Klein-Kariba weer oop ná vloedskade

Foto's: Verskaf

Foto’s: Verskaf

Meer foto’s volg onderaan die berig.

Die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord in Bela-Bela, Limpopo, is ná ses maande en miljoene rande se opknappings- en herstelwerk weer gereed om sy deure vir besoekers oop te maak. Die oord moes in Maart sluit nadat twee vloede kort na mekaar die oord getref het. Twee bejaardes is ook tydens die vloede dood.

“Ons is baie opgewonde om te kan sê dat gaste weer van Maandag af by die oord kan kom ontspan,” het Riaan Maritz, die oord se bemarkingsbestuurder, Vrydag aan Maroela Media gesê. “Ons het baie skade gehad, maar kan nou met ʼn nuwe, meer moderne en veilige oord spog. Daar is veral gefokus op opknappingswerk aan die rivier om vloede beter te kan hanteer.”

Maritz het gesê die rivier is ses meter breër gemaak en die walle en draaipunte is versterk. Die brûe wat tydens die vloede weggespoel het, is heeltemal oorgebou en kan ook nou ʼn groter volume water hanteer.

Die oord spog ook met ʼn splinternuwe winkel wat vergroot en meer modern is. Die warmwater-onderdakswembad is ook oorgedoen en lyk nou heeltemal anders. Die karavaanstaanplekke het skadunette en direkte rioolkoppeling bygekry.

“Daar is regtig ʼn aangename gevoel in die oord, met baie meer ruimte. Alhoewel die oord ʼn gedaanteverwisseling ondergaan het, behou dit steeds sy karakter waarvoor almal lief geword het,” het Maritz bygevoeg.

Volgens Maritz is personeel by die oord oorweldig deur die ondersteuning wat hulle oor die afgelope tyd van die publiek ontvang het. “Ons is omtrent weekliks deur instansies, jeuggroepe, kerkgroepe en selfs die Voortrekkers genader om te hoor of hulle ons kan help opruim. Mense wou ook weekliks weet wat hulle kan doen om te help en wanneer hulle weer kan kom kamp. Vir die publiek is Klein-Kariba vir hulle soos hul eie plekkie.”

Hy het gesê besprekings vir September is reeds volop, maar daar is nog steeds plek beskikbaar.

Maroela Media het vroeër berig oor die tragedie wat op 7 Maart by die oord plaasgevind het. ʼn Bejaarde egpaar, Elizabeth en Eric Sparrow, is dood toe hulle tydens die eerste vloed deur vloedwater meegesleur is. Eric se liggaam is op 8 Maart gevind, maar Elizabeth se liggaam is eers op 16 Maart deur die polisie se soek-en reddingseenheid in die Klein-Kariba-dam opgespoor. Die oord het ná die eerste vloed sy deure vir die publiek gesluit.

Lees ook:
Klein-Kariba: Bejaarde vrou se liggaam gevind
Tweede vloed tref Klein-Kariba-oord
Klein-Kariba: Vrou steeds vermis; oord gesluit met miljoene rand se skade
Klein-Kariba-vloed: Bejaarde vrou word steeds vermis
Video: Vloedwater by Klein-Kariba-oord
Klein-Kariba-vloed: Bejaarde se liggaam gevind
Foto’s: Twee bejaardes vermis ná vloed by Klein-Kariba

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hettie van Tonder ·

Ons wil graag kom kamp en hoe kan ons bespreek, ons is 2 bejaardes en wil vanaf 28 – 30 November 2014 met n karavaan kom kamp.
n Spoedige antwoord sal waardeer word.
Baie dankie,
Hettie van Tonder

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.