Klein Leah ‘besige bytjie’ ses jaar ná operasie

Leah-Marie se ouers beskryf haar as hul ‘besige bytjie’ (Foto: Verskaf(

Ses jaar ná Leah-Marie van der Riet as baba ʼn baanbreker-operasie ondergaan het om vir haar ʼn borsbeen te bou, is sy blakend gesond en lief vir die lewe. Sy is sonder ʼn borsbeen gebore en op ses maande het sy ʼn operasie ondergaan wat nog nie voorheen in Suid-Afrika uitgevoer is nie.

Vandag is sy ʼn aktiewe en gesonde sesjarige dogtertjie en behalwe vir die letsel aan haar bors, gaan sy aan asof die operasie nooit gebeur het nie.

Leah-Marie het vanjaar met gr.1 aan Welkom Volkskool begin en volgens haar ma, Manda, blink sy uit op die netbalbaan.

“Sy is ons besige bytjie en pak als met ʼn huppel in die stap aan,” vertel Manda.

Leah-Marie is op 15 Oktober 2016, ʼn maand te vroeg gebore en het nie ʼn borsbeen gehad nie. Dokters het dié geboortedefek nie tydens die swangerskap opgemerk nie.

Dit was die eerste van dié tipe gevalle in Suid-Afrika, en sou beteken dat belangrike organe soos haar slukderm en die hoofslagaar na haar hart beskadig kon word as sy ’n hou teen die bors sou kry.

Die dokters het later gesien Leah-Marie se borsbeen is aan die onderkant van haar bolyf met ʼn baie klein stukkie geheg en dat die gaping in ʼn U-vorm was.

Leah-Marie moes ʼn operasie ondergaan, waartydens die beentjie aan die onderkant in ʼn V-vorm gesny en die twee gedeeltes aan elke kant na mekaar toe getrek is. Dokters het ook die boonste drie ribbes aan elke kant met 5 mm elk verleng om te verhoed dat die borskas te styf is en te sorg dat daar meer ruimte vir haar organe is.

Leah-Marie was sedert 2017 nog nie weer by die dokter vir ʼn opvolgbesoek nie. Sy het in dieselfde jaar haar laaste X-strale gekry en daarvolgens was dit duidelik dat dié klein vegtertjie volkome van die operasie herstel het. Geen opvolgoperasies of doktersbesoeke was dus nodig nie.

Volgens Manda gaan dit nou baie goed met Leah-Marie en is sy ʼn gesonde, normale kind. “Sy het geen newe-effekte of probleme van die operasie oorgehou nie.”

Manda vertel die herstelproses was lank en moeilik, aangesien nie sy of haar man, Le Sueur, tot ʼn jaar ná die operasie vir Leah-Marie onder haar arms mag opgetel het nie. Leah-Marie mag ook aan niks gestoot of getrek het nie. Dit was om te verseker dat al die bene mooi vasgroei en heg en dat daar nie misvorming in die bene ontstaan nie.

“Ons was so bekommerd dat die operasie Leah-Marie se groot mylpale kan beïnvloed – soos kruip en loop, omdat sy nie weens die operasie op haar maag mag gelê het nie.

“Ná ʼn jaar het die dokters gesê sy mag nou wel op haar maag lê en dit was nie eers ʼn maand daarna nie, toe begin sy kruip. ʼn Maand later het sy al opgestaan en geloop.”

Leah-Marie in aksie op die netbalbaan (Foto: Verskaf)

Manda kan nie uitgepraat raak oor Leah-Marie se talent op die netbalbaan nie en sê haar aktiewe dogtertjie speel meer as een posisie. “Hulle gebruik haar orals op die baan”.

Leah-Marie is nie bang vir ʼn uitdaging nie en hanteer gr.1 baie goed. “Sy voel nie gou bang of geïntimideerd nie.”

Sy kan nie self die operasie onthou nie, maar het ʼn ruk terug gevra oor die sny op haar bors. Haar ouers het vir haar verduidelik wat gebeur het en dat sy nie moet toelaat dat maatjies aan haar bors druk of stamp nie.

“As ʼn mamma is ek bang sy kry seer en is ek oorversigtig omdat sy so rof en besig is. Sy het egter haar eie wil en laat haar nie voorsê nie.”

Die egpaar het in Oktober ʼn babaseuntjie ryker geword en Leah-Marie is vandag ʼn trotse ousus.

“Ons was skepties om nog ʼn baba te kry en het daarom ʼn rukkie gewag voor ons weer swanger geraak het. Ons is baie dankbaar dat ons seuntjie gesond is en die geboorte goed afgeloop het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.