Klebsiella-uitbreking: Babas bly in hospitaal

Argieffoto

Die departement van gesondheid in Gauteng het bevestig die babas in die Thelle Mogoerane-hospitaal in Vosloorus, waar ʼn uitbreking van antibiotikaweerstandige Klebsiella voorheen bevestig is, sal nié uit die hospitaal verskuif word nie.

Die bevestiging kom ondanks dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, se aankondiging Sondag dat die babas in dié hospitaal in Ekurhuleni na die Charlotte Maxeke-hospitaal en die Nelson Mandela-kinderhospitaal verskuif sou word.

Buan Jones, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) in Gauteng, het aan Maroela Media bevestig dat hy Woensdag die hospitaal besoek het en ʼn perseelinspeksie uitgevoer het.

“Daar was steeds babas in die saal. Ons het met personeel gepraat en daar was aantygings van oorbevolking en swak higiëniese toestande in die hospitaal wat glo al aan die bestuur gerapporteer is, maar geïgnoreer is. Dit het wel op sigwaarde skoon gelyk, maar die personeel sal beter weet,” het Jones gesê.

Dr. Medupi Modisane, die hoof van hospitaaldienste in Gauteng, het gesê dat hulle ná deeglike oorweging besluit het die risiko’s weeg swaarder as die voordele daaraan verbonde om die babas te verskuif.

“ʼn Plan om die sorg vir die babas te ondersteun [met hulpbronne] van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal en die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal is in werking gestel,” het Modisane gesê.

Vuyo Sabani, woordvoerder van die departement van gesondheid, het bevestig daar is ses babas dood in die Thelle Mogoerane-hospitaal sedert die uitbreking. “Ons kan bevestig dat 11 babas Klebsiella opgedoen het sedert 11 Julie, waarvan ses gesterf het.”

Die oorlewende babas, wat met die bakterie besmet is, is geïsoleer om verdere infeksie te voorkom. Die neonatale en kraamsale is deeglik geskrop en nuwe pasiënte is na ander hospitale verwys.

Maroela Media het vroeër berig teen 9 September het vyf babas reeds gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.