die sielkundige se verslag is die beskuldigde al sedert ʼn jong ouderdom by Chinese okkultiese rituele betrokke en hy het geglo dit het hom mag gegee en sy dade regverdig. Volgens die verslag het Smit op 2 Februarie vanjaar twee seuns in sy erf opgemerk wat vrugte steel. Smit voer aan Jerobejin het hom geterg en hy het sy selfbeheersing verloor. Hy het Jerobejin met sy motor agternagesit. Hy het die seun gestamp en hom in die motor ingetrek. By sy huis het hy eers vir die seun brood en koeldrank gegee en toe sy nek gebreek.

Smit se 20-jarige dogter was ten tyde van die voorval by die huis, maar nie bewus van wat gebeur het nie. Jerobejin se liggaam is in die vrieskas geplaas.

Smit het ná aandete glo vir sy dogter slaappille gegee sodat hy ʼn voorafbeplande ritueel kon uitvoer. Hy het, volgens die sielkundige se verslag, die liggaam geskend en die liggaamsdele met teerpale verbrand. Hy het daarna die oorskot in die septiese tenk gegooi waar munisipale werkers daarop afgekom het.

Hy staan nou tereg moord, poging tot moord, ontvoering, dwarsboming van die gereg en versuim om ʼn ongeluk by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hannelie ·

Dis nonsens!!! Moord bly moord!!! Moet Jy sielkundig siek of by okkulte betrokke wees om te kan moor???
Hy moet nie eens ‘n prokureur hê nie glo my hy het presies geweet wat hy doen.

RB ·

Hy het geen sielkundige evaluering nodig nie. Mens noem dit ‘van die duiwel’ want hierdie is baie beslis een van sy trawante. Geen straf op hierdie aarde is genoeg vir hom nie. Hy moet wel baie ver gebere word ter wille van ander se veiligheid.
Dat hy gaan boet vir sy dade is absoluut seker.

Toy ·

Hy gee sy dogter slaappille in so hy het geweet hy gaan iets doen wat verkeerd is.

Mariana ·

Soos dit klink het hy presies geweet waarmee hy besig was. Nee hy moet sy straf kry. Hy het ‘n kind vermoor op ‘n grusame wyse. Mal is hy nie. Hy is ‘n moordenaar.

Swerwer ·

Vieslik, siek verby. Geen normale mens kan sulke dade doen nie. Chinese okkultiese rituele? en die Regering is besig om ons land aan die Chinese te verkoop met al die lenings en hulp wat hul van die Chinese aanvaar.

Shakespeare ·

Satan was verseker in beheer……..en Smit het hom toegelaat. Hartseer !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.