Klein-Kariba-vloed: Bejaarde se liggaam gevind

Die onderwater swembad waarin die bejaardes glo was toe die vloedwater hulle meegesleur het.

Die onderdakswembad waarin die bejaardes glo was toe die vloedwater hulle meegesleur het.

Die liggaam van een van die bejaardes wat Vrydagmiddag by die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord deur ʼn fratsvloed meegesleur is, is Saterdag gevind.

Eric ­Sparrow (74) en sy vrou, Elizabeth, was in die onderdakswembad van die oord toe die vloedwater hulle meegesleur het.

Dr. Wim de Wet, die oordbestuurder van Klein Kariba, het Sondag aan Maroela Media gesê reddingswerkers het Eric se liggaam Saterdag omstreeks 11:00 gevind. Sy vrou word nog vermis.

“Ons personeel is tans op trapbootjies op die rivier en fynkam die gebied om na haar te soek,” het hy gesê.

Maroela Media het Saterdag berig die bejaarde egpaar was dagbesoekers van Bela-Bela.

De Wet het Vrydagaand ʼn verklaring uitgereik waarin hy gesê het swaar reënval sedert Donderdag het ‘n bogemiddelde vloei van water deur die oord tot gevolg gehad. Nagenoeg 150mm reënval is gemeet.

“Vrydag net ná 13:00 het ons ʼn berig ontvang dat ʼn damwal by ‘n oord aan die bokant van Klein-Kariba gebreek het. Binne sekondes het ‘n watermassa die oord getref en is die restaurant, winkel en binneswembad oorstroom. Kleiner geboue en strukture is saam met voertuie wat by die winkel geparkeer was, meegesleur,” het De Wet gesê.

Verskeie voertuie het stroomaf teen bome vasgespoel en een voertuig is tot teen die damwal by die gholfbaan meegesleur.

“Personeel het dadelik twee noodstasies ingerig, aangesien die oord deur die vloedwater in twee dele verdeel is. Stappe is dadelik geneem om gaste op te spoor en om hul veiligheid te verseker deur hulle na hoogliggende berghuise te neem. Elektrisiteit en watertoevoer is nie in dié gebiede ontwrig nie.”

Klik hier om vloedfoto’s van die oord te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.