Klein Eon Maree steeds op suurstof

Eon Maree (drie maande) het verlede week positief vir Covid-19 getoets. (Foto: Verskaf)

Dit gaan onder die omstandighede goed met die drie maande oue Eon Maree wat tans in die Mediclinic Highveld op Trichardt in Mpumalanga vir Covid-19 behandel word.

Die babaseuntjie is Donderdag in die hospitaal opgeneem nadat hy en sy ma, Jeanine, ʼn dag tevore positief vir Covid-19 getoets het.

Eon word in ʼn kindersaal van die hospitaal behandel en ontvang steeds suurstof. Dokters het hom gister van die suurstof probeer afhaal, maar sy suurstofvlakke daal steeds te laag. Hulle het vandag weer probeer, maar dit hou aan val, sê Jeanine.

“Hy moet eers 24 uur van die suurstof af wees voor hy kan huis toe gaan. Ons sal elke dag probeer.”

Eon hoes ook steeds, ʼn simptoom wat waarskynlik nog ʼn geruime tyd gaan voortduur, en sukkel met ʼn toe neus. Hy het Sondagaand egter goed geslaap en eet ten minste.

Die drie maande oue Eon Maree word steeds in ‘n hospitaal behandel nadat hy Covid-19 opgedoen het. (Foto: Verskaf)

Jeanine, wat self ʼn kwaai weergawe van die virus onder lede het, het die afgelope paar dae veral gesukkel met koors. “Die dokter het vir my antibiotika voorgeskryf. Ek is beter, maar dié plek sluk ʼn mens in,” het sy gesê van waar sy steeds langs Eon se hospitaalbedjie waak.

Jeanine se man, Hein, het vroeër verlede week ook positief vir die koronavirus getoets en sien tuis om na die egpaar se twee jaar oue dogtertjie, Chanine. Sy het in Desember verlede jaar positief vir die virus getoets en is dae lank in dieselfde hospitaal behandel.

Die gesin is van Secunda waar Hein vir Sasol werk en Jeanine haar eie aanlyn onderneming bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SomeOne ·

afgesien dat ons vir eon vra om te fight, moet ons nie net ook vir Liewe Jesus ook vra om vir eon te spaar en met Sy Hande die genesing te gee

Tokkel ·

Ons sal bid en aanhou bid vir jou. Sterkte aan die ouers…

Skappie ·

Liewe Heer, hou vir klein Eon en sy mamma en pappa styf in U arms vas. As dit U wil is laat hulle almal ten volle herstel.

madels ·

Sterkte mag die Here jou kragtig aanraak en daai lyfie nou genees

Blomme ·

Hou goeie moed Maree familie. Ons glo alles sal wel wees vir julle.

Irene ·

Baie sterkte vir julle gesin. Ons bid vir julld almal se volle herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.