‘Klein brand’ breek uit by Germiston-hospitaal

Bertha Gxowa-hospitaal in Germiston (Foto: Bertha Gxowa Hospital/Facebook)

Die Gautengse departement van gesondheid het bevestig niemand is beseer toe ʼn brand Vrydagmiddag by die Bertha Gxowa-hospitaal in Germiston uitgebreek het nie.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, sê ʼn pasiënt wat in die psigiatriesaal vir mans opgeneem is, het omstreeks 15:00 ʼn sigaret aangesteek en die vuurhoutjie op ʼn kombers in sy afsonderingskamer gegooi.

“Dit het ʼn klein brand veroorsaak. Gelukkig is geen beserings aangemeld nie,” het Modiba bygevoeg.

Personeel en die bestuur van die hospitaal het dadelik stappe gedoen om die veiligheid en welstand van pasiënte in die saal te verseker.

“Die betrokke afsonderingskamer is deur ʼn spesialis van omgewingsgesondheid ondersoek vir voldoening aan veiligheidstandaarde. Die kamer is intussen gesluit om verfwerk op te knap.”

Die pasiënt is na ʼn ander afsonderingskamer in ʼn ander saal geskuif om sy behandeling voort te sit.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys dat ʼn vroulike besoeker ʼn sigaret en vuurhoutjieboks vir die pasiënt ingesmokkel het. “Die saak is by die polisie aangemeld.”

Die departement doen ʼn beroep op die publiek om nie enige verbode middels by gesondheidsfasiliteite in te smokkel nie. “Dit plaas die pasiënte en werknemers se lewens in gevaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Askies, maar “since” when mag mens nog deesdae rook in openbare geboue?????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.