“Ayden het sy engelvlerkies gekry en hardloop nou saam met sy Pappa Jesus rond in die hemel …”
Dít was die boodskap wat Estelle Nortjé Maandag aan die meer as 4 000 volgelinge op die Facebook-blad, Bid vir Ayden, gedeel het nadat haar driejarige seuntjie sy gesondheidstryd verloor het.
Klein Ayden van Niekerk is Maandagaand by ʼn plaaslike kliniek op Lydenburg in Mpumalanga dood – skaars twee weke nadat hy op 1 November sy derde verjaardag gevier het, en ongeveer twee jaar nadat hy ʼn toeval gehad het wat hom met permanente breinskade gelaat het.
Nortjé het Ayden Maandag as hul klein “superhero” beskryf en gesê dat hy nou vry is van al die pyn wat hy moes verduur.
Maroela Media het destyds berig dat die toeval wat Ayden in Mei 2021 gehad het, ook tot hartverlamming, suurstoftekort (hipoksie) en iskemiese enkefalopatie gelei het. Sy ma het destyds gesê dat haar seuntjie gevolglik 20% van sy breinvolume verloor het.
Daar is aanvanklik vermoed dat Ayden aan ʼn stukkie biltong verstik het, maar dokters het later vasgestel dat dit nooit die geval was nie.
Ayden se gesondheid het van daar af wipplank gery en hy het oor die afgelope twee jaar baie terugslae beleef.
Hy is op sy verjaardag vanjaar in die Nelspruit Mediclinic op Mbombela opgeneem nadat daar bloed by sy neus, mond en voedingsbuis begin uitloop het.
Sy infeksietelling was baie hoog en daar was aanduidings dat sy lewer nie reg funksioneer nie aangesien dié orgaantelling ook baie verhoog was.
Kort daarna het Nortjé gesê dat Ayden se lewer in ʼn stadium van versaking is.

Ayden van Niekerk voordat hy in Mei 2021 ’n toeval gekry het wat hom met breinskade gelaat het. (Foto: Verskaf / Estelle Nortjé)
“Ayden se lyfie is te swak vir ʼn leweroorplanting en sy neurologiese toestand laat dit nie toe nie …
“… al wat nou oorbly, is om die lewer te behandel met wat beskibaar is totdat die lewer besluit hy’t genoeg gehad,” het Nortjé vroeër die maand gesê.
Enkele dae later het Nortjé die hartseer nuus oor Ayden se afsterwe gedeel.
“My engelkind, ek hoop jou vlerkies is so helder en so amazing soos wat jy was. Ek hoop Liewe Jesus hou jou styf vas en soen jou meer as wat ek jou ooit kon soen. Ek’s lief vir jou!!! Vir altyd en nog meer …”
ʼn Gedenkdiens vir Ayden word Donderdag in Lydenburg gehou. Nortjé beskryf dit as ʼn “viering van ʼn nuwe begin vir Ayden”.
Die diens sal regstreeks op Facebook uitgesaai word.
Bitter hartseer, my innige simpatie.
in sy naam HalleluYAH.
Ma, my hart gaan na jou uit. Ek bid vertroosting vir jou af. Amen
Hoe seer is my hart nou..
Dis ontsettend tragies
So hartseer .
Ai so hartseer huil saam met sy mamma sterkte !!!!!!!!!
Dit is so hartseer as so ‘n kleinding sterf. Almal se lewens is kosbaar maar ai….I nige simpatie aan sy ouers.
Ai tog, so bitter jammer ! Maar hy is nou ‘n engel soos die mamma sê. Innige sipmatie aan die familie !
Dit is so verskriklik hartseer en vrae is daar baie maar geen antwoorde nie.Ons baba is in in 1987 oorlede,tien minute na sy geboorte en ons was verpletter en 2 jaar later is sy boetie gebore wat vandag ‘n suksesvolle professionele jagter is.Ek glo onwrikbaar dat alles met ‘n doel gebeur.Sterkte mamma.
Ai mamma. My hart breek vir jou en jou familie. Baie sterkte vir elke dag wat voorlê. Mag hy lekker by Jesus bly en jou plekkie daar mooi maak vir eendag x
Ek bid vir jou dat Jesus sy arms styf om jou vou en jy vertroosting by Hom kry.
Baie sterkte vorentoe.